Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Waarheen met dié rade?

Die manier waarop plaaslike rade onder die ANC gestruktureer is, dra by tot die mislukking van dienslewering op dié vlak, skryf Ben van Rensburg.

Betogers versper ’n deel van Baden Powell-rylaan in Maart uit protes teen swak dienslewering. Foto: JACO MARAIS

Met die ANC se agtergrond as bevrydingsbeweging was dit miskien voorspelbaar dat munisipaliteite in die nuwe Suid-Afrika mettertyd in duie gaan stort.

Hoe regeer jy ’n Derdewêreldland (wat dit nie altyd was nie) met ’n Eerstewêreld-grondwet en – in die meeste gevalle – met onervare kaders?

Jy kan nie Eerstewêreld-instellings soos megastede en stelsels soos burgemeesterskomitees, soos dit in Europa en Amerika bedryf word, in ’n Derdewêreldland tot stand bring met mense wat vatbaar is vir korrupsie en eiebelang nie.

Megastede, geamalgameerde munisipaliteite, burgemeesterskomitees en stadsbestuurders wie se rol beperk is tot dié van ’n administratiewe hoof, is van die hoofoorsake waarom plaaslike bestuur in Suid-Afrika ná 25 jaar van demokrasie agteruit gegaan en misluk het. Korrupsie en die wydverspreide kultuur van wanbetaling deur munisipaliteite is van die ander faktore wat bydra tot swak dienslewering.

Suid-Afrika het agt metropolitaanse gebiede, 205 plaaslike munisipaliteite en 44 distriksmunisipaliteite.

Die doel van metropolitaanse gebiede en geamalgameerde plaaslike owerhede op die platteland was om onder meer koste te bespaar ten opsigte van die getal raadslede, amptenare en enige masjinerie en toerusting wat so ’n raad sou benodig. Verder moes instellings daargestel word wat meer vaartbelyn sal wees as dié in die vorige bedeling.

Die meeste van dié instellings het in die huidige Suid-Afrikaanse kultuurkonteks misluk. Om ’n raadslid te wees het ’n voltydse beroep geword en ook die hoofrede waarom daar in die meeste gebiede kontak met kiesers verloor is.

Besparing op amptenare beteken dat minder amptenare as voorheen meer produktief moet wees in groter gebiede en nie by al die daaglikse uitdagings van dienslewering kan uitkom nie. Klagtes of versoeke van die publiek word op ’n waglys geplaas en in die meeste gevalle stadiger (of glad nie) afgehandel nie.

Om ’n raadslid te wees het ’n voltydse beroep geword en ook die hoofrede waarom daar in die meeste gebiede kontak met kiesers verloor is.
Wanbalans

Voordat die Stad Kaapstad in 1996 ’n megastad geword het, het dit bestaan uit slegs 36 raadslede en ongeveer 24 000 amptenare. Vandag bestaan die Kaapse metroraad uit 231 raadslede en slegs ongeveer 28 000 amptenare vir ’n gebied wat strek vanaf Atlantis in die weste tot by Kaappunt in die suide en die Helderberg-gebied in die ooste.

Die jaarlikse uitgawe aan salarisse beloop weens personeelbesnoeiing slegs 34% van die totale begroting – wat prysenswaardig is – maar dienslewering word ingeboet weens te min personeel.

In baie kleiner munisipaliteite op die platteland waar die belastingbasis heelwat kleiner as dié van metropolitaanse gebiede is, is salarisse in die meeste gevalle buite verhouding tot die verantwoordelikhede en aanspreeklikheid van raadslede en amptenare. In die meeste van die kleiner munisipaliteite word meer as 40% van die jaarlikse begroting aan salarisse spandeer.

Die stelsel van burgemeesterskomitees is ook gedoem en leen hom in baie gevalle tot korrupsie, veral in plattelandse gebiede waar een politieke party oorheers en raadslede en amptenare onervare is. Swak finansiële bestuur en geen aanspreeklikheid of verantwoordelikheid nie, tref veral kleiner gemeenskappe wat soms vir dae aaneen sonder basiese dienste soos water, riool en vullisverwydering moet klaarkom.

Korrupsie-kanker

Die kultuur van korrupsie en wanbetaling is ’n kanker wat in baie gebiede ernstige gevolge vir die voortbestaan van munisipaliteite en dienslewering aan gemeenskappe inhou.

Baie munisipaliteite in Limpopo gaan jare neem om te herstel ná hul ongemagtigde beleggings van belastingbetalersgeld in die nou bankrot VBS Mutual Bank.

Wanbetaling vir grootmaatwater- en -elektrisiteitsvoorsiening is nie slegs vir munisipale rade ’n kopseer nie, maar kring veel wyer uit. In 2020 is byvoorbeeld R12 miljard aan waterrade geskuld en R31 miljard aan Eskom.

