Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Waar lê die begin en einde van hebsug?

’n Mens raak dié tyd van die jaar onwillekeurig ’n tikkie meegevoer deur ’n vakansiegees en voor die kuierkind huis toe kom, is dit winkels toe vir ’n bietjie bederf-eetgoed, dalk ’n nuwe boek of twee, en die brandstoftenk word volgemaak vir ’n draai of drie se ry vir wanneer die bergkoors ons pak en ons darem oor ’n horison wil ontsnap.

Annemarie van der Walt

Met ’n wakende oog op die banksaldo – die vakansie is nog lank – wonder ek hoe lyk R21 miljard. As dit in note uitgepak sou word, sal dit elke hoekie en gaatjie in Steinhoff se kantore volmaak? Of sal dit naderhand oorloop na die wynkelders van Markus Jooste se landgoed in Stellenbosch of sy spogperde se stalle?

Die selfoon piep: beskikbare balans soveel. Hm, sal ek vandag roekeloos wees en camembert koop? Die kind hou tog so daarvan.

Hoe voel dit om, soos Christo Wiese, op ’n enkele dag R32 miljard so, tjoeps, tussen neus en ore te sien verdwyn? Ek probeer somme maak hoeveel ’n mens elke dag per jaar moet ópleef aan dié bedrag maar die hoeveelheid nulle van duisend miljoen bebodder my brein.

In die boekwinkel oortree ek die gebod van begeerte maar weerstaan die een oor versoeking. Een dun digbundel vir die kind later en ek besluit om liefs uit die inkopiekatedraal te kom – dalk is daar op ’n mooiweersdag tyd vir ’n perderit vir my en die kind maar dit gaan kós en dan sal ek moet stadig oor die klippe.

Die rykmanslewe is ’n ander land vir die meeste van ons gewone siele. Gewoonlik dink ek selde of nooit daaraan, maar die Steinhoff-

sage laat ’n amperse obsessie posvat om te wil weet hoeveel huise ’n mens gelukkig kan maak, hoeveel Persiese tapyte en meubels en motors en perde? Hoeveel moet jy aan salarisse betaal om jou huishoudings seepglad te laat verloop en hoe hou ’n mens tred met waar dié werknemers woon en wat hul vrese en drome is?

Is daar ’n manier, amper soos wat ’n landmeter ’n erf met ’n eksklusiewe ligging en eindelose see-uitsig afpen, waarop ’n mens die begin en einde van hebsug kan bepaal?

Hoe voel dit om bykans enigiets te kan bekostig wat mot en roes kan vernietig en dan te ry tussen sê maar, Stellenbosch en Hermanus, verby die townships sonder biblioteke en behoorlike klinieke en verrinneweerde skole?

Wat sal dit ’n rykaard kos om ’n miljard rand in klein porsies harde kontant uit te deel aan ’n magdom mense en daarmee ’n ommeswaai in lewens teweeg te bring: ’n kind wat kan gaan studeer, ’n gesinsmotor, ’n huis van baksteen en sement?

Is daar ’n manier, amper soos wat ’n landmeter ’n erf met ’n eksklusiewe ligging en eindelose see-uitsig afpen, waarop ’n mens die begin en einde van hebsug kan bepaal?

Tuis pak ek die skamele inkopies uit en bereken hoeveel ure voordat die kind opdaag. Die selfoon piep vir oulaas met ’n skraal saldo.

Ek gaan soek David Mallet se kort gedig: “O grant me, Heaven, a middle state, / Neither too humble nor too great; / More than enough for nature’s ends, / with something left to treat my friends.”

Meer oor:  Begin
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.