Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Waardigheid sal debat laat blom

Verskeie relevante debatte oorheers tans die diskoers in Suid-Afrika. Dit sluit in grondhervorming, geweldsmisdaad, gay lidmate in die NG Kerk, bendegeweld en die ekonomiese moontlikhede van ons land.

Hierdie debatte, soos ander, is broodnodig en wys dat die burgery verstaan dat ons ’n rol in ’n demokrasie het.

Sonder hierdie diskoers sou ons ook sukkel om sin te maak van wat om ons aan die gang is. Dit help ons dus ook om aktief deel te kan hê in ander prosesse in ons land.

Soos dit gaan in debatte, is daar vele kante aan ’n saak. So is daar ook vele menings. Hierdie elemente is, onder meer, noodsaaklik om ’n debat gesond te hou en om dit te stimuleer.

Dit lyk egter soms asof ons debatte, menings en verskille ’n noodsaaklike element kortkom – om mekaar met die nodige (mens-)waardigheid te hanteer.

Selfs wanneer ons sterk verskil met ander se siening, behoort die idee daarvan om die ander party met waardigheid aan te hoor en om waardig van hom of haar te verskil en om weer te probeer, sentraal te staan. Dit is dalk juis hierdie element wat die grondslag moet vorm van ’n samelewing wat uit sy verlede vorentoe moet leef.

Dalk is daardie gevoel dat jy waardig hanteer word en dat jy ander se waardigheid bevestig, die een gevoel wat ons sal bybly.

In hierdie verband bly twee onlangse belewenisse my by.

Een was die gesprekke by ’n onlangse huiskomiteekamp van die Universiteit Stellenbosch, waar ’n diverse groep pas verkose studenteleiers saam probeer soek (het) na nuwe moontlikhede vir hul studentegemeenskap. Universiteitskoshuise is mikrokosmosse van die land en word ook beïnvloed deur plaaslike en globale diskoerse.

Dat jong leiers die moeite doen om ander se (mens-)waardigheid te bevestig deur elke stem toe te laat in die gesprek en om mekaar met sagte(r) ore aan te hoor, is wat my veral opval.

Selfs in die moeilikste debatte en gesprekke is hierdie verbintenis tot mekaar en tot nuwe moontlikhede waar.

Nie omdat hier iets magies aan’t gebeur is nie, maar omdat ’n groep jong mense besef dit is noodsaaklik om mekaar as medemense waardig te hanteer. Hulle doen dit omdat hulle besef hulle het mekaar in hul diversiteit nodig.

Die tweede belewenis was op Gansbaai, waar ds. Dirk van Dyk se tyd as dominee van die plaaslike NG Kerk tot ’n einde gekom het.

Dalk is dit wat ons woedend maak wanneer ons dit nie beleef in ons land nie.

Op sy afskeid herinner hy sy gemeente aan veral een ding wat hom in sy bediening gedra het: Deur sy loopbaan het mense hom met waardigheid hanteer. Dit, meen hy, het hom meer laat doen, verder laat mik en dieper sin gebied.

’n Mens sou verwag dat ná jare in die bediening daar ander dinge moes wees wat die dominee kon herroep. Maar as ’n mens mooi daaroor nadink, is dit verstaanbaar – om met mense te werk, beteken dat jy jouself moet verstaan en moet vind. Maar bowenal ook dat jy hul (mens-)waardigheid moet erken.

En dan is ’n mens soms gelukkig dat jy self iets daarvan herbeleef.

Dalk is daardie gevoel dat jy waardig hanteer word en dat jy ander se waardigheid bevestig, die een gevoel wat ons sal bybly – wanneer dit goed gaan en wanneer ons weet dat dit beter behoort te gaan.

Dalk is dit wat ons woedend maak wanneer ons dit nie beleef in ons land nie. En dalk is dit wat ons tot ’n gesprek laat toetree. Dit kan ook waar wees dat die afwesigheid van menswaardigheid gesonde en nodige gesprekke laat afwater tot iets wat as skeltaal verdoem is.

As ek kyk na die debatte tans, is dit dalk hierdie element wat die gesprekke verder laat vorder. Net dalk is dit die toets wat ons debatte moet slaag om werklik ’n positiewe uitwerking te hê.

  • Dr. Van Rooi is senior direkteur van maatskaplike impak en transformasie aan die Universiteit Stellenbosch.
Meer oor:  Leslie Van Rooi  |  Studente
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.