Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Waarheen met SA ná Cyril?

Die oeroue waarskuwing is steeds geldig: moenie op prinse vertrou nie. Die skepper van hierdie woorde het beslis nie politici in gedagte gehad nie, maar hy kon net sowel van hulle gepraat het. Met Suid-Afrika wat stadig besig is om uit die kake van die Covid-19-pandemie te klim, moet mens darem erken dat pres. Cyril Ramaphosa glad nie so ’n slegte joppie gedoen het in dié krisistyd van die land nie.

Ek weet by voorbaat dat politieke smartvrate nou op hul agterpote sal spring en betoog dat die land se ekonomie in sy peetjie is omdat Ramaphosa gesorg het dat Suid-Afrika die langste inperkingstyd in die wêreld het en dat hy vroeër die ekonomiese deure moes oopgegooi het.

Ek steun hierdie argument, want Ramaphosa is allesbehalwe vlekkeloos of ’n messias. Ramaphosa is soos iemand met ’n gesplete persoonlikheid. Jy kry eerstens, Voetesleep Ramaphosa wat vir elke uitdaging wat op sy pad kom eers die kollektief wil raadpleeg en dan geneig is om eers self vir ’n lang tyd goed te oordink. Dit dryf mense teen die mure uit en gee sy teenstanders kans om ’n teenstrategie uit te werk. Somtyds moet ’n leier beslissend kan optree.

Ramaphosa het die verslag wel van die minister gekry, maar nou broei hy daarop.

Dan kry jy Hardekwas Cyril. Dis nou dié Cyril wat so twee weke terug vir Ace Magashule en sy radikale ekonomiese transformasie-bende (Jacob Zuma en Vennote Ingelyf) geklap het dat hulle sterretjies sien by die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK).

Dís ook hierdie hardegat-houding wat Suid-Afrika die afgelope week gesien het toe hy Nosiviwe Mapisa-Nqakula (minister van verdediging) 48 uur gegee het om aan hom verslag te doen oor hoe dit gebeur dat ANC-mandaryne sommer saam met haar in ’n weermagvliegtuig kan klim en Zimbabwe toe is.

Ramaphosa het die verslag wel van die minister gekry, maar nou broei hy daarop. Hy moet haar in die pad steek, want dit is flagrante magsmisbruik.

Maar om terug te kom na Ramaphosa en sy bestuur van die Covid-19-pandemie. Dink net as iemand anders van die ANC die president van hierdie land was wat ons deur hierdie onstuimige stormwaters moes genavigeer het?

As daar by Nasrec anders besluit was, was dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, nou waarskynlik ons president. Dink maar net daaraan hoe sy haar gewig aan die begin rondgegooi het met die drank- en tabakverbod? Die pandemie het haar vyand nr. 1 van die nasie gemaak en sy is selfs as die de facto president gesien.

Lindiwe Sisulu slyp ook haar tande vir die presidentskap en sy gaan weer in die volgende ronde haar naam in die hoed gooi.

Die enigste man wat waarskynlik presidentsmateriaal binne die ANC is, is dr. Zweli Mkhize. Hy het sy vinger op die pols wat die pandemie betref. Hy het baie verstand, maar min charisma.

Lindiwe Sisulu slyp ook haar tande vir die presidentskap en sy gaan weer in die volgende ronde haar naam in die hoed gooi. Ietwat van ’n prima donna, maar bloubloed-ANC.

Ramaphosa kan geen Nelson Mandela wees nie. Ook nie ’n Thabo Mbeki nie.

Maar hy is beslis nie ook ’n Jacob Zuma nie. Dit is dus belangrik vir Suid-Afrika én die ANC dat Ramaphosa sy eerste termyn moet oorleef en ’n tweede termyn in die sakkie toeknoop.

Ek was nog altyd daarvan oortuig dat die ANC ná Ramaphosa iemand van die statuur en staatmanskap van ’n Kgalema Motlanthe gaan nodig hê. ’n Soort van ’n elder statesman. Want die dag as Ramaphosa van die politieke toneel gaan verdwyn en as die ANC die tradisie voortsit dat die adjunkpresident outomaties die president opvolg, gaan die ANC letterlik hul B-span in die veld moet stoot. Met David Mabuza as kaptein.

Dit sal nou vir jou ’n helse bokkerop in stadige aksie wees.

Maarman is eindredakteur van Die Burger.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.