Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Waarom Kamala se prestasie betekenisvol is

Die ophef wat gemaak word van Kamala Harris se ras en geslag is nie oppervlakkig van aard nie, skryf Heindrich Wyngaard.

Kamala Harris is die eerste swart en vroulike visepresident in die VSA se geskiedenis.Foto: AP

Terwyl daar verlede week gejubel en gejuig is oor Harris se geskiedkundige inhuldiging as nuwe Amerikaanse visepresident, het dit een van Suid-Afrika se vernaamste (vroulike) politici minder as die res van die wêreld beïndruk. Haar naam is Helen Zille.

Dit is darem nie asof sy – eertydse Kaapstadse burgemeester, Wes-Kaapse premier en nasionale partyleier – Harris nie die eer gun nie.

Dit gaan eerder daaroor dat Zille nie ’n voorstander daarvan is dat die klem soveel geplaas word op die feite wat die inhuldiging so geskiedkundig gemaak het nie: dat Harris ’n vrou is, swart is en van Asiatiese afkoms is.

Die storie loop só: In my rol as radiojoernalis dag ek toe dit sal van belang wees om by een van ons land se mees prominente vroulike politieke rolmodelle te hoor wat haar reaksie op die volgende vrae is:

• Wat maak Harris se inhuldiging vir jou betekenisvol?

• Wat is vir jou ’n uitstaande kenmerk van haar as politikus?

• Is dit geregverdig dat klem ook op haar ras geplaas word?

• Hoe vergelyk haar verkiesing met die plek wat vroue in die Suid-Afrikaanse politiek beklee?

Helen Zille, voormalige Wes-Kaapse premier en leier van die DA. Foto: Jaco Marais

Zille het eers beleefd geantwoord dat sy weens ’n vooraf-afspraak ongelukkig nie beskikbaar sal wees vir die radio-onderhoud nie.

Nadat ek bogenoemde vrae deurgestuur het, oomblikke later, het sy vriendelik ’n “ander vroue-leier in die DA” voorgestel. Maar ek het verduidelik dat juis sý gevra is weens haar eie prestasierekord as ’n politikus wat deur die sogenaamde glasplafon vir vroue gebreek het.

Hiervan wou sy egter niks weet nie. Wat ek terugontvang het, was nie antwoorde op my vrae nie, maar teenvrae: “So, wat daarvan as sy ’n ietwat donkerder velkleur as ek het? So, wat as sy twee X-chromosome het?” Die vrae behoort eintlik te wees, skryf Zille: Is Harris ’n bekwame politikus? Is sy eties? Is sy hardwerkend?

“Dit is die enigste vrae waarin ek belangstel.”

“Punt. Stop. Klaar,” soos die Namakwalandse vlogger Miss Fierce sou sê.

Die begin van Zille se boodskap som egter haar standpunt mooi op: “Ek is so sat vir die neiging in ons tyd om almal se eienskappe volgens hul biologie te oordeel.”

En daarvoor het ek sekerlik begrip: die neiging in ons tyd behoort nié as ’n reël te wees om almal se eienskappe volgens hul biologie te oordeel nie. In Harris se geval gaan dit helaas nie slegs daaroor nie; sy slaag gewis die Zille-toets: bekwaamheid oor en oor bewys; geen klad op haar naam oor etiese kwessies nie; ongetwyfeld hardwerkend. Maar ek wens nou ek kon vir Zille sê waarom Harris se ras en geslag en herkoms tóg saak maak, nie dat ek vir een oomblik glo sy is nie bewus daarvan nie – ongeag of sy daarmee saamstem al dan nie.

Nou is die tradisie (gewoonte, norm) verbreek, op die kop gekeer, en daarvoor is daar bitter baie lank gewag – só lank dat generasies na hul graf is met die aanvaarding dalk dat dit nooit sou gebeur nie.

Die rede waarom Harris se pigmentasie en chromosoom-samestelling saakmaak, is omdat daar min of meer 50 ander vise-presidente voor haar was wie se velkleur dieselfde was en waarvan elkeen van hulle sowel X as Y chromosome gehad het.

Nou is die tradisie (gewoonte, norm) verbreek, op die kop gekeer, en daarvoor is daar bitter baie lank gewag – só lank dat generasies na hul graf is met die aanvaarding dalk dat dit nooit sou gebeur nie.

Maar hier is nóg ’n rede waarom groot gewag gemaak word oor Harris se aanstelling: Omdat dit ons moet aanmoedig om geleenthede te skep vir ander sodat die menseregteprokureur Melene Rossouw se droom op haar Facebook-blad bewaarheid moet word: “We must make women leaders the norm, not an exception to the rule.”

Harris se (Indiese) ma, vertel sy in haar outobiografie, The Truths We Hold – An American Journey, het haar in vroeër jare die belangrikheid van dié strewe op die hart gelê: “Jy mag dalk die eerste wees. Moenie die laaste wees nie.”

Wanneer die voorreg jou geval het dat jy deur die glasplafon kon breek – soos Zille, soos Harris – het jy ’n verpligting om ander daarmee te help.

En hier is die moeilikheid. In onse geliefde land, was nie almal altyd geliefd genoeg om geleenthede te kry nie.

Heindrich Wyngaard

Uit Die Burger, 20 Januarie 1971: “Ongeskoolde spoorwerkers wat nou aangemoedig word om beter gegradeerde poste in die Spoorweë te aanvaar, sal steeds beskerm word. Hulle sal nog altyd hoër lone ontvang as ongeskoolde nie-blanke werkers, wat in sommige gevalle blankes se werk sal oorneem.”

Dié soort bevoorregting, selfs op die mees basiese vlak van die arbeidsmark, selfs al was dit reeds ’n halfeeu gelede, het ’n verskriklike agterstand meegebring waarvan die reperkussies nog lank nie ingehaal is of gou mee afgereken sal word nie.

Natuurlik het die huidige regerende party ook heel veel hiermee te doen, maar laat ons nooit vergeet wat die oorspronklike wortel van die kwaad was nie.

Wanneer daar dan die slag ’n “lotusblom” (die betekenis van Kamala se naam en ’n simbool van betekenisvolheid in Indiese kultuur, lees jy in The Truths We Hold), gaan selfs ons hier vér van Washington DC af tekere asof dit familie is.

“A lotus grows underwater,” skryf sy, “its flower rising above the surface while its roots are planted firmly in the river bottom.”

In ons eie omstandighede, gegee ons land se geskiedenis van ontheemding op verskillende vlakke, is die versugting steeds daagliks dat meer en meer lotusblomme bó die oppervlak van die dam van geleenthede sal uitstyg.

Teen die tyd dat dié dam skitter van die lotusblomme, eers dán sal ons hopelik by die punt kom waar “die neiging in ons tyd om almal se eienskappe volgens hul biologie te oordeel” ver in die verskiet lê.

* Wyngaard skryf oor samelewingskwessies en is die aanbieder van die aktuele programme Kommentaar op RSG en KNverslag op kykNET, asook die geselsprogram KLOP! op kykNET&kie. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Kamala Harris  |  Helen Zille  |  Amerika  |  Suid-Afrika  |  Ras
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.