Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Waarom ek nie vir Boer Damian gaan skryf nie

Die werklikheidsreeks Boer soek ’n vrou is baie invloedryk en hy sal graag wil sien hoe dit met Boer Damian se toetrede die gay-identiteit gaan uitbeeld, skryf Adriaan Roets.

Adriaan Roets

Die sogenaamde gay-trope; die gay beste vriend met die slap polse wat die hartgebroke heldin in ’n romkom troos of die flambojante medewerker wat sy vaal kollega in ’n pragtige swaan omtower, was nog altyd goud vir kykers en draaiboekskrywers. Afrikaanse TV kon ons ook nie vryspring nie.

Die karakters is amper altyd uitskieter-sterre wat kykers met hul bitsige kwinkslae laat gons en skaterlag.

As jy Terence Bridget in ’n rol plaas in ’n Afrikaanse reeks, munt jy goud.

Akteurs het egter altyd beheer oor hoe hulle die rol vertolk en verstaan duidelik hul karakter se narratief.

Dis nie soos werklikheidstelevisie waar ’n redigeerder knip, pas en rangskik om ’n deelnemer se rol of karakter te bepaal nie. ’n Akteur weet sy of haar karakter is ’n feeks of skobbejak; ’n deelnemer aan ’n werklikheidsreeks vind dit egter eers uit wanneer hulle vir die eerste keer die program kyk.

Jy kan maar net die televisiereeks Unreal kyk – basies ’n satiriese reeks oor werklikheidstelevisie soos The Bachelor en Boer soek ’n vrou – om ’n aanduiding te kry van hoe vervaardigers deelnemers manipuleer, beide emosioneel tydens produksie en dan tydens post-produksie redigering om ’n deelnemer se karakter te vorm.

Vele fasette van gay-wees

Nou pak kykNET ’n nuwe bul by die horings. Die Afrikaanse TV-kanaal het met Boer soek ’n vrou se jongste reeks ’n eerste: ’n Gay boer gaan op die kassie probeer liefde vind.

Dit mag miskien soos ’n baanbrekerskuif klink vir die bewustheid oor gayregte en verdraagsaamheid teenoor die LGBTQI-gemeenskap, maar as kykNET en die vervaardigers dit nie versigtig en met die nodige sorg aanpak nie, kan hulle baie skade aan die vele fasette van gay-wees en gay-identiteit aanrig.

Boer Damian se uitnodiging aan potensiële belangstellendes vir briewe was reeds so ’n bietjie van ’n turksvy.

Die twiet op Boer Soek ’n vrou se Twitter-blad lui: “Is jy manlik? Stel jy belang in boerdery? #BoerDamian se mantra: Om elke dag te besluit: ‘Vandág sal ek jou liefhê, en my beste gee vir ONS.’ Het dié boer pas jou voete onder jou uitgeslaan? Kliek dan hier.”

Damian doen niks verkeerd nie, hy stel homself voor soos hy is.

Die twiet is so ietwat van ’n tweesnydende swaard. Aan een kant stel dit Damian voor as iemand wat op sigself soos ’n gawe man lyk.

Hy beskryf homself as Godvresend en noem dat daar nie baie pasmaats is wat in boerdery belangstel nie. Dis een van die redes waarom hy vir een van kykNET se gewildste programme ingeskryf het.

Damian doen niks verkeerd nie, hy stel homself voor soos hy is.

kykNET se twiet gee kykers egter ’n uiterse beperkte blik op queer-identifiserende individue in Suid-Afrika, spesifiek onder die Afrikaner-gemeenskap.

Met een woord, “manlik”, word daar laer getrek oor die “regte” manier van gay-wees. Dit kan heel onskuldig dui op jou geslag, maar rondom die term “manlik” is daar soveel waardes en merkers wat dit as ’t ware ’n semantiese mynveld maak.

Dit normaliseer “manlike” gay mans wat hetero-normatiewe genderrolle bevorder en idealiseer ’n gay-identiteit waar hipermanlikheid en die tradisionele opvattings oor manlikheid gevier word. So word ’n hele spektrum mans met ander queer-identiteite uitgesluit.

Om manlikheid as die goue standaard vir gay mans te stel, maak dit moeilik vir almal anders wat nie daarmee identifiseer nie.

