Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Waarom dan so bedreig voel?
Amanda Gouws

Môre vier ons Jeugdag. Dit is ’n dag waarop ons herinner word dat alle kinders in Suid-Afrika nie gelyk behandel is nie.

Daar is geglo dat swart kinders aan minderwaardige onderwys blootgestel kon word omdat hulle “anders” was – omdat hulle nie wit was nie. Dit was die begin van die einde van apartheid, maar ook die toediening van ’n langtermyn-knou vir Afrikaans, waardeur dit bekend sou word as “die taal van die onderdrukker”.

As ons mense as “die ander” beskou omdat hulle swart, gay of gestremd is, beteken dit dat daar ’n norm is waaraan hulle gemeet word – witheid of heteroseksualiteit of ’n gebrek aan gestremdheid. Hierdie proses van othering bepaal watter mense gemargina-liseer en uitgesonder word vir verwerping. Dink maar aan wat met die Jode onder Hitler se Nazi-regime gebeur het.

Aan die vooraand van Jeugdag is die Hoërskool D.F. Malan om al die verkeerde redes in die nuus. Dit is duidelik dat daar prosesse aan die werk is wat leerlinge wat anders is, uitsonder vir marginalisering en vernedering deur homofobiese gedrag, wat blykbaar oogluikend toegelaat word.

’n Belangrike teaching moment het hier verlore gegaan – om kinders te leer dat dit wat anders is, nie noodwendig onaanvaarbaar is nie.

Ek kan my beroep op die Grondwet – dat daar ’n Handves van Regte is wat diskriminasie op grond van onder meer geslag, geslagtelikheid (gender) en seksuele oriëntasie verbied. Maar regte op ’n stuk papier beteken min as dit nie afgedwing word nie. Diegene wat dit moet afdwing, is daardie mense in posisies van gesag teenoor kinders.

Die vuil taal wat ’n leerling op WhatsApp teenoor gay kinders geuiter het, spreek van wat toelaatbaar is in die ruimtes waarin hierdie kind beweeg.

In die eerste plek is dit die ouers. Ouers is die eerste sosialiseringsagente met wie kinders te make kry. Kinders skoei hul gedrag op dié van ouers. Die vuil taal wat ’n leerling op WhatsApp teenoor gay kinders geuiter het (soos berig in Sondag se Rapport), spreek van wat toelaatbaar is in die ruimtes waarin hierdie kind beweeg. ’n Mens wonder wat hierdie kind se ouers oor gay mense sê, watter homofobiese uitlatings as aanvaarbaar beskou word.

In die tweede plek is dit onderwysers. Hulle behoort rolmodelle te wees. Hulle behoort kinders te leer om verdraagsaam te wees, om andersheid te aanvaar deur empatie te hê. Dit is nie aanvaarbaar dat onderwysers gay kinders uitsonder en hulle dan blameer vir hul seksuele oriëntasie nie. Gay kinders is baie kwesbaar en het aanvaarding en ondersteuning nodig. Dit beteken dat onderwysers boeliegedrag goedkeur.

Stel dit teenoor die heteroseksuele leerlinge wat gay leerlinge ondersteun, iets wat verwelkom behoort te word.

Ons moenie die invloed van sosiale media op die welstand van kinders onderskat nie.

Ons moenie die invloed van sosiale media op die welstand van kinders onderskat nie. Ons weet hoeveel kinders al selfdood gepleeg het omdat hulle deur ander kinders geboelie is. Boelies voel baie bemagtig op sosiale media omdat hulle nie mense in die gesig hoef te kyk om hulle sleg te sê nie. Dit is altyd kenmerkend van lafaards.

Dat die leerling met die vuil mond godsdiens bysleep om sy gedrag te regverdig, is verwerplik. Om ’n Christen te wees, is juis om verdraagsaam te wees, om naasteliefde te hê.

Dit is egter so dat baie vorme van godsdiens onverdraagsaam is teenoor die “ander”. Dit floreer op homofobie, dit keur geslagsgelykheid af en dit probeer almal aftrek na ’n baie bedenklike norm.

Die LGBTQI- en transgemeenskap is baie kleiner as die heteroseksuele gemeenskap. Waarom voel mense so bedreig deur diegene wat van die norm afwyk? Watter hoop is daar vir geslagsgelykheid as ’n goeie skool soos D.F. Malan so swak vaar?

Gouws is professor in politieke wetenskap aan die Universiteit Stellenbosch.

Meer oor:  Hoërskool D.F. Malan  |  Amanda Gouws  |  Boelie  |  Jeugdag  |  Homoseksualiteit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.