Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
'Waarom ek SA oor en oor bo Europa kies'

Drie jaar nadat sy Nederland toe verhuis het met die bedoeling om vir ewig daar te bly, keer Azille Coetzee terug na Suid-Afrika. Sy skryf oor die diep houvas wat hierdie land op haar het.

“In Suid-Afrika beleef ’n mens ’n soort eksistensiële vryheid.” – Azille Coetzee.

“Is jy nou térug?” vra ’n vriendin aan my, fronsend en met ongeloof in haar stem. Ons sit op die stoep van ’n nuwe trendy koffiewinkeltjie in Kaapstad. Die lug is potblou en daarteen afgeëts staan Tafelberg, enorm en helder.

Ek knik. My vriendin bly ’n oomblik stil, sit peinsend na die berg en kyk terwyl sy haar koffie roer. En dan: “Maar hóékom? Jy was dan so gelukkig daar? En dis veilig daar, en dis die éérste wêreld! Hier het ons probléme! En misdaad! Is jy seker jy doen die regte ding?”

Ons sit vir ’n tydjie in stilte terwyl ek my gedagtes probeer orden. Want dít is natuurlik die groot vraag: Waarom sou ’n mens die sekuriteit en stabiliteit van ’n gevestigde lewe in Europa verruil vir die eindelose kompleksiteit, onsekerheid en onstuimigheid van Suid-Afrika?

Want ek het besef dit is ’n ongelooflike luuksheid om naby jou familie en goeie vriende te woon. En om die meeste dae van die jaar sonskyn te hê. En om omring te wees deur die veelvuldige en uiteenlopende natuurskoon van Suid-Afrika.

In Nederland leer ’n mens vinnig dat Nederlanders ’n intuïtiewe sterk begrip het van wat normaliteit behels.

Maar dit is ook meer as net die familie, die vriende, die weer, die natuur en die bekende van ’n mens se vaderland. Dit is ook die vryheid wat ek voel hier in Suid-Afrika. Nie ’n fisieke vryheid nie (Nederland se strate is beslis veiliger), maar eerder ’n soort eksistensiële vryheid.

As ’n mens in Nederland is en jy wil iemand op ’n beledigende manier op sy of haar plek sit, doen jy dit deur te sê: “Doe even normaal.” In gewone Afrikaans beteken dit: “Wees normaal.”

Die eerste keer toe ek aanskou het hoe hierdie vreemde, dog kultureel gewigtige belediging gebruik word, was in (fiets)verkeer. ’n Man het ’n padreël oortree en voor ’n vrou ingery. Haar reaksie was om woedend op hom te skree dat hy normaal moet wees/optree.

Ek was oorbluf deur hierdie normatiewe gebruik van die idee van normaliteit, wat ek sedertdien gereeld in allerhande kontekste in Nederland teëgekom het. Wat is “normaal”? En hoekom is dit so ’n groot probleem as iemand nie “normaal” is nie?

In Nederland leer ’n mens vinnig dat Nederlanders ’n intuïtiewe sterk begrip het van wat normaliteit behels (’n begrip wat nie noodwendig toeganklik is vir ander nie). Hierdie gesamentlike geloof in en toewyding aan normaliteit word moontlik gemaak deur ’n diep kulturele en klasse-homogeniteit.

Dis ’n samelewing waarin die oorweldigende meerderheid van mense dieselfde taal praat, dieselfde televisieprogramme kyk, aan dieselfde klas behoort en dieselfde kultuur deel.

Azille tydens die Nederlandse winter.

Normaliteit kry dan ’n baie spesifieke kulturele en normatiewe lading: Om normaal te wees, is om so Nederlands as moontlik te wees, of ten minste om jou soos ’n Nederlander te gedra (wat dit ook al mag beteken). Dit is ook duidelik in die “inburgeringsplig” wat op elke immigrant in Nederland rus: As ’n mens Nederlandse verblyfreg wil hê, word daar van jou verwag om die taal, waardes en kultuur van die Nederlander te internaliseer. Mark Rutte, Nederland se premier, se boodskap aan immigrante was nou die dag: “Doe normaal, of ga weg.” (Wees normaal of verlaat Nederland.)

Dit is dié beheptheid met normaliteit wat heerlik afwesig is in Suid-Afrika. Verskeidenheid en veelvuldigheid is die kloppende hart van hierdie land en daardeur word “normaal” tot ’n onstandhoudende en leë begrip herlei.

Híérvoor sal ek oor en oor terugkeer.

Ook die onvoorspelbaarheid van die politiek, die onstabiliteit van die ekonomie, die mislukkings van die regering en die algemene ongereguleerdheid van die lewe hier skep die ruimte vir deurlopende skeppende vernuwing, verset, oorskryding van bestaande grense en ondermyning van die status quo.

Om hier ’n daaglikse bestaan te voer, verg van ’n mens om nuwe planne te maak, buite die boks te dink, probleme op te los en dinge te skep.

In Suid-Afrika is daar die vryheid, inspirasie en dryfveer om jou nie te veel te steur aan wat “normaal” is nie, maar om jou te rig op die marges, die onverwagse, die onaanvaarbare, en dít wat uitgesluit en onderdruk is.

Hierdie vryheid is riskant, maar opwindend. Ons word uitgedaag om konstant te verander, om ons te verset teen statiese en onderdrukkende standaarde soos “normaliteit”.

Só maak ons elke dag nuwe sin van die verbysterende en ryk kompleksiteit van ons samelewing.

Híérvoor sal ek oor en oor terugkeer.

En ja, dan is daar natuurlik ook Tafelberg . . .

* Dr. Azille Coetzee het pas haar doktorsgraad in filosofie aan die Vrije Universiteit van Amsterdam en die Universiteit Stellenbosch (US) verwerf.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.