Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Waardes kan nie sonder reëls blom nie

Dit is ’n prysenswaardige ontwikkeling dat individue en instansies in alle samelewingsektore ’n sogenaamde waardegedrewe funksioneringswyse verkies.

Die onderliggende gedagte is dat waardes beleid, praktyk, gesindheid en gedrag rig.

Daarbenewens word gekies teen ’n onbuigsame, voorskriftelike benadering wat mense van die geleentheid ontneem om deeglik en rasioneel te besin oor die regte besluit, en om verantwoordelik te handel.

Waardes dui aan wat vir ons swaar weeg as individue en instellings; dit toon wat ons diepste strewes is; dit weerspieël ons identiteit en sê dus wie en hoe ons wil wees; dit vorm deug in ons en maak ons mense van karakter; waardes roep om beliggaming in ons beleide en praktyke.

In die waardes­gesprek kan die misverstand egter insluip dat ons nie meer reëls nodig het nie. Veral by mense wat voorskriftelikheid vrees, word waardes oorgewaardeer en reëls geringgeskat. Reëls word as onderdrukkend beskou, en selfs as reste van die apartheidsbedeling. Vir waardes om te blom is reëls egter noodsaaklik. Waardes is soos die pilare van ’n brug, en reëls soos die brugrelings.

Johannes Calvyn het gesê liefde verdwaal sonder die wet.

Johannes Calvyn het gesê liefde verdwaal sonder die wet. Waardes en reëls sing ’n duet, hulle vul mekaar aan. Waardes gee ’n hart, konteks en motivering aan reëls. Reëls gee beliggaming en konkretisering aan waardes.

Die Amerikaanse teoloog Stanley Hauerwas vertel van die man wat Londen toe vlieg en ’n aangename verhouding met die lugwaardin ontwikkel. Aan die einde van die vlug nooi sy hom vir ’n kuiertjie.

Hy antwoord egter dat hy ongelukkig nie die uitnodiging kan aanvaar nie, want hy is ’n Anglikaan en Anglikane vertel nie leuens aan hul vroue nie.

Die eenvoudige reël om nie vir jou vrou te jok nie help hom om by die waarde van getrouheid te bly. Dis interessant dat hy jok nie net definieer as die blatante vertel van ’n onwaarheid nie, maar ook as die verswyging van die waarheid.

Verder is daar ook ’n les te leer uit die feit dat hy nie sê hy as individu lieg nie – hy sê die gemeenskap waarvan hy deel is, die Anglikane, vertel nie leuens nie. Alleen, én veral tesame, leer ons om waardes te koester en reëls te gehoorsaam.

In ’n konteks soos Suid-Afrika waar demokratiese waardes en vryhede só misbruik word dat ons demokrasie in anargie ontaard, kan temas soos reëls, orde en dissipline nie oorbeklemtoon word nie.

Een van die boeke uit my studentedae wat my bybly, is die Tsjeg-Switserse teoloog Jan Milic Lochman se boek oor die Tien Gebooie, Signposts to Freedom. Reëls wys die weg na blywende en verantwoordelike vryheid.

  • Prof. Koopman is ’n teoloog en viserektor aan die Universiteit Stellenbosch.
Meer oor:  Nico Koopman  |  Waardes  |  Wetgewing  |  Samelewing  |  Wette  |  Geloof
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.