Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Waardeer sulke mans en pa’s
Elmarie Dercksen

Het jy geweet: In tradisioneel Rooms-Katolieke lande soos Spanje en Portugal, word Vadersdag gevier op 19 Maart, wat St. Josefsfees is; die Taiwanners vier Vadersdag op die agtste dag van die agtste maand, omdat die woord “agt” in hul taal klink soos “pappa”; en in Thailand vier hulle Vadersdag op ’n vorige geliefde koning se verjaardag, op 5 Desember?

Hier in Suid-Afrika volg ons die Amerikaanse patroon, en vier ons dit op die derde Sondag in Junie. In ’n dorpie in die staat Washington was ’n jong vrou van 27, Sonora Smart Dodd, wat graag Vadersdag wou vier soos wat Moedersdag herdenk is. Haar pa was ’n enkel­ouer van ses, nadat haar moeder gesterf het met die jongste kind se geboorte. Met die samewerking van die YMCA het die dorp se kerke ooreengekom om ’n Sondag in Junie te reserveer vir feesvieringe. Sonora wou dit graag vroeg in Junie hou, op haar pa se verjaardag, maar die predikante het meer tyd nodig gehad om preke voor te berei, en so het hulle op die derde Sondag in Junie 1909 besluit.

Tog insiggewend dat die viering van Vadersdag in die kerk begin het!

Aanvanklik was dit ’n geïsoleerde gebeurtenis en het die idee nie veel veld gewen nie. Mans wou nie blomme ontvang soos vroue op Moedersdag nie. Hulle wou ook nie geskenke laat koop waarvoor hulle in elk geval self moes betaal nie (ja, sowaar!).

Maar die Groot Depressie asook die Tweede Wêreldoorlog het die viering van Vadersdag laat groei, sodat dit teen die 1960’s ’n vasgestelde vakansiedag geword het.

Ek ken mans wat nie hul manlikheid misbruik nie. Hulle fokus op menslikheid en medemenslikheid, eerder as op voorgeskrewe rolle.

Hierdie is dalk vir jou bloot ’n stukkie oulike geskiedenis, met hier en daar ’n tikkie ironie. Ek kan jou egter verseker dat dit sommige mense dwars in die krop steek, omdat dit vierkantig binne die raamwerk van die patriargie val. Manlikheid is toenemend onder die vergrootglas, en ten regte.

Ek het self daagliks met mans te doen wat geen idee het nie (of miskien het hulle dalk juis?) hoeveel ruimte hulle opneem, hoe maklik hulle hard praat en verwag dat almal moet luister, en hoeveel voorregte hulle by geboorte kry net omdat hulle nie hoort by die “swakker geslag” nie.

’n Paar paragrawe doen nie die onderwerp gestand nie. Baie studente (ek inkluis) bestee jare aan die ontrafeling van die uitdagings van geslagsgelykheid en gender-kwessies. Laat ek eerder twee ligpunte lys: Bybelstudente hou aan terugkeer na die Bybel.

Ons ly onder omstandighede in ons eie konteks, en neem dit dan terug na die Woord – hopelik met groterwordende verantwoordelikheid en deeglikheid, en nie oppervlakkige fundamentalistiese metodes nie. Ten spyte van die probleemtekste is daar verstommende karakters in die Bybel: sawwe en sterke vroue én manne (en glo my, ook diegene wat hulle nie so maklik laat genderboks nie) met storielyne wat jou asem wegslaan. Daar is ook Jesus, die perfekte beliggaming van menslikheid met deernis en outoriteit. Sy manlikheid pla my nie.)

Ek ken mans wat nie hul manlikheid misbruik nie. Hulle fokus op menslikheid en medemenslikheid, eerder as op voorgeskrewe rolle. Hulle is gemaklik in hul eie lywe, in kontak met hul gevoelens, en vind vreugde in versorging op watter manier ook al. Hulle hou aan leer en groei, is altyd bereid tot intelligente gesprek, en beskerm nie die hele tyd ’n brose ego nie. Hulle kan hard werk, baklei as hulle moet, huil as hulle wil, en uit die maag uit lag. Party van hulle is gay. Al hierdie dinge is ook waar van die vroue wat ek bewonder.

As jy sulke mense het, waardeer hulle. As jy so ’n pa het, moet jy groot gaan hierdie Vadersdag.

Ds. Dercksen, ’n oud-Bloemfonteiner, is ’n leraar by die NG kerk Bloubergstrand in Kaapstad.

Meer oor:  Mans  |  Vadersdag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.