Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Waarom swak regering beloon?
Christo van der Rheede

Waarom hou baie kiesers vol om vir korrupte politici en politieke partye te stem wat nie dienste lewer nie? Midde-in al die uitdagings wat gemeenskappe ervaar, pak hulle die stadions vol om na dieselfde politici te kom luister wat hulle afvee aan die armoede en verval.

’n Voorbeeld hiervan is die 108ste bestaansjaarvieringe van die ANC. Te midde van die rioolvuil wat in agterplase in Kimberley opdam en die ineenstorting van regering in dié eens mooie stad, is die vieringe deur derduisende ondersteuners bygewoon.

Op die koop toe is ’n reuse-verjaardagkoek met kersies deur die ANC-leiers verorber. Ten aanskoue van derduisende ondersteuners wat elke kriesel verlangend gade slaan.

Die onlangse uitslae van die Mamusa-tussenverkiesing is nog ’n voorbeeld van kiesers wat ongeag die ontbinding van die munisipale raad weens wanbestuur, voortgaan om hul vertroue in dieselfde politieke ampsdraers te plaas. Hulle het dorpe soos Schweizer-Reneke en omliggende gebiede in die afgrond bestuur.

Die volgehoue steun vir korrupte en onbevoegde politici is ’n wêreldwye probleem. Milan Vaishnav, skrywer van ’n boek oor misdaad en demokrasie in Indië, wys daarop dat ’n derde van LP’s wat in 2014 verkies is, deur vervolging in die gesig gestaar word. Die belangrikste argument wat hy aanvoer, is dat kiesers ’n strategiese motivering vir hul steun vir sulke kandidate het. Hulle soek toevlug by politici wat hul etniese belange op die hart dra.

In ’n studie wat verband hou met dieselfde verskynsel in 24 Europese lande, vind die navorsers dit ewe vreemd en verwarrend dat – gegewe die ernstige gevolge van korrupsie en die feit dat Europese burgers ’n afkeer van sulke praktyke het – politici en politieke partye wat daaraan skuldig is, telkemale daarin slaag om hul ondersteuningsbasis te behou en selfs herkies te word.

En baie sal eerder tuis bly as om te stem vir ’n ander party van wie hulle ideologies verskil.

Hulle kom tot die gevolgtrekking dat kiesers se persoonlike ideologiese basis ’n deurslaggewende rol speel.

In die afwesigheid van ’n alternatiewe party wie se ideologie min of meer in pas is met hul eie ideologiese basis, gaan hulle voort om vir hul voorkeurparty te stem – ongeag of daardie party by ’n korrupsieskandaal betrek word.

En baie sal eerder tuis bly as om te stem vir ’n ander party van wie hulle ideologies verskil.

Navorsing oor die einste uitdaging in Brasilië wys daarop dat korrupsie ná die herinstelling van ’n demokratiese burgerlike regeringsbestel in 1985 toegeneem het. Dit is in teenstelling met ’n kernbeginsel in die demokrasie dat die kieser die mag het om politieke ampsdraers tot verantwoording te roep.

Matthew S. Winters en Rebecca Weitz-Shapiro – professore in politieke wetenskap aan onderskeidelik die Universiteit van Illinois en die Brown-Universiteit, bied twee verskillende redes waarom baie kiesers in Brasilië en wêreldwyd vir korrupte politici stem. Hulle meen kiesers het óf nie inligting oor die korrupte gedrag van ’n korrupte politikus nie óf hulle steun korrupte politici bewustelik vanweë die suksesse wat hulle op ander gebiede behaal.

Marko Klasnja skryf in ’n meningstuk meer as 60% van die lede van die Amerikaanse kongres wie se etiek ernstig bevraagteken word en wat by een of ander korrupsieskandaal betrokke was, is die afgelope dekade herkies. En die rede, beleid wat kiesers bevoordeel, weeg swaarder as die swaard van korrupsie wat oor ’n politikus se kop hang wat daardie einste beleid voorstaan.

’n Mengsel van faktore, veral wat kiesers se belange eerste stel, gee dus die deurslag. En in Suid-Afrika is koek (wat ten aanskoue van die massas verorber word) altyd ’n wenner!

Meer oor:  Christo Van Der Rheede  |  Politiek  |  Swak Regering  |  Opposisie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.