Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Waarom skram ons weg van nuwe woorde?
Jana Luther

Kla ’n Afrikaanse teksredakteur dié week: “Bakkiesblad, potgooi en toep: die drie-eenheid van onsinnige, cutesy Afrikaanse nuutskeppings.” En voor jy kan sê “vonkpos” en “aapstert” is daar ’n rei wat dié weersin beaam: “Werklik vieslik.” “Jammer Facebook het nie opgooi-emoji’s nie.” “Daai woordjies is sooo pretentious!” “Regte mense praat nie so nie.” “Ek dink uit die hele spul pla ‘potgooi’ my die meeste. Dit is darem verskriklik gedwonge en het géén etimologiese meriete nie.”

Vir dophouers van taalverandering is dié soort gesprek interessant. Waarom ontlok spesifieke klankgrepe, tot woorde saamgevoeg, by sommige taalgebruikers soveel afkeer? Wie “bakkiesboek” gebruik, maak hopelik ’n grappie. Hopelik ook die skeppers van die meeste rymneologismes. Maar waarom word “potgooi” en “toep” (naas “podsending” en “app”) as walgwoorde beskou? In Afrikaans word baie woorde verkort: “Johannes” word “Jan”; “lisergiensuurdiëtielamied” “LSD”; “chemoterapie” “chemo”; “selfoon” “sel”; “eksman”, “eksvrou” “eks”. Ons het woorde soos “groep”, “roep”, “stoep”, “troep”. Maar onder die loep is dadelik “toepassing” “toep”.

Afrikaans, nes baie ander tale, het heelparty woorde te danke (?), te wyte (?), aan volksetimologie: Die Karibiese “amaca”, vir ’n hangende bed, word in Spaans “hamaca”, in Frans “hamac”, in Nederlands en Afrikaans uiteindelik “hangmat”. Die Ou Noorse “skyrbjúgr”, van “skyr” (suurmelk) en “bjúgr” (geswel), vir die siekte wat in die 13de eeu aan seevaarders se langdurige gebruik van suurmelk gewyt is, heet vandag “skeurbuik”. Maar skoei op dié lees uit Engels se “podcast” nou “potgooi”: Dan is “potgooi” dadelik ’n “nool woord”, glad nie cool nie, want vir volksetimologie het ons te slim geraak.

Nuwe woorde lyk dikwels lelik, sinneloos, belaglik, maar van hulle word mettertyd wel gebruik.

Sê iemand wat al 20 jaar weg is: “Daar is ’n groot gaping in my Afrikaanse woordeskat . . . Afrikaans ontwikkel steeds. Ek dink dit sal afhang van jonger taalgebruikers hoe ons taal 20 jaar verder gaan klink . . . baie soos ’n gebraakte vorm van Engels, of soos die unieke taal wat dit is . . . Dalk is my eintlike argument dat mense moet dink as hulle praat.”

In sy knap blog, “Sentence first”, oor Engels, skryf die Ier Stan Carey lank terug: “ ‘Not a word’ is not an argument.” Vry vertalend, dink ek, skaar ek my by hom: Wanneer mense woorde afskiet deur te sê “dis nie ’n woord nie”, sê hy, kan jy redelikerwys aanneem hulle bedoel dis ’n woord waarvan hulle nie hou, wat hulle nie sal gebruik nie, wat volgens hulle in die neutrale standaardtaal nie deug nie, wat ’n bepaalde woordeboek nie erken nie, wat hulle as onvanpas vir die konteks beskou.

Maar daar is ’n belangrike verskil. Neologismes, jargon, funksiewisseling word gereeld veroordeel. Nuwe woorde lyk dikwels lelik, sinneloos, belaglik, maar van hulle word mettertyd wel gebruik. Ek sê nie aanvaar elke nuutskepping nie, maar deur nuutskeppings te verdra in plaas van hulle veroordelend te beoordeel, kan ons ons heroriënteer ten opsigte van nuwe taalmoontlikhede . . . ’n Dempende gekibbel oor woordstatus negeer dat taal, hoogs produktief, hoogs speels, ons nooi tot kreatiwiteit. Wordnik se Erin McKean sê dit kort: “If it seems wordish, use it.”

  • Jana Luther versamel woorde by afrikaans-vandag.co.za.
Meer oor:  Jana Luther  |  Woord  |  Taal  |  Afrikaans
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.