Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Waar of nie, sulke gerugte kan ANC seermaak
Philda Essop

Die beweerde komplot om van pres. Cyril Ramaphosa as ANC-leier ontslae te raak, is nóg ’n aanduiding van hoe diep verdeeld die regerende party is.

Luidens berigte het ’n groep politieke swaargewigte, onder wie oudpres. Jacob Zuma, Ace Maga­shule, die ANC-sekretaris-generaal, en Supra Mahumapelo, die uitgeskopte ANC-leier in Noordwes, glo ver­lede week in ’n Durbanse hotel vergader om Ramaphosa se ondergang te bewerkstellig.

Die ANC (of eerder die kantoor van die sekretaris-generaal . . .) het die berigte heftig ontken en dit as “sensasionele twak” en “kwaadwillige praatjies” afgemaak.

Magashule en Mahumapelo het saam met adj.pres. David Mabuza die sogenaamde premiersliga gevorm. Hulle was getroue Zuma­lojaliste voordat Ramaphosa in Desember tot ANC-leier verkies is. (Mabuza het kort voor die verkiesingskonferensie sy steun aan Ramaphosa toegesê).

Gerugte dat ’n wegbreekparty gestalte kan kry uit ’n faksie wat Zuma goedgesind is, doen al geruime tyd die ronde.

Gerugte dat ’n wegbreekparty gestalte kan kry uit ’n faksie wat Zuma goedgesind is, doen al geruime tyd die ronde.

Kort ná die stigting van die Mazibuye African Con­gress in KwaZulu-Natal in Julie vanjaar is bespiegel dat dié party dalk die voorloper daarvan is. Zuma ontken egter dat hy lid van die party is.

Verlede week, kort nadat die ANC se nasionale uitvoerende komitee aangekondig het dat Mahumapelo as ANC-leier in Noordwes verwyder is, het sy naam op ’n kennisgewing van ’n nuuskonferensie van dié party verskyn. Hy het egter nie opgedaag nie. Die vraag is nou: Wat, indien enige, is Mahumapelo se bande met die party?

Die ander groot vraag is hoeveel waarheid steek in die beweerde komplot wat Zuma, Mahumapelo en Magashule glo bespreek het?

Daar is geen wet wat sê die voormalige president, die huidige ANC-sekretaris-generaal en ’n voormalige provinsiale leier mag nie by ’n hotel byeenkom en gesels nie. Maar ’n mens bly tog wonder wat daar bespreek is.

As die plan is om Ramaphosa uit die kussings te lig, kan dit die ANC se kanse by die stembus knou. Zuma se verwydering en Ramaphosa wat ANC-leier en toe staatshoof geword het, het nuwe hoop in die land gebring. Volgens minstens een meningspeiling kan die ANC 60% van die stemme in 2019 se verkiesing kry.

Toegegee, die Ramaforie het reeds van sy glans verloor, die land is nou in ’n tegniese resessie én almal weet wegbreekpartye uit die ANC vaar nie juis goed nie.

Die blote moontlikheid dat verdeeldheid steeds ’n sterk houvas op die party het, kan kiesers verwar en hulle noop om vir ’n opposisieparty te stem of van die stembus af weg te bly.

Sou die wegbreekparty aan 2019 se verkiesing deelneem en Zuma, Mahumapelo en Magashule sluit hulle daarby aan, waar laat dit die deursnee-ANC-kieser?

Stem hulle vir die wegbreekparty, of vir Ramaphosa en sy groep wat agterbly? Of trek hulle hul kruisies agter ’n opposisieparty of bly bloot weg van die stembus?

Wat hulle ook al besluit, dié woelinge in die ANC – of bloot sprake daarvan – kan die ANC seermaak, terwyl opposisiepartye agteroor sit en hul hande vryf.

Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  Philda Essop  |  Anc  |  Komplot  |  Politiek  |  Gerugte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.