Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Waarom raak hofsaak oor Poppie my so?
Annemarie van der Walt

Jy kan enige ouer vra na watter tyd in hul ouerskap verlang hulle die meeste in terugskouing, en die meerderheid sal sê daardie tyd toe jy jou spruite onder een kombers kon toegooi en elke oomblik van die dag geweet het waar hulle is, al het jy saans doodmoeg in die bed geval.

Want kinders grootmaak is vrek harde werk. Jy skarrel die ganse tyd her- en derwaarts.

Soms speel jy en laat ’n kind hoog deur die lug swaai – “kyk, jy kan vlieg!” – en op die gesiggie is totale uitbundigheid en dalk ook so ’n tikkie angs, maar so leer hulle iets van vertroue en waagmoed.

’n Kind van drie moenie by ’n deur “uitgevlieg kom” tot teen ’n kosyn nie, gegooi deur die een aan wie sy haar lewe te wyte het – in dié geval nie te danke nie.

Ek is naar toe ek dit gisteroggend op die koerantvoorblad lees, soos die meeste van ons.

Jimmel Here, kyk hoe fyn was die kind, soos ’n broos voëltjie waarvan die vlerke nog moes uitgroei. Inderdaad ’n Poppie-kind, maar al wat ek in my geestesoog sien, is armpies wat gryp na niks terwyl sy deur die lug trek.

Miskien kan jy ook, soos ek, die keer of wat onthou toe jy te hard geraas het met ’n kind en die skrik in die oë en jy die nag rondrol uit skuld, uit skaamte en bid “God, vergewe my”.

Hoe doen jy dit weer en weer, hoe kyk jy weg van die báng?

Hoe, o hoe, los jy die tenger vrug van jou lendene om “dood te speel”?

Ek kan kwalik kyk na die foto’s van Louisa en Kobus Koekemoer want ek kry die walging nie afgesluk nie.

Maar gisteroggend het ek die foto’s vergroot op die rekenaarskerm, gesoek na iets, enigiets, in hul oë.

Ek weet nie heeltemal waarna ek op soek was nie: Sagtheid? Skuld? Vrees? Daar was niks te siene nie.

Ek weet nie heeltemal waarna ek op soek was nie: Sagtheid? Skuld? Vrees? Daar was niks te siene nie.

Hoekom raak dié hofsaak my so, bloot maar een van verskeie waar gruwels en die mens se boosheid as voor-, hoof- en nagereg opgedis word?

Dalk omdat ek wat sal gee om net weer een keer vroegaand op die vloer langs ’n bad te sit en die dogters se klein lyfies te was, verwonderd oor die wónder daarvan, terwyl ons lawwe liedjies sing.

Of om weer een keer vir hulle My eseltjie Benjamin voor te lees, met hulle weerskante en onder my vlerk.

Miskien wil ek net nie herinner word aan my eie ongeduld en onnodige haastigheid nie; dat ek hul wêreld nog veiliger, sagter en gelukkiger kon maak.

Veral wil ek nie onthou van die kind wat jare gelede so ’n kort rukkie op die dorp gebly het nie, en sy het tydig en ontydig hier aangekom en as ek haar teen skemerte huis toe stuur, het ek verby die onwilligheid, ja, die angs, gekyk.

Ja, Fiela Komoetie: “God vergewe ons baie, maar God vergewe ons nie die kwaad wat ons ’n kind aandoen nie.”

Meer oor:  Poppie Van Der Merwe  |  Annemarie Van Der Walt  |  Poppie  |  Menings  |  Hofsaak
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.