Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Waarom het die bittereinders so lank bly veg?
Fransjohan Pretorius

Die polemiek in Beeld oor die besluit van die Boere-bittereinders om teen alle oënskynlike redelikheid met die Anglo-Boereoorlog vol te hou, dwing ons om te probeer vasstel waarom die bittereinders letterlik tot die bitter einde op kommando gebly het.

Natuurlik gaan ek veralgemeen, maar my ontleding is gegrond op die inhoud van honderde kommando-dagboeke en herinneringskrifte.

Eerstens was daar onder die burgers ’n wydverspreide vryheidsliefde en begeerte om die onafhanklikheid van die Boererepublieke te bewaar. Sedert die tweede helfte van 1900 was daar ’n belangrike ontwikkeling in die kollektiewe gedagtegang van die burgers op kommando, naamlik dat die gebrek aan offervaardigheid wat aan die begin swaar geweeg het, toenemend in die guerrillafase plek gemaak het vir ’n vasberadenheid om die oorlog teen elke prys voort te sit. ’n Samehorigheidsgevoel het die meeste burgers geestelik gesterk om aan die Boeresaak getrou te wees.

Daarmee saam was daar die rol wat die Boereleiers in die bemoediging tot die stryd gespeel het. Pres. Steyn – dikwels “die siel van die vryheidstryd” genoem – en genl. Christiaan de Wet was veral die eksponente van dié standpunt. By elke­ geleentheid wanneer die regering van die ZAR geweifel het, was dit hul onverbiddelike standpuntinname wat die voortsetting van die stryd verseker het.

Daar is ook geen kwessie nie dat die Boereleiers ’n beduidende invloed op die gewone burgers gehad het om in die stryd te volhard.

Daar is ook geen kwessie nie dat die Boereleiers ’n beduidende invloed op die gewone burgers gehad het om in die stryd te volhard. Hulle hoef alleen te vertel het hoe Brittanje die Afrikaners in die loop van die 19de eeu verontreg het.

Derdens was daar die geloof by baie burgers dat hulle om ’n heilige en regverdige saak veg, dat God aan hul kant is en Hy hulle daarom sal help, mits elkeen sy plig doen. Soos J.F. Naudé dit gestel het: “Wij gingen alleen voort, gesterkt door de rechtvaardigheid onzer zaak en met het oog des geloofs steeds op den Heer gericht.” Daarby het ’n geestelike verdieping in die loop van die oorlog menige burger aangespoor om tot die einde te volhard.

Vierdens was daar die toenemende vasberadenheid onder die burgers om die stryd voort te sit namate die Britse verskroeideaardebeleid ontplooi en berigte van die lotgevalle van hul familie in die konsentrasiekampe deurgesypel het. Daar is ’n magdom getuienis dat hierdie beleid waarmee lords Roberts en Kitchener die stryd tot ’n spoedige einde wou bring, in werklikheid die teenoorgestelde uitwerking gehad en die stryd verleng het.

Die belangrikheid van groepdruk en familiebande moenie onderskat word nie. Net soos hierdie faktore burgers van een groep of familie beweeg het om saam die wapen neer te lê, het dit ’n belangrike rol gespeel om burgers saam op kommando te hou.

En dan het die kommandolewe vir menige burger ’n leefwyse geword wat hy bang was hy nie in die burgerlike lewe maklik weer sou kon vind nie. Dit het vir hom vastigheid gebring. Ons kan aanvaar dat spesifieke redes nie ewe sterk by alle bittereinders aanwesig was nie en dat ’n kombinasie van verskeie faktore ’n burger tot die einde toe laat volhard het.

  • Pretorius is emeritus-professor in geskiedenis aan die Universiteit van Pretoria.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.