Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Waarheen vlug ’n mens dan vir sulke sotterny?
Johan van Wyk

Hulle sê die lewe is een groot afskeid – jy is voortdurend besig om van iets afskeid te neem. Ek neem vandag afskeid, darem nog nie van die lewe nie, maar van ’n pad wat my oor baie jare baie genot verskaf het.

Ja, die kuspad tussen Gordonsbaai en Rooiels (Clarence-rylaan) is sekerlik een van die mooiste roetes in Suid-Afrika, maar wat as gevolg van mense se roekelose padgedrag só ontaard het dat ek my voete nie weer daar sal sit nie.

Die hartverskeurende foto verlede week in Die Burger van die ma-bobbejaan by die lykie van haar doodgeryde kleintjie, het my finaal oorreed. Nog te meer ná ’n hartelose moroon se mishandeling van ’n robwelpie aan die Weskus.

En die wrede spektakel van verwilderde, vreesbevange bulle, verjaag tussen massas mense in die strate van Pamplona, Spanje, voordat hulle in stiergevegte doodgemaak word om ’n siek mensdom te vermaak.

Omdat ek die vrees in die oë van ’n bees onder stres baie goed ken, het dit my met onuitspreeklike weersin vervul. Hoeveel sieker en maller kan die mensdom dan nog word voordat hy tot sy sinne kom? En hoeveel sieker kan Suid-Afrika nog word?

Omdat ek die vrees in die oë van ’n bees onder stres baie goed ken, het dit my met onuitspreeklike weersin vervul.

In my kinderdae was die rit om Clarence-rylaan Hermanus toe een van die hoogtepunte van ’n somervakansie in die Strand (toe bekend as Somersetstrand) of op Hermanus.

Komende uit die dorre, vaal ou Karoo was dit ’n belewenis om by die hoogste stilhouplekke die verruklikke uitsig oor Valsbaai te bewonder. As ons te na aan die afgrond gestaan en loer het, sou my pa maan: “Pasop, staan tru!”

Ek het dit elke keer onthou wanneer ek hierdie pad in die afgelope byna 20 jaar feitlik weekliks gery het, elke klip en bos leer ken en met genoegdoening gekyk het hoe baba-bobbejaantjies op hul ma’s s rûe ry en die groteres in groepies in die pad speel. Telkens met die waarneming dat die verkeer al hewiger word en mense se roekeloosheid hand oor hand toeneem.

Wanneer die N2 weens klipgooiery by Grabouw gesluit en sy swaar verkeer oor Clarence-rylaan herlei moes word, soos talle kere al nodig was, was hierdie pad, wat veronderstel is om ’n rustige uitstappie in die natuur te wees, ’n nagmerrie. Dan is ons nog nie by die verskriklike brande weens die skokkende nalatigheid van onbesonne mense nie.

Soos vanjaar toe Bettysbaai byna vernietig is. Dit was só ’n droewige toneel dat ek my, tot die eerste goeie winterreën die verskroeide aarde effens groen verkleur, weke lank van Clarence-rylaan weerhou het.

Toe ek weer die genot van hierdie pad wou smaak, het ’n groot lorrie sy vrag om ’n draai verloor. Honderde liters wit werf het ’n groot deel van die berghang naby Rooiels besmeer. Dit sit daar soos ’n vrat.

Waarheen dan om van die mensdom en sy sotterny weg te kom? Soos Margaret Thom van Groot-Brak altyd oor die groot vraagstukke van die lewe sê: “I don’t know . . .”

Meer oor:  Johan Van Wyk  |  Herinneringe  |  Bobbejane  |  Paaie  |  Verlede
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.