Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Waarom so ’n haas?
Gerhard van Huyssteen

Voltooi die idioom: Hoe meer haas, hoe . . . ?

Ek giggel steeds elke keer soos ’n sesjarige as iemand “hoe meer haas, hoe groter pastei” antwoord. Oud en flou, maar klassiek. En natuurlik werk “hoe meer haas, hoe minder jakkals” ook, maar die pasteigrappie is vir my snaakser.

Waarom is dit snaaks? As gevolg van die meerduidigheid van die woord “haas”: Dit ­verwys óf na spoed (die oorspronklike bedoeling van die idioom “hoe meer haas, hoe minder spoed”) óf na ’n knaagdier wat bekend is vir sy spoed, lang ore en groot voortande.

In 1975 het die bekende filosoof Paul Grice die sogenaamde samewerkingsbeginsel in kommunikasie omskryf. As ons daagliks op ’n normale wyse met iemand kommunikeer, dan verwag albei gespreksgenote dat die ander persoon saamwerk – ons wil gesamentlik iets bereik, niemand kleur buite die lyne in nie.

Wanneer ek sê “ek hou van vleis”, dan kan my gespreksgenoot sonder meer veronderstel dat ek bedoel dat ek daarvan hou om skaap-, bees- vark- of hoendervleis te eet. “Ek hou van vleis” kan natuurlik óók impliseer dat ek daarvan hou om – die hemele help ons – met vleis te speel, of dat ek van papegaaivleis hou of dat ek van ’n omvattend gelyfde bedmaat hou. Maar Grice se samewerkingsbeginsel bepaal dat die eerste interpretasie die gereeldste een sal wees, naamlik dat ek graag gewone slaghuisvleis eet. Dis hoe ons daagliks vinnig en moeiteloos kan kommunikeer sonder om elke keer elke moontlike meerduidigheidjie te hoef te ontwar.

In die Afrikaanse taalkunde is die rol van meerduidigheid in humor al deeglik beskryf, veral deur Anna-Mart Schwerdtfeger en Pieter de Bruyn. Die basis van die meeste woordgrappe is juis woordspeling (ook genoem paronomasia; in Engels ’n pun), waar veral homonieme gebruik word om éérs ’n verwagting te skep en dan die samewerkingsbeginsel te oortree deur juis die ander betekenis van die woord te aktiveer.

Nog ’n flou grappie:

Wat noem jy ’n hasie wat Sondae preek? ’n Kansellasie.

Aangesien Moses vir Farao gedien het, maak dit hom die oudste tennisspeler in die Bybel. Die meerduidigheid van “dien” lê die grappie ten grondslag. In die eerste instansie word die betekenis “werk vir ’n ander persoon verrig” geaktiveer – Moses was een van die Farao se dienaars. Maar dan word die samewerkingsbeginsel grof (flou?) oortree in die tweede deel van die sin, wanneer die ander betekenis van “dien” geaktiveer word, naamlik as sinoniem vir “afslaan” in tennis.

Een van die gesofistikeerdste hoërgraadgrappiegenres in Afrikaans is die bekende hasiegrappies. Byvoorbeeld: Wat noem jy ’n hasie wat Sondae preek? ’n Kansellasie.

In hierdie grappies gaan dit daaroor dat die agtervoegsel -asie dikwels uitgespreek word met die glottale klapklank [?]: “Kansellasie” word eintlik streng gesproke uitgespreek as [k?ns?l?asi] en nie as [k?ns?lasi] nie.

En as jy dié eers snap, het jy honderde moontlike grappies tot jou beskikking, want daar is byvoorbeeld 366 woorde in die AWS wat op -asie eindig.

Wat noem jy ’n kunstige hasie? ’n Illustrasie. Wat noem

jy ’n hasie met ’n Fitbit? ’n Fiksasie. Wat noem jy ’n hasie op LSD? ’n Hallusinasie. Wat noem jy ’n klomp mense wat hasiegrappies vertel? ’n Organisasie. Wat noem jy iemand wat die hele tyd hasiegrappies vertel? ’n Irritasie . . .

Meer oor:  Gerhard Van Huyssteen  |  Taal  |  Afrikaans  |  Diere  |  Haas  |  Vleis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.