Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
‘Waarom skryf jy altyd oor seks, my kind?’

Sy word gereeld gevra waarom sy oor seks skryf. Maar eintlik moet mense vra waarom al hoe meer vroue smeulromans lees, skryf Erla-Mari Diedericks.

erla-mari diedericks
Erla-Mari Diedericks

“Waarom skryf jy altyd oor seks, my kind?”

Ek voel dan elke keer soos die ouma wat deur Rooikappie gevra word:

“Waarom is jou oë so groot Ouma?”

“Om beter te kan sien, my kind.”

“Waarom skryf jy oor seks, Erla?”

“Omdat mense dit lees, Ma.”

Waarom skryf ek oor seks? Want dit is realisties. Ek skryf oor mense. En mense en seks gaan hand aan hand. Lyf aan lyf.

Dit voel vir my half laf om dit uit te laat.

Tog is dit nie vraag wat gevra moet word nie. Die eintlike vraag is: Waarom lees vroue dit? En waarom begin al hoe meer vroue boeke te lees met vuurwarm tonele tussen die lyne?

Nou onlangs het ek twee smeulromans geskryf, ook bekend as die hygroman. Interessant genoeg het ’n buitelandse maatskappy die term “romantika” laat registreer vir hierdie uiters gewilde genre.

Sedert die 'Fifty Shades'-reeks die rakke getref het, het die boekbedryf ’n sterk toename in erotika beleef – met vroue as die oorwegende lesersgroep.

Basies is romantika ’n kruising tussen die gewilde romanse en erotika. En die bekendste voorbeeld hiervan is natuurlik Fifty Shades of Grey. Die gewildheid van die boek het bewys wat ek as vrou al lankal weet – nie alle vroue is konserwatiewe koeke wat net NP van Wyk Louw se gedigte en kookboeke lees nie.

Inderdaad lees baie vroue romantika.

Sedert die Fifty Shades-reeks die rakke getref het, het die boekbedryf ’n sterk toename in erotika beleef – met vroue as die oorwegende lesersgroep. Rofweg verdien smeulboeke sowat R1,44 miljard dollar in die buitelandse mark en beslaan dit 44 persent van die lesersmark met Krimi en Christelike boeke (sowat 20 persent elk) wat daarna volg.

Maar waarom hou vroue van hierdie boeke waar die romanse nie net ophou by ’n kuis soen op die voorstoep nie?

As tiener het ek enige Kaaps-Hollandse boek, en verbode Afrikaanse en Engelse boeke verslind – oor dieselfde, eenvoudige rede – daar was seks in.

In die Kaaps-Hollandse romanses was dit eerder die suggestie daarvan – ’n aantreklike Franse edelman wat haar van rowers red en haar opraap op sy swart hings en haar styf teen sy manlike gespierde lyf druk.

Enigiets van André P. Brink het ek van die rakke gegryp – wat my Afrikaanse onderwysers verskriklik beïndruk het en dalk my loopbaan as skrywer gevorm het – maar dit was alles agter die stoute paragrawe aan.

Ek het in die aardrykskundeklas die eerste verbanne oorsese boek in die hande gekry. Ek was in standerd nege. Die wilde seuns wat altyd agter in die klas gesit het, het my gereeld gespot oor ek ’n boekwurm was.

Van die grootste kritici van die erotiese roman vir vroue – in die verlede en in die hede – is manlike resensente en manlike skrywers. En natuurlik die mans wat droëbek sit terwyl sy vrou meegevoer word deur die romantiese held in haar boek. Dalk moet jy maar een van hierdie boeke optel, meneer. Julle kla altyd julle weet nie wat vroue wil hê nie. Maar daar sal jy die antwoord vind. In swart en wit.

En toe, een periode toe Hammies uit die klas was, het hulle Princess Daisy deur Judith Krantz in my hand gedruk – oopgemaak by ’n spesifieke hoofstuk en selfs gemerk sodat ek dit nie moet mis nie.

Glo maar vir my, E.L. James kan gaan slaap.

Die spesifieke toneel het prinses Daisy, ’n Arabiese prins en ’n goudvissie behels. Onthou dit was die tagtigs toe politieke korrektheid en diereregte nie juis bestaan het nie.

Ek sal nooit, ooit weer met dieselfde oë na ’n goudvissie kyk nie.

Maar ek het gou geleer waarom vroue van sexy boeke hou. Waar pornografie bedreigend kan wees vir die vrou (sy voel sy lyk nie soos die porno-ster nie of sy voel die vrou word misbruik of die seks is nie noodwendig gemik op waarvan vroue hou nie) is romantika gemik op die vroulike fantasie.

Vir baie vroue gebeur seks eers in die brein voordat dit deurgevoer word na die res van haar lyf. Mans word meestal visueel gestimuleer, ’n vrou deur woorde en fantasieë wat sy in die privaatheid van haar binneruimte oor kan droom.

Mans is dan ook nie so mal oor smeulboeke nie en hier is die rede – in die romantika word die vrou se plesier eerste gestel.

Want – moenie die belangrikste funksie van hierdie boeke vergeet nie – dit verskaf seksuele plesier en skep ontvlugting. Wat veral belangrik is in hierdie moeilike tye waarin ons leef.

Navorsing dui daarop dat die lees van romantika vroue se stresvlakke verlaag en ook hul sekslewens kan opkikker. Tog het smeulboeke ’n slegte naam en word dit dikwels bespot en beswadder – maar deur wie?

Deur mans.

Van die grootste kritici van die erotiese roman vir vroue – in die verlede en in die hede – is manlike resensente en manlike skrywers.

En natuurlik die mans wat droëbek sit terwyl sy vrou meegevoer word deur die romantiese held in haar boek.

Dalk moet jy maar een van hierdie boeke optel, meneer. Julle kla altyd julle weet nie wat vroue wil hê nie. Maar daar sal jy die antwoord vind. In swart en wit.

Romanse. Opwinding. En ’n man wat ’n vrou plesier wil gee – maak nie saak wat nie.

* Diedericks is ’n redaksielid van Netwerk24. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

* Kontak Diedericks by erladieskrywer@gmail.com vir inligting oor haar smeulboeke.

Meer oor:  Erla-Mari Diedericks  |  André P. Brink  |  Seks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.