Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Waarheen met Afrikaans as akademiese taal?
Fred Pheiffer
Fred Pheiffer

Onlangs lees ek in die NRC (Nieuwe Rotterdamse Courant) van die Jensen-susters – Lotte, professor in Nederlandse literatuur- en kultuurgeskiedenis aan die Universiteit van Nijmegen, en Stine, filosoof en skrywer. Hoewel hulle Deens gebore is, het hulle grootgeword in Nederland.

Hul ouers dring egter aan op Deens by die huis. Hulle verloor sakgeld vir slordige of foutiewe Deens en moet gereeld keurige briewe aan Ouma in Denemarke skryf. Só begin die susters ’n waardering vir taal koester. Dit word meer as net ’n kommunikasiemiddel – iets met ’n eie kleur, jargon en identiteit. Deens skep vir hulle geskiedenis en smee familiebande.

Hul ervaring van Nederlands was weldra nie ewe gunstig nie. Die milieu waarin hulle hul kennis van literatuur en filosofie verdiep, verengels algaande. Daar heers enorme druk op akademici om ’n internasionale profiel op te bou. Hul kanse is soveel beter as hulle hul navorsing in Engels publiseer, een van die vernaamste akademiese tale in die wêreld. Dié verengelsing van Nederlandse universiteite lei tot ’n inhoudelike verskraling van die hoër onderwys, asook tot ’n devaluasie van Nederlands as volwaardige onderwys- en ondersoektaal.

Drie Afrikaanse kampusse het reeds verengels.

Begin dit al bekend klink? Afrikaans as akademiese taal moet ook terugstaan vir Engels. Drie Afrikaanse kampusse het reeds verengels, en by ’n vierde – Stellenbosch – is dié omwenteling klaarblyklik aan die gang. Die rede vir Afrikaans se agterstelling is weliswaar nie dieselfde as dié vir Nederlands nie.

Om ideologiese, maar ook pragmatiese redes het dit onhoudbaar geword om selfs een eksklusief Afrikaanse kampus met staatsubsidies te onderhou. Bowendien beskou ons matrikulante ’n akademiese opvoeding as die sleutel tot sukses, en hulle wil dié opvoeding in Engels hê. Dit wil nie sê nie dat Afrikaanse akademici om dieselfde rede as hul Nederlandse eweknieë nie ook ál meer in Engels begin publiseer nie.

Dis ’n doodsonde dat die afskaling van akademiese Nederlands goedgepraat word met die dooddoener dat die taal van die wetenskap Engels is

Is Afrikaans as akademiese taal dan heeltemal gedoem? Die Jensen-susters maan dat om in die moedertaal te kan skryf, onderhoud en oefening verg, meer nog by verdiepende fases van akademiese studie.

Dis ’n doodsonde dat die afskaling van akademiese Nederlands goedgepraat word met die dooddoener dat die taal van die wetenskap nou eenmaal Engels is. In hul eie vakgebiede het hulle dit ál moeiliker begin vind om kennis van iets nie-Engels deur Engels te probeer oordra, ten koste van die lesplesier boonop.

Insgelyks doen dit afbreuk aan die studie van die Afrikaanse literatuur, taalkunde en taalgemeenskap as dit nie deur die medium van Afrikaans geskied nie. Bepaald kan ander vakke in ’n tersiêre sillabus wat aanleun teen Afrikaans ook beter in Afrikaans gedoseer of gepubliseer word.

Die wêreldwye dominansie van Engels as akademiese taal is nou al onstuitbaar. By implikasie moet Afrikaans hom toespits op daardie vakgebiede waarvoor dit onmisbaar is en inherente waarde toevoeg.

Meer oor:  Afrikaans  |  Onderrigtaal  |  Universiteite  |  Engels
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.