Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Waarheid, nuus en speserye . . .
Gert Coetzee

Rugbyeerstespanvoorspelerafrigter.

Dié woord in ’n advertensie in Volksblad van die Hoërskool Jim Fouché laat my verbeelding loop, selfs tot by Donald Trump.

Die woord ontlok ’n prentjie van Jim Fouché en die soeke na ’n breier. Van hoe dit daar lyk en is – toe ons skool se rugbyonderveertienreserwespan dekades gelede daar slae gekry het, maar ook van baie jare se lees in die koerant oor die skool se matriek- en ander prestasies.

Van die dae dat mnre. Du Plooy, Gildenhuys (hul voorname sal ek moet naslaan) en Rupert Read (’n UV-koshuismaat) skoolhoof was.

Soos enige Volksblad-leser het ek ook ’n gedagteprent van ander Vrystaatse en Noord-Kaapse skole. Eintlik van ons hele streek met sy dorpe, instansies, spanne en mense en hul dinge. Bekend van baie jare se koerantlees.

Met nuusmedium as gom wat ’n gemeenskap saamsnoer. Of om Arthur Miller, dramaturg, te parafraseer: ’n Goeie koerant is ’n gemeenskap in gesprek met homself. En dis die punt – wat die rol van nuusmedium is of behoort te wees. Ook gegewe die debat oor “post-waarheid en “alternatiewe feite” wat met Trump se aanstelling as 45ste Amerikaanse president en sy aanslag op die media, veral CNN, en hul “leuens” woed, maar eintlik so oud soos Adam en Eva is.

Ingevolge die spieëlbeginsel moet die medium getrou net “reflekteer”. Wat makliker is met beriggewing oor “konkrete” gebeure, soos ’n ongeluk. Buiten dat as 360 mense die ongeluk sien, daar 360 perspektiewe sou wees.

Kom dit by ideologie, beleid, denke of geloof (oor enigiets) is dit uiteraard moeiliker om die waarheid (wie s’n?) te reflekteer. Só is Volksblad die afge-lope dae in sy briefruimte as radikaal bestempel, ’n brief as dat dit ondertone van rassisme het, en ’n spotprent dat dit verhoudings tussen rassegroepe sou skaad. Daar was warm briefwisseling tussen Hennie van Coller en Tom Gouws oor wanneer ’n resensent moet of nie moet resenseer nie. En hewige en uiteenlopende menings oor Trump en sy presidentskap.

Op die meningsvormende blad, waar dit hoort. Buiten dat dit dalk eerder die “meninggewende” blad moet heet. Gegewe dat dit ’n veeltal menings weergee. Met die uitgangspunt dat spraakvryheid juis behels dat menings waarvan jy verskil, ook gelug en gerespekteer word. Nie dat plasing nie ’n daaglikse balanseertoer verg op die hoogspanningsdraad wat die fyn skeidslyn tussen redigering en sensuur is. Omdat inderdaad ook rassistiese, walglike en lasterlike menings met vloekwoorde en vuil taal – in die naam van spraakvryheid – inkom.

In die hoofartikel en in eie rubrieke geld waardes soos vryheid van spraak (einste) en geloof, vryemark-ekono­miese beginsels, oppergesag van die reg en verantwoordbare regering as riglyne.

Natuurlik subjektief. Een mens se libertyn is ’n ander se konserwatis.

Maar oor die Trump-debat. Dis opvallend hoeveel lesers, in Volksblad en elders, daarop aandring dat net verslag gedoen word. Hulle wil hul eie mening hieroor vorm.

Met beriggewing oor die verslag “People, not stones” oor geweld en vandalisme by die Universiteit van die Vrystaat, het ons dit nogal – doelbewus – reggekry om net weer te gee. Al het almal dit nie verstaan nie.

Wat die Trump-jare gaan oplewer, is onvoorspelbaar, maar dit gaan waarskynlik stormagtig en orde-veranderend wees. Om bloedloos daaroor te skryf sou ’n sonde wees.

Soos ’n wortelkoek sonder gemmer.

Sonder speserye is ’n nuusmedium nie ’n nuusmedium nie. Kyk maar na die lange woord wat dié rubriek inlui.

Meer oor:  Gert Coetzee  |  Brandpunt
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.