Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Waarom ek myself kaal uittrek (op papier)

Om eerlik en openhartig oor jouself te skryf, is ook ’n manier om vrae oor jouself te probeer beantwoord, skryf Erla-Mari Diedericks.

Erla-Mari Diedericks

Al ooit gewonder waarom party mense hulself ontbloot tussen die bladsye van ’n boek? Of hulself kaal uittrek op papier?

Soos ek, byvoorbeeld. Self het ek twee memoires geskryf en honderde rubrieke waar ek my vuil wasgoed in die openbaar noem en rowwe romanses aan die orde van die dag is.

Wel, die drang om jou storie te vertel, is ’n algemene een.

Die meeste mense sê twee dinge vir my as hulle hoor ek is ’n skrywer: “Luister, het ek ’n storie vir jou! My lewensverhaal is omtrent iets!”

Natuurlik het ons almal ’n storie. Die grondslag van enigeen se lewensverhaal is egter dieselfde. Jy word gebore, jy leef en jy sterf. In jou leeftyd het jy drome en doelwitte.

Die lewe is egter vol struikelblokke wat in die pad kom van daardie droom.

’n Ongeluk, ’n gestremdheid, gebrek aan geld, iemand wat ’n stokkie daarvoor gesteek het. Van die drome word waar. Dit word bewaarheid deur geluk, toeval, harde werk. Tussendeur dit alles raak jy moeg, siek, verlief, swanger, getroud, geskei, bevorder.

Maar die tema is altyd dit . . . die soeke na iets en dit wat in jou pad gestaan het om dit te bereik en hoe jy daarby uitgekom het. Of dit nou die soeke na jou herkoms, ’n man of die perfekte lipstiffie is.

Wat memoires suksesvol maak, is wanneer die soeke iets is waarmee mense kan identifiseer en wanneer die struikelblokke en oplossings taamlik uniek of sensasioneel is.

Maar dit is die maklike deel van ’n memoire.

Ons álmal het skandes en geraamtes in die kas. Tweedens: Jy skryf nie vir jou familie of vriende of selfs lesers nie. Memoires is vir jouself.

Gewoonlik word ’n persoon se droom om sy of haar lewensverhaal te skryf geknak deur ’n baie werklike vrees: “Maar wat sal my familie/geliefde/waarnemer sê? Hulle sal soooo geskok wees!”

Twee waarhede vir jou: Ons álmal het skandes en geraamtes in die kas. Tweedens: Jy skryf nie vir jou familie of vriende of selfs lesers nie. Memoires is vir jouself. Dis een van die min genres waar jy iets vir jouself kan doen wat in ’n eindproduk ontwikkel.

Memoires kan dien as ’n manier om ’n trauma te verwerk. Dit kan ’n manier wees om vrae oor jouself te beantwoord.

En ja, skryf bring antwoorde. En soms hou jy nie daarvan nie. Daar is patrone in my skryfwerk en in my boeke wat ek nie kan vermy nie.

Op 23-jarige ouderdom, toe ek my eerste rubrieke vir Beeld geskryf het, was dit reeds vol sinisme oor die liefde en mans. Dit is nie ’n nuwe ding nie.

Toe ek my tweede boek begin indeel in hoofstukke, het dit presies dieselfde tematiese hoofstukke bevat as die eerste memoire. Daar was die “los my man”-episode, die “rondflerrie”-episode, die “ontmoet my prins op ’n wit perd”-episode en selfs weer ’n “makeover”-episode.

As jou lewe haarself bly herhaal en jy dit duidelik in jou boeke en rubrieke begin sien, kan jy nie help om iets hieruit te leer nie.

Daar is ook ’n ander rede waarom memoires so aantreklik is. Dis ’n baie subjektiewe weergawe van die werklikheid. Jy kan jou storie inkleur soos jy wil.

Sodra dit in ’n boek is, is dit nie meer deel van my lewe of werklik nie.

Vir my gaan dit egter daaroor dat ek my pyn kan wegtik met ’n optimistiese ritme, dat ek iets wat vir my angswekkend werklik was, kan omsit in ’n boek. En sodra dit in ’n boek is, is dit nie meer deel van my lewe of werklik nie. Of altans, dis hoe ek redeneer.

Vir my het memoires egter die meeste te make met sy oorspronklike betekenis. Die woord “memoir” kom van die Anglo-Franse woord “memorie” wat gebruik is vir ’n nota of memorandum, vir “iets wat in gedagte gehou moet word”.

Dalk is dit waarom ek so hou van memoires en rubrieke skryf: Sodat my mense my altyd in hul gedagtes sal hou.

"Die dag sal kom dat ek sal kyk hoe jy dié lees.

Ek sal opkyk van dié woorde wat ek nou skryf,

dié lyn waarop ek staan, Ek sal weer hier wees,

weer lewend.

Ek sal oor jou asemhaal met hierdie asem.” – Peter Cooley: “The One Certain Thing.

* Erla-Mari Diedericks is ’n redaksielid van Netwerk24. Die menings van skrywers is hukl eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Diedericks se boek Seks, leuens en die internet (Lapa) is nou landwyd op die rakke.

Meer oor:  Beeld  |  Erla Mari-Diedericks  |  Rubrieke  |  Memoires
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.