Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Waar’s die tyd van kodeluie op die plaaslyne?
Annelie Botes

As jy jouself deel maak van die sosiale media, moet jy weet jy skep ’n platform waar mense jou kan rondruk soos ’n voos lap – elke Jan Rap en sy maat het die reg om jou privaatheid binne te bars.

Hierdie inbarsting het menige van ons al met irritasie beleef. Veral die bejaardes, soos ek, wat nie al die draaitjies van die sosiale media verstaan nie, en soms hande in die hare sit oor hoe om dit te verstel of te verwyder.

Kort-kort moet ek na ons Nasti-kind roep om my te red van propagandiste, bekruipers, godsdiensfanatici en teisteraars.

In die alledaagse lewe kan ’n mens kies of jy aan die VLV, die Musiekvereniging of die Tuinbouklub wil behoort.

Op die sosiale media kry jy net ’n blatante boodskap dat jy by dié of dáárdie groep bygevoeg is.

Dan sit jy in jou inboks opgeskeep met die groep se ligsinnige pratery oor sake waarin jy geen belang het nie. Dit grief die dinges uit my uit.

“Ma moet net leer hoe om dit te verander,” sê Nasti, “dis eintlik baie maklik.”

Vir Ma is dit nie eenvoudig nie. Want Ma stam uit die tyd van die lei en griffel. Toe daar op die plaaslyn drie kortes en ’n lange gelui is. Toe fonogramme die blitsigste maniere van kommunikasie was. Toe daar slag op slag ’n gawe stapeltjie handbriewe met betowerende seëls op in die possak was.

In ons Bedford-jare, doer in 1994 se koers, kom die gryse by die huis en vertel ’n storie van ’n nuwe soort foon wat aan die kom is.

’n Mens kan jou kwalik ’n tyd vóór selfone voorstel. In ons Bedford-jare, doer in 1994 se koers, kom die gryse by die huis en vertel ’n storie van ’n nuwe soort foon wat aan die kom is.

’n Kleine foontjie wat jy in jou sak kan dra, en dit werk sonder drade. Ek het dit afgemaak as ’n foefie. Maar toe verander die pampoen in Aspoestertjie se koets, en deesdae is die besit van dié “foefie” so vanselfsprekend soos asemhaal.

Netsoveel as wat ek my selfoon as ’n noodsaaklikheid beskou, netsoveel vervloek ek soms die dag toe ek ’n selfoon gekry het.

Veral as ek vroegmôre wakker gepiep word deur ’n Helen Steiner Rice-boodskap wat my die mooiste daggie toewens. Kompleet met fladderende engelvlerkies en pienk rosies wat hulle koppe knik. Ek weet mos voor my siel die verveelde afsender stuur dieselfde boodskap vir ’n gros mense.

Wat ek ook voor my siel weet, is dat ek nie kan waag om die afsender mooiweg aan te spreek nie. Want sy gee onomwonde te kenne dis soos die uitdeel van ’n handrug-klap deur die gesig. Dieselfde met vreemdelinge wat op Messenger ’n ek-waai-vir-jou-boodskap stuur.

Soos die vrou wat op Messenger sê ek deel stank vir dank uit in ruil vir goeie bedoelings, en sy is spyt sy het geld bestee om ’n boek van my te koop. Eisj . . .

Hopelik kom daar ’n dag waarop mense besef daar is etiket aan die gebruik van sosiale media: Jy voeg nie net mense by ’n groepie nie. Jy stuur nie pienk teksversies ad libitum uit nie.

En jy mors nie vreemdelinge se tyd met ’n waaiery nie.

Meer oor:  Annelie Botes  |  Menings  |  Sosiale Media
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.