Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Waar vroue is, is moeilikheid, ook in die kerk
Christina Landman

Oor ’n paar dae, sommer netnou, is dit Vrouedag. Ek hoor al hoe sug die mense. Wat wil vroue nou nóg hê?

Ek dink wat vroue nog wil hê, is … erkenning.

Nie daardie soort erkenning van “sy is die eerste vrou wat in daardie posisie aangestel is” of “sy is die eerste vrou wat in daai mannewêreld toegelaat is” nie. Vroue wil erkenning hê dat hulle verdien om in ’n posisie te wees en dat hulle hul werk goed doen.

So praat ek nou die dag met ’n vrou wat in ’n hoë posisie in die kerk is. Baie hoog. Ek vra haar hoe heerlik dit nou kan wees. Nee, sê sy, dis nogal hel. Dis asof almal aanvaar dat jy net daar is vir die politieke vertoon. Om die kerk se gewete te sus vir al die jare wat hulle die vroue in soutpilare verander het.

En uit dankbaarheid dat jy in die hoë gestoeltes sit, moet jy jou stil gedra en nie intjip wanneer die ware leiers praat nie, vertel sy.

’n Nuutverkose vrou hoor gou van haar nuwe sondes waarvan sy self nie geweet het nie.

En die ergste, vertel hierdie hoë kerkvrou my, is dat die mans jou haat omdat jy hul plek gevat het.

Die sinode kies jou in ’n posisie, maar moenie vergeet dat daar baie mans is wat daardie posisie wou hê nie. En vroue natuurlik ook.

Sit jy nou heel vrolik daar voor en dink die mense het jou gekies omdat jy die werk die beste kan doen en omdat hulle van jou hou … dan begin die karaktermoord, sê sy.

Jy hoor gou gerugte dat jy jou plek boontoe gekooi het. Of jou deur ’n man teen ander mans laat gebruik. ’n Nuutverkose vrou hoor gou van haar nuwe sondes waarvan sy self nie geweet het nie.

Kortom, 'n vrou is daar vir vertoon en nie vir vaardigheid nie.

Die vrou vertel my ook dat sy al moes hoor sy is gekies omdat die kerk klassisties is. ’n Vrou word glo net hoog verkies omdat haar pa ’n legacy in die kerk het of omdat sy self ’n doktorsgraad het. Kortom, sy is daar vir vertoon en nie vir vaardigheid nie.

Dit kan tog nie in die kerk gebeur nie? vra ek geskok. Dis so erg, vertel die vrou my, dis nie eens net karaktermoord nie. Dis ’n soort vrouemoord. Ek vra haar toe om ’n paar voorbeelde van hierdie femicide in hul kerk te gee. Sy vertel dat sy die dominee in ’n baie arm gemeente was. Toe word sy in die kerkbestuur hoog op verkies. ’n Ander man wou die posisie hê en het ’n groot verkiesingsveldtog daarvoor gehou. Toe sy verkies word, het die hel losgebars.

Hy het die kerk wat sy gebou het vir mense wat in sinkhuisies woon, gaan afbreek en vir die mense gesê hulle kan die stene gebruik om vir hulle beter huise te bou. Hy het vergaderings waarvan sy die voorsitter was, uitmekaar geskeur om haar te probeer verwyder – en in die proses baie skade in die kerk gedoen.

Toe bel een man haar, en sê: Maar as jy nou geweet het hy wil jou posisie hê, hoekom het jy nie maar teruggestaan en dit vir hom gegee nie? Dan het ons nie nou al hierdie moeilikheid gehad nie. Waar vroue is, is moeilikheid.

Maar gelukkig, vertel sy, beskerm die kerk en sy strukture vroue ook. Gelukkig is die kerk sterker as sy verbitterde mans.

  • Landman is ’n professor in teologie aan Unisa.
Meer oor:  Christina Landman  |  Kerk  |  Vrouedag  |  Feminisme  |  Vroueregte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.