Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Standpunt
Wag Nirvana of Armageddon?

Waarheen is ons as mense op pad? Is ons onderweg na Nirvana – die toestand volgens Oosterse godsdienste van die staking van ewige hergeboorte en die aanbreek van volkome geluksaligheid? Of is ons bestemming Armageddon, die oord van die finale konflik tussen goed en kwaad – voorspel tot die “laaste oordeel”?

Dit is op die oog af naïewe en dalk onbeantwoordbare vrae. Maar in tye van oorloë, gerugte van oorloë, terminale siektes, moordenaar-virusse en pandemies bly dit terugkerende vrae. In ernstige intellektuele kringe (vergelyk die werk van prof. David Benatar, filosoof aan die Universiteit van Kaapstad) word “anti-natalisme” ernstig gepropageer. Dit is die standpunt waar aangevoer word dat ons as ’n spesie daarna behoort te streef om uit te sterf, in ag genome ons nimmereindigende fontein van slegte ervarings, asook die skade wat ons aan die aarde aanrig.

Prof. Anton van Niekerk
Prof. Anton van Niekerk

Oor of ons as mense ons bevind in ’n stygende kurwe van prestasie en voorspoed, en of ons onkeerbaar aan die versink is in ’n maalkolk van (self)vernietiging, stry die geeste al lank. Ons hoef nie verder te gaan soek as die 19de eeu nie.

Kultuurhistories sal daardie 100 jaar altyd aangeteken staan as die eeu van voorspoed, gedryf deur die geloof in vooruitgang en optimisme. In sy magistrale boek The Birth of the Modern toon Paul Johnson treffend aan watter stortvloed van tegnologiese en ander ontdekkings in slegs die tydperk 1815 tot 1830 (die 15 jaar ná Napoleon se nederlaag by Waterloo) gedoen is.

Teenoor die vooruitgangsgeloof van die 19de eeu staan die katastrofes (wêreldoorloë!) van die eerste helfte van die 20ste eeu. As ons die gerekende Harvard­-intellektueel Steven Pinker kan glo (volgens sy The Better Angels of Our Nature), is die 20ste eeu steeds verreweg die beste en voorspoedigste tyd om in te leef, ongeag die oorloë en geweld.

Dit toon hy aan met ’n stortvloed van empiriese getuienis wat hy in grafiek