Toe die ANC beheer in Suid-Afrika oorgeneem het, was die party se eerste prioriteit om ontslae te raak van bekwame senior amptenare – wat nie politiek bedryf nie – met jare se ervaring en ondervinding. Met die ontplooiing van onervare kaders het die ANC talle openbare instellings vernietig, waaronder munisipaliteite, Eskom (wat onder meer munisipaliteite van elektrisiteit moet voorsien) en staatsdepartemente wat plaaslike owerhede op een of ander wyse moes finansier.

Munisipale amptenare is oor die algemeen gedemoraliseer en baie het belang in hul werk verloor as gevolg van politieke inmenging en onstabiliteit, sowel as ’n tekort aan ervare en gekwalifiseerde amptenare om al die werk te verrig.

Ervare en goed gekwalifiseerde amptenare was al die jare die ruggraat van plaaslike owerhede en het diens van ’n hoë gehalte gelewer.

Die ANC het plaaslike bestuur in die algemeen geruïneer met sy instellings en stelsels. In sekere provinsies is baie van die munisipaliteite onder administrasie geplaas, en ’n skoon oudit het skaars geword. Trouens, dit bestaan skaars in sekere provinsies.

Wat ’n grap is dit nie dat daar in Suid-Afrika 106 munisipaliteite is wat in 2020 hul begrotings goedgekeur het terwyl daar onvoldoende inkomste beskikbaar is om die uitgawe te dek? Die ergste is dat die nasionale tesourie en die betrokke provinsiale administrasies dit maar net aanvaar het en geen regstellende stappe teen dié munisipaliteite geneem het nie.

In baie plattelandse en toenemend ook in stedelike gebiede is dit ’n gesukkel om basiese dienste te voorsien. Riool loop vir dae in strate af; reservoirs staan leeg en mense het nie water om te drink of toilette te spoel nie en slaggate word nie herstel nie. Gemeenskappe moet hulle tot ’n hof wend om dié dienste te kry.

Stukkende drome

Die ANC het nie net die drome van “ ’n beter lewe vir almal” vir sy kiesers in minder bevoorregte gebiede vernietig nie, maar ook die drome van baie bekwame amptenare wat passievol was om vir ’n munisipaliteit te werk en wat nou geen toekoms meer vir hulself sien nie.

Dit is ’n skande dat organisasies soos Gift of the Givers en AfriForum munisipaliteite waar daar nood is te hulp moet snel – werk waarvoor hulle min, indien enige, erkenning ontvang.

Die Stad Kaapstad het my verlede jaar tydens hul begrotingsvergadering oortuig dat dit ’n stad is wat vir sy inwoners omgee. Uit die debat ter oorweging van die begroting het raadslede probeer om diensgelde en belasting laag te hou; inwoners wat nie meer dienste kan bekostig nie, tegemoet te kom en surplusse te gebruik om bedryfskoste te betaal.

Die Stad Kaapstad en ander munisipaliteite in die Wes-Kaap sal egter hul dienslewering aan inwoners moet opskerp om kiesers in die volgende verkiesing na die stembus te lok. Klein jakkalsies is besig om die wingerd te verniel – kyk maar net na die briewekolomme van plaaslike nuusmedia.

Om plaaslike bestuur in Suid-Afrika te probeer red, behoort daar teruggegaan te word na vorige stelsels wat gewerk het. Dit was destyds slegs raadslede se funksie om amptenare se verslae te oorweeg en besluite daaroor te neem, terwyl hulle geen of min uitvoerende funksies gehad het nie.

Die stadsbestuurder behoort ook weer aan die hoof te staan van ’n raad se finansies en administrasies. Dit behoort korrupsie tot ’n groot mate uit te skakel. Dit is egter naïef om te dink dat die ANC na dié stelsels sal terugkeer.

Waar daar probleme met dienslewering is, moet gemeenskappe dit oorweeg om ’n gemeenskapsforum op die been te bring, soos reeds gedoen word in plekke soos Potchefstroom, Coligny, Jan Kempdorp en Senekal. So ’n forum kan ’n behoeftebepaling doen oor wat byvoorbeeld die stand van riolering, vullisverwydering en slaggate is en dan met die plaaslike munisipaliteit daaroor in gesprek tree. ’n Aksieplan en tydraamwerk vir die hantering van probleme behoort opgestel te word.

Spesifieke aandag kan aan herwinning gegee word, met skole, belastingbetalersverenigings, sakekamers en ander organisasies wat op ’n Saterdag ’n “skoonste dorp”-veldtog kan begin

Baie kan gedoen word om die toestande in ons dorpe en stede te verbeter – maar entoesiastiese drywers is nodig om dit te verwesenlik.

  • Van Rensburg is ’n konsultant vir plaaslike besture.
Meer oor:  Dienslewering  |  Meningsberig
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.