Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Waarheen mik ons dan met die beweging
Wilhelm Jordaan

Die beweging op verskillende fronte om iets aan die geweld teen vroue te doen veronderstel dat ook patriargaal-gesinde mans verantwoordelikheid aanvaar om verandering te help bewerkstellig. Tog pla dit dat daar sedert 2017 ’n beweging is wat gedra word deur die hutsetiket #MenAreTrash (#MansIsGemors).

Woordvoerders reken dit is ’n gepaste manier om ’n verskriklike werklikheid van ons samelewing te beskryf: dat mans dag en nag verwoesting saai, vroue mishandel, vermoor en dit ook met kinders doen. Hulle gee toe alle mans is nie so nie en reken die veralgemening is net bedoel om die erns van die saak te beklemtoon.

#MenAreTrash herinner aan ’n soort woedende reaktiewe feminisme waarin vroue beskou word as selfgenoegsame, onafhanklike wesens. Só byvoorbeeld skryf Sally Gearhart in The Future – If There Is One – Is Female ’n vroue-toekoms is gewens; vroue moet die verantwoordelikheid neem vir die voortbestaan van Homo sapiens; en die getal mans moet verminder word tot 10% van die menslike ras – as’t ware ’n klein “teelpoel” vorm.

Wat opvoedkundig nodig is, is regstellende feminisme.

Is sulke standpunte werklik suksesvol om patriargale mans te oorreed om anders oor vroue te dink en anders op te tree? Sal dit nie juis sulke mans laat voel húlle is die eintlike slagoffers van vroue se wrewel teenoor mans nie? As ons dan gemors is, dan tree ons maar soos gemors op, kan die trant van dié sinlose slagoffer-redenasie wees.

Bowendien is dit ’n goed nagevorste feit dat skokkende stellings en uitbeeldings (soos die hutsetiket sekerlik is) nie juis suksesvol is om mense se houdings en gedrag te verander nie, byvoorbeeld om padveiligheid te bevorder deur die uitbeelding van verminkte ongelukslagoffers, of anti-rookadvertensies wat wys hoe strawwe rokers se longe lyk.

Hoe kragtig die hutsetiket ook al is, is dit eintlik ’n onderskatting van die werklike probleem; dat naas strenger strawwe vir geweld teen vroue en kinders ook ’n opvoedkundige offensief nodig is om mans én vroue te oortuig dat die eeue-oue en voortgaande hiërargiese patriargale denke en gebruike tot vroue se skade is én terselfdertyd vroue en mans se mensheid aantas.

Wat opvoedkundig nodig is, is regstellende feminisme. Waarmee vroue met gepaste drif sê: “Ons hou nie van die manier waarop die wêreld werk nie. Dit maak ons seer. Dit benut nie ons vermoëns nie en laat ons sonder mag. Ons gaan dit verander en vra mans om ons te help.”

Die Grondwet wat aan vroue politieke, ekonomiese, seksuele en artistieke gelykheid toeken, is ’n produk van samewerkende pro-aksie. Maar dit is nie ’n volmaakte instrument nie. Regstelling moet ’n leefwyse word. Daarvoor is verset deur welmenende vroue én mans nodig. ’n Beter bedeling vir vroue moet ’n onstuitbare krag word, wat terselfdertyd die geheim van mans en vroue se gesamentlike menswees bevestig.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.