As die vervaardigers reeds van die begin so ’n beperkte benadering het om deelnemers te werf, gaan die reeks min doen om Afrikaanse kykers aan ’n breër spektrum van gay- en queer-identiteit in Suid-Afrika se LGBTQi-gemeenskap bekend te stel.

’n Groot meerderheid van gay mans identifiseer juis nie met die term “manlik” nie – minstens nie in die tradisionele hetero-normatiewe sin nie.

In dele van die queer-spektrum is manlikheid beslis ’n merker, maar om dit as die goue standaard vir gay mans te stel, maak dit moeilik vir almal anders wat nie daarmee identifiseer nie.

kykNET kan ’n gevaarlike presedent skep waar gay mans – of deur hulself of die kykerspubliek gemeet – aan ’n reeks vereistes moet voldoen. Sou hulle nie al die “manlike” boksies tiek nie, kan hulle en die kykerspubliek voel hulle skiet tekort.

Dit doen ongelooflike skade aan jare se werk deur aktiviste soos Dean Hutton wat mure oor die opvattings van geslag en gender in Suid-Afrika laat verbrokkel.

Die mag van ‘Boer soek ’n vrou’

Gaan Boer soek ’n vrou se vervaardigers en redigeerders – tydens produksie en post-produksie – ook meer sensitief wees oor hoe hulle gay deelnemers uitbeeld en nie net weer ’n karikatuur of pastiche skep van wat mense se persepsie van ’n gay man is nie?

Hier lê ’n reuse-grysgebied, juis as gevolg van Boer soek ’n vrou se gewildheid. Dis al volksbesit, ongelooflik invloedryk en besit die mag om Afrikaanse kykers se menings oor gay-wees te beïnvloed en selfs uit te daag. As dit nie sensitief en met die nodige kennis aangepak word nie, sal dit die Suid-Afrikaanse LGBTQI-gemeenskap ontmagtig, pleks van bemagtig deur net weer dieselfde ou geykte stereotipes aan te blaas.

Dieselfde twiet het alreeds kommentaar ontlok, sommige daarvan wat aan haatspraak grens. Mense dreig om kykNET te boikot en Boer Damian word reeds op sosiale media dieselfde ou, geykte beledigings oor sy seksuele voorkeur toegesnou.

Terselfdertyd is daar ook baie lof vir die eerste gay boer op Boer Soek ’n vrou.

Om liefde te soek is moeilik en om jouself beskikbaar te stel – of dit nou op iets soos Tinder of op ’n toeoogafspraak is – is senutergend. Daar is altyd die vrees van verwerping, of jy goed genoeg is al dan nie, en al die ander ingewikkeldhede wat met die liefdesoektog gepaardgaan.

Mag ’n oorywerige vervaardiger ons nie reduseer tot ’n flambojante karakter met bitsige kwinkslae en ’n fantastiese klerekas of ’n hipermanlike butch boer nie.

Om dit dan aan te pak voor ’n TV-gehoor van etlike honderdduisend kykers wat elke ding wat jy doen in die fynste besonderhede gaan ontleed en boonop net op grond van jou seksuele voorkeur sekere vooroordele oor jou het, is skrikwekkend.

Daarvoor verdien Boer Damian reeds ’n paar punte vir hubaarheid: Hy’t waagmoed, durf en duidelik ’n stewige ruggraat, persoonlikheidseienskappe wat beslis ’n aanwins is vir enige lewensmaat, wat ook al jou opvatting van “manlik” en “vroulik” is.

Ek gaan egter nie vir Boer Damian ’n brief skryf nie, maar ek wens hom die beste toe in sy soeke na ’n lewensmaat.

Ek gaan eers kyk hoe kykNET gay deelnemers en die gay-identiteit in Suid-Afrika uitbeeld. Mag ’n oorywerige vervaardiger ons nie reduseer tot ’n flambojante karakter met bitsige kwinkslae en ’n fantastiese klerekas of ’n hipermanlike butch boer nie.

Net soos met straight mense is daar vele aspekte tot ons identiteit.

* Roets is ’n artikelskrywer by ’n Engelse dagblad. Die menings van rubriekskrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.