Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Waar was al die dure handsakke dan?
Blou Willem

Nou ja, die president se Sona het gekom en die Sona het gegaan, sona slag of stoot en sona enige stoeiery in die parlement, maar wat nou?

CR het gesê: “Watch this space”, oftewel, soos die skilpad: “Hou my dop,” maar ai, my kroon, hoe lank hou ons nie al dié spasie dop wat nou al so groot soos die gat in die osoon geword het nie?

’n Spasie in ’n lugleegte in ’n gat.

Wat ’n mens ook opgeval het, is dat hoewel die agbare anties met hul dure skeppings daar aangewals gekom het, daar nie ’n enkele Louis Mouton-handsak in sig was nie.

’n Mens wonder hoekom.

Vir al die ouens wat my verjaardag laasweek vergeet het, wil ek net graag baie geluk sê met my verjaardag (soos oom Toy altyd sê).

Jy moet pasop, te veel verjaar kan jou doodmaak.

’n Mens kan sê verjaardae is nie meer lekker as jy ouer word nie, maar ons almal moet erken, daai een dag uit 365 is tog spesiaal.

Dus, ek hou van verjaar, maar soos oom Kas my jare gelede gewaarsku het: “Jy moet pasop, te veel verjaar kan jou doodmaak.”

En toe dink ek ook aan sy ander wys­heid so op een van sy vele geboortedae: “Ou boetie, jy weet jy word oud as daar niks meer oor is wat jy op die harde manier kan leer nie.”

Ja, en wat van die jaar dat oom Kas gekla het dat hy sooibrand kry van verjaardagkoek en oom Johnny vir hom die raad gegee het dat hy dalk eers die kerse moet afhaal voordat hy begin eet.

Mense, waar’s die jare en die ooms wat voorgesing het?

Ek glo mos nog aan ’n outydse verjaardagboekie.

Nee, jy verf nie ’n gevallene se naam met Tippex nie, jy maak net so ’n ou klein kruisie langsaan.

Nee, nie selfoon-“reminders”, GB (Gesigboek), twieters of selfs ’n almanak agter die toiletdeur nie (as ons manne daar staan en nie met jou agterkop kan lees nie, mis jy maklik só ’n verjaardag).

Maar wat nou gemaak met jou verjaardagboekie se gesneuweldes?

Nee, jy verf nie ’n gevallene se naam met Tippex nie, jy maak net so ’n ou klein kruisie langsaan en as vroulief jou daar by die braaivleisvuur uitvra oor jou middel-vannie-week-gewoontes, sê jy net: “Maar skattebol, oom Kas/oom Anton/ oom Manie/tannie Natie sou vandag 103/85/104/ 99 jaar oud gewees het.”

Probeer maar, dit hou die wind net so ’n bie­tjie uit die seile.

Ek moet sê met Gesigboek het dinge so verander dat jy selfs ouens wat jy nie ken nie se verjaardae onthou.

En as jy voel jy verdien meer as een keer per jaar ekstra aandag, kan jy mos altyd elke maand of twee jou verjaardagdatum verander.

Aan almal wat my op my verjaardag ge-“like” het: Dankie, julle, ek “like” julle ook!

Maar laat één van julle dit nou net “like” as hulle eendag die kruisie in mý verjaardagboekie maak, dan kom spook ek julle! Watch hierie spasie, my nasie!

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.