Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Waarheen nou met US en Afrikaans?

Belangrike vrae moet gevra word in aanloop tot die hersiening van die Universiteit van Stellenbosch se taalbeleid, skryf Jannie van der Westhuizen.

“Stellenbosch is ’n pragtige dorp. Die US is ’n pragtige universiteit, beskik oor ’n wonderlike kampus, puik koshuise, die beste en mooiste sportgeriewe en het ’n ryke en suksesvolle verlede vol van legendariese stories.” Foto: ISTOCK

Die uitdrukking, “niks is ooit finaal indien daar onreg bestaan nie”, is sekerlik die rede waarom die taaldebat by die Universiteit Stellenbosch (US) nie tot ruste kan kom, of sal kom nie.

Ook nou in die aanloop tot die vyfjaarlikse hersiening van die universiteit se taalbeleid is daar opnuut omstrede voorvalle rakende die plek en gebruik van Afrikaans. Die rooi ligte flikker helder.

Die hersieningsproses sal dus inderdaad interessante debatte en gesprekke tot gevolg hê. Dit bied opnuut weer die geleentheid om bestek op te neem ten einde ’n praktiese en funksionele taalbeleid daar te stel, maar veral ’n beleid wat die beste belang van alle studente dien. Mag hierdie hersieningsproses uitsluitlik fokus op die meriete van die saak, en nie deur die huidige studente-onrus beïnvloed word nie.

Vanwaar die onwilligheid?

Die algemene indruk is dat die US nie Afrikaans-vriendelik is nie. Onlangse voorvalle versterk hierdie indruk. Amptelik word Afrikaans immers volgens die taalbeleid ook net gebruik waar dit redelikerwys uitvoerbaar is – ’n vae en twyfelagtige verbintenis.

Die vraag bly ondubbelsinnig: Waarom is daar hierdie ooglopende onwilligheid om Afrikaans nie maar net sy regmatige plek te gee nie? ’n Beleid wat niemand sal benadeel nie en tog vir baie van groot waarde kan wees nie.

Stellenbosch is ’n pragtige dorp. Die US is ’n pragtige universiteit, beskik oor ’n wonderlike kampus, puik koshuise, die beste en mooiste sportgeriewe en het ’n ryke en suksesvolle verlede vol van legendariese stories. Boonop word die universiteit internasionaal erken as ’n instelling van uitnemendheid.

Die US het dus in alle opsigte ’n mededingende voordeel, wat dit ’n natuurlike tuiste vir voornemende studente kan maak. Hierdie voordeel moet optimaal in die beste belang van die universiteit, Stellenbosch, die Wes-Kaap, asook die groter Suid-Afrika benut word. Dit is ook die soort tuiste wat elke potensiële student gegun word.

Die demografie van die Wes-Kaap bied boonop die geleentheid dat die US ’n unieke instelling kan wees waar studente van verskillende kultuur-, geloof- en taalgroepe saam in hul taal van keuse kan studeer, saam kan leef, en saam kan groei en ontwikkel tot lojale en produktiewe burgers van ons land.

Onredelike bewerings

As lid van die universiteitsraad was ek vir byna sewe jaar deel van die gesprekke, debatte en besluite rakende die taalbeleid, tot en met die aanvaarding van die huidige beleid in 2016. Ek is dus vertroud met hoe die proses ontvou het, asook die inhoud van al die argumente wat gevoer is.

Ek is ook vertroud met die verrassende momente en wendings wat daar was, veral kort voor die aanvaarding van die finale 2016-beleid.

Daar was nie argumente ten gunste van ’n Afrikaanse universiteit, of ’n taalbeleid wat enigiemand sal uitsluit, of enige groepering mag bevoordeel, of ’n ander mag benadeel nie.

Daar was wel sterk pleidooie ten gunste van ’n volwaardige meertalige universiteit. Enige bewerings dat die behoud van Afrikaans aan die US enige vorm van uitsluiting ten doel het, is gewoon onredelik en nie waar nie.

Dit spreek vanself dat in die globale wêreld waarin ons woon, en veral Suid-Afrika se unieke omstandighede, Engels as onderrig- en gebruikstaal deel van ’n inklusiewe wêreldklas-universiteit sal wees. Almal aanvaar dit.

Daarom was daar tydens debatte sterk argumente vir ’n universiteit waar Afrikaans en Engels gelyke status sou hê. Hierdie standpunt is later gevolg deur pleidooie dat, al sou Engels die primêre onderrigtaal wees, ten minste die bestaande aanbod van Afrikaans in daardie stadium behou moet word. Ook dit het nie gebeur nie.

Sterk pedagogiese argumente, die insette van prof. Wannie Carstens, ’n internasionaal gerespekteerde taalwetenskaplike, en vele meer is geïgnoreer ter wille van ander motiewe of oogmerke.

Die vraag bly: Waarom dan hierdie nimmereindigende “pogings” dat Afrikaans se rol en funksie aan die US verskraal, of selfs geskrap word?

Verskuilde motiewe?

