Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Waarom kan Volstruis nie meer vlieg nie?

My lewe kruis dikwels paaie met mense wat niemand anders iets gun nie. Hulle gee nooit krediet vir iemand anders se sukses nie. Hul missie is om kritiek uit te deel, te kyk waar hulle kan afknou en afransel. Die nydigheid slaan by hul sweetgaatjies uit.

Hoe sulke mense vreugde in die lewe vind, is ’n raaisel. Want êrens in hul siele moet hulle knersend naargeestig wees.

Normaalweg het hulle min of geen vriende nie, want hulle is slegte geselskap en bak hulself gou uit by gemoedelike sirkels. Pleks daarvan om die vinger na binne te punt, blameer hulle almal rondom hulle en kweek vyandskappe. Strydbyle, in die negatiewe sin van die woord.

Nydigheid ontstaan gewoonlik uit jaloesie, en die begeerte om ook in tel te wees. Die enigste manier hoe hulle in tel voel, is om ander mense soos vlooie te knip.

Dis nie om dowe neute nie dat die tiende gebod sê: “Jy mag niemand anders se huis begeer nie. Jy mag nie sy vrou begeer nie, ook nie ’n slaaf of slavin, ’n bees of ’n donkie, of enigiets anders wat aan hom behoort nie.” Want begeerte wat verkeerd gekanaliseer word, kan van jou ’n laakbare en gewetenlose dief van ander mense se lewensvreugde maak.

Toe bedink Bidsprinkaan ’n truuk om Volstruis se vuur te steel.

Dit herinner my aan die mite uit die San-kultuur oor waarom die volstruis nie kan vlieg nie. Dit gaan so: Dit het Bidsprinkaan opgeval hoe heerlik dit ruik op die plek waar Volstruis sy kos eet. Bidsprinkaan het nader gesluip en afgeloer wat die geheim is, want hy wou hê sy kos moet ook so smaklekker ruik.

Só sien hy Volstruis maak sy kos gaar op ’n vuur. Wanneer Volstruis klaar geëet is, tel hy die vuur op en bêre dit veilig onder sy vlerk vir ’n volgende dag.

Toe bedink Bidsprinkaan ’n truuk om Volstruis se vuur te steel. Hy vertel vir Volstruis van ’n pruimboom met soetgeel vrugte en sê hy sal die boom vir hom gaan wys.

So gesê, so gedaan. Toe Volstruis van die sappige vrugte begin eet, sê Bidsprinkaan hy moet rek om hoër by te kom, want die stroopsoetste vrugte sit heel bo in die boom.

Naïef staan Volstruis op sy tone om by te kom, en sprei sy vlerke oop om homself te balanseer. Daar en dan steel Bidsprinkaan die vuur onder Volstruis se vlerk uit.

Van daardie dag af het Volstruis sy vlerke styf teen sy lyf vasgeknyp en nooit weer probeer vlieg nie. Fluit-fluit, my storie is uit, soos my ma ons slaaptydstories geëindig het.

Al is dit ’n San-mite, lê ’n diep waarheid daarin opgesluit. Oor hoe integriteitloos sommige mense kan wees om húl sin te kry en húl behoeftes te bevredig ten koste van iemand wat sonder die geringste wantroue in die goeie bedoelings van sy naaste glo.

Bidsprinkane, hulle. Dis opmerklik hoeveel van hulle in die voorste gestoeltes van die kerk sit met handjies vroom voor die bors saamgevat. Terwyl hulle in der waarheid gesante van die bose is.

Meer oor:  Annelie Botes  |  Krediet  |  Gun
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.