Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Waar, o waar is die opposisie?
Heindrich Wyngaard

Net toe ’n mens begin wonder waar op dees aarde is die Wes-Kaapse ANC, toe word ons die afgelope week deur ’n paar tussenverkiesings herinner die party is wel nog met ons. Die uitslae van die tussenverkiesings het op die oog af in elk geval nie die party eer aangedoen nie, maar daarby sal ons nou-nou uitkom.

Toegegee, die politieke fokus was die laaste ruk hoofsaaklik op die rassestruwelinge in die DA, asook die stelselmatige herstel van pres. Cyril Rama­pho­sa se aansien.

Dit wil-wil voorkom of die DA sy stabiliteit herwin ná die bedanking van Mmusi Maimane, nasionale leier, en Herman Mashaba, Johannesburgse burgemeester, maar ons sal moet sien hoe dinge staan ná die naweek se tussentydse leiersverkiesing.

Die onstuimigheid in die (nasionale) DA het ongetwyfeld ook DA-ondersteuners se aandag in die Wes-Kaap aangegryp, en straks het dit sommige laat begin wonder oor die sinvolheid van hul volgehoue steun vir die party.

Dit het alles gewentel om die dramatiese politieke wederopstanding van Helen­ Zille, voormalige partyleier en premier, sy van die berugte “kolonialisme-was-nie-net-sleg-nie”-twiets. Oorhoofs ook was dit ’n bevestiging van die selferkende mislukking van haar sogenaamde “diversiteitsprojek” ten bate van swart leierskap in die DA.

Jy sou daarom gedink het dit sal die ANC as die amptelike opposisie in die Wes-Kaap tot voordeel stem. Helaas lyk dit of die party hier onder die hange van Tafelberg wel steeds so in sy eie hooggety vasgeval is dat hy nie uit die DA se “Zillewales” kan munt slaan nie.

As jy tred verloor het: Die provinsiale ANC-leierskorps is ’n tydjie gelede deur ’n taakspan vervang omdat die bestuur se termyn al verval het en daar ’n aanhoudende gesloer was met die hou van ’n provinsiale leierskonferensie om ’n nuwe leierskorps te verkies.

En dan was daar die wenkbrouliggende besluit van Faiez Jacobs, voormalige provinsiale sekretaris van die ANC, om homself vir ’n parlementêre pos beskikbaar te stel, so asof hy geweet het hy sal nie ’n tweede termyn as voltydse sekretaris wen nie.

Die taakspan is saamgestel uit sowat 80% sogenaamde “metro”-lede teenoor 20% “plattelandse” lede.

Die taakspan is saamgestel uit sowat 80% sogenaamde “metro”-lede teenoor 20% “plattelandse” lede. Hieroor word daar nou kopgekrap – of eintlik koppe gestamp – omdat die plattelandse ANC-lede voel hulle steun en leierskappotensiaal word geïgnoreer of ondergeskik aan stedelike lede s’n gestel.

Waartoe dié stryd aanleiding gegee het, is dat daar ter voorbereiding op die magstryd op die beplande provinsiale konferensie (glo in Februarie volgende jaar ná afloop van die ANC se tradisionele 8 Januarie-byeenkoms) twee groeperings gevorm is – ’n sogenaamde “metro”- en ’n “plattelandse” koukus.

Waarop laasgenoemde steun, is die feit dat die ANC eergister ’n plattelandse wyk – in Matzikama – by die DA kon afneem. Die stempersentasie hier was boonop ’n skaflike 50%.

In die metro-wyke in Wesbank, Delft en Tafelsig, Mitchell’s Plain, is wel klei getrap en het die DA dié twee wyke behou, maar met ’n gemiddelde stempersentasie van slegs 20% én ’n verlaagde wenpersentasie (49,28% teenoor 2016 se 66,44% in Wesbank en 64,02% teenoor 2016 se 83,64% in Tafelsig).

Volgens Dawie Scholtz, waarskynlik die land se voorste verkiesingsontleder, is dié daling in DA-steun “rampspoedig”. Maar die groot ramp vir die Wes-Kaapse ANC is dat Patricia de Lille se Good-party in al twee dié wyke beter as hy gevaar het.

Sal dít die party lei in die keuse vir ’n nuwe provinsiale leier? Ook in ’n DA-regeerde provinsie is ’n sterk opposisie immers van kritieke belang.

  • Wyngaard is ’n sosio-politieke kommentator.
Meer oor:  Heindrich Wyngaard  |  Anc  |  Wes-Kaapse Anc  |  Leierskorps.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.