Die huidige rektor het homself immers tydens sy inhuldigingseremonie sterk verbind tot ’n instelling van meertaligheid. Wat het van daardie verbintenis geword? Boonop dra die argument dat ’n meertalige beleid nie prakties uitvoerbaar is nie, nie gewig nie, want Afrikaans én Engels is vir vele jare met groot sukses gesamentlik as onderrigtaal by die US gebruik.

Was daar ander onderliggende motiewe wat die formulering van die 2016-beleid gedryf het? Dit is ’n wesenlike vraag, want dit raak die integriteit en onafhanklikheid van die universiteit.

Gedurende ’n kind se eerste skooljare is moedertaalonderrig noodsaaklik. Daarna bly dit die ideaal. Elke leerling, maar ook elke student, behoort in die taal van sy keuse te kan studeer. Daarom is die beskerming van daardie reg tot ’n keuse so belangrik, veral waar en wanneer dit wel moontlik is.

Ongelukkig is die klimaat reeds geskep wat die keuses van studente beïnvloed. Dit is reeds vanaf gr. 8-vlak in skole sigbaar.

Om in ’n ander taal as jou eie taal van voorkeur te studeer is uitdagend. Sommige vind dit makliker, ander moeiliker, en sommige onmoontlik. Studente kan selfs genoegsame kennis verwerf ten einde aan die slaagvereistes te voldoen, maar werklik diepliggende vakkundige insig en begrip mag ontbreek.

Die argument dat onderrig in Engels studente beter voorberei om globaal te kan funksioneer, dra geensins gewig nie.

Duisende oud-Maties wat uitsluitlik in Afrikaans studeer het, is vandag uitstaande en gerespekteerde spelers op die wêreldverhoog. Hulle is suksesvol, nie omdat hulle vaardig en bedrewe in Engels is nie, maar omdat hulle hulself vakkundig optimaal tot op die hoogste vlak kon bemagtig. Dit is en bly die eerste prioriteit.

Doodskoot vir Afrikaans

Veeltaligheid bevorder inklusiwiteit en diversiteit, en sluit niemand uit nie. Dit bring juis mense van verskillende tale en kulture byeen. Dit is veel eerder die harte van mense wat ’n verwelkomende en inklusiewe klimaat skep. ’n Klimaat waar niks op iemand afgedwing word nie, maar ook niks van niemand ontneem word nie.

Die US kan so ’n universiteit wees. ’n Inklusiewe universiteit waar niemand benadeel word nie – ook nie op grond van sy voorkeur vir Afrikaans nie.

Die toenemende gebruik van tegnologie en aanlyn leer, het juis nou die ruimte geskep om, wanneer die taalbeleid vanjaar hersien moet word, nuut te dink, nuwe moontlikhede te ontgin, en te doen wat reg, maar ook regverdig is.

Dit skep ook die ruimte dat Xhosa in ’n groter mate benut kan word om studente te ondersteun. Daarom is dit ontstellend om te lees van die moontlikheid dat alle aanlyn leer gedurende die eerste semester slegs in Engels sal wees. Dit is skokkend en irrasioneel.

Dit is egter nie verrassend nie. Die tafel is reeds in 2016 daarvoor gedek. Dit was reeds die doodskoot vir Afrikaans aan die US.

Geen universiteit kan volledig aan almal se behoeftes voldoen nie. Die US is egter uitstekend geposisioneer om ’n unieke model daar te stel wat werklik grootliks aan die behoeftes van al ons studente kan voldoen. Die Potchefstroom-kampus van die Noordwes-Universiteit doen dit met groot sukses. E-leer skep nou ’n werkbare, en waarskynlik laaste sodanige geleentheid.

Droom van diverse US

Gegewe die Suid-Afrikaanse demografie, kan en hoef al Suid-Afrika se universiteite nie veeltalige universiteite te wees nie. Dit is eenvoudig nie nodig nie.

Dit is egter op enkele plekke nodig, soos by die US – waar daar reeds drie universiteite met Engels as voertaal binne ’n radius van 50 km is. Selfs die Gerwel-verslag was dit ter wille.

Die droom van ’n US wat ’n diverse en waarlik veeltalige universiteit is, sal altyd vir baie bly voortleef. Natuurlik sal dit bepaalde opofferings vra, maar die positiewe uitkomste daarvan maak dit die moeite werd.

Net die wil en ’n absolute verbintenis van almal, maar veral die universiteitsbestuur, kan dit laat realiseer.

Dit spreek vanself dat ’n taalbeleid werkbaar en funksioneel moet wees. Mag die senaat en die raad ook die volgende vrae stel voordat hulle ’n finale besluit neem:

Is hierdie beleid:

  • Die gerieflike opsie, of die beste een?
  • Opvoedkundig verdedigbaar?
  • Eties en moreel verantwoordbaar?
  • Uitsluitlik gerig op die beste belang van alle studente?
  • Regverdig teenoor almal?

Maar dit gaan nie gebeur nie “en niks is ooit finaal, terwyl daar onreg bestaan nie”.

  • Van der Westhuizen is ’n onderwyskonsultant van George.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.