Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Waardeer dit waarvan jy genoeg het
Piet Matipa

Ek het mos ’n bietjie meer as ’n jaar terug Pretoria verraai vir die misdaadhoofkantoor, Johannesburg.

Ek het die vrot vrugte hiervan weer eens gepluk, gekou en swaar gesluk.

Johannesburg het vir byna drie dae nie water gehad nie. Nie ’n halwe druppel nie. Die krane het met ’n droë keel dae en nagte lank geluide gemaak. Ek het elke oggend opgestaan met nuwe hoop, maar dit is nie beloon nie.

Met die tekort het my liggaam besluit dit benodig meer water en ek moet meer gereeld gaan ontwater. Dit is eers wanneer jy iets nie het nie dat jy besef hoe wreed jou liggaam is, want dit herinner jou konstant aan jou verlies.

Ek het in die gimnasium gaan stort en my self lekkerruikbaar gemaak – ook maar die enigste keer dat ek die plek gebruik. Daar het ek besef dat seker mense te vry is met hul liggame. Een oom het die heeltyd poedelnaak deur die badkamers geloop asof dit sy huis is. Op en af en links en regs gewip – dis ’n storie vir ’n ander keer.

Die winkels was ook waterarm. Ek moes gegeurde water drink. Ek was op ’n tyd ’n snobis, het eerder koeldranke en alles anders gedrink wat nie die oorspronklike smaak van water bevat het nie. In dié drie maer dae het ek beloof om water te respekteer en te waardeer.

Ons water het Donderdagmiddag terugkom. Ek het dit via ’n SMS uitgevind. Ek was by die werk. Verligting het oor my gespoel. Ek kon weer in my eie stort sing en daarna naak in my huis paradeer en die lied voltooi. Ek het uitgesien na dié vooruitsigte.

Ek het ná werk by die huis gekom. Moeg en afgemat. Ek wou net eet en slaap. Toe ek die deur oopmaak, hoor ek ’n kraan wat loop. My vloere was nat.

Ek het vinnig na die badkamer toe gehardloop en dit toegemaak. Ek het besef dat ek die kraan oopgelos het toe ek vroeër gekyk het of daar water is.

My hele kamer was onder water. Daar is net ’n mat in die kamer.

My sitkamertjie se matjie het ook deurgeloop. ’n Mop was nie kundig genoeg om die probleem op te los nie.

Ek het die plek so gekyk en ek wou kwaad word, maar ek was te moeg.

Ek het na die boonste deel van my hut gegaan, en daar in my ontie gesit en my hamburger geëet. Ek het myself kalm gevloek oor ek nie seker gemaak het dat die kraan toe is nie.

Ek het toe myself gediagnoseer met korttermyngeheueverlies en daarna het ek myself om verskoning gevra oor ek myself gevloek het. Dit was ’n hele selfbejammeringspartytjie.

Daarna het ek in my bed gaan spring, letterlik, om die water te vermy. Ek het daar gelê met die dam water om my en opnuut besef: te min én te veel van iets is inderdaad ’n slegte ding. Ai.

Meer oor:  Piet Matipa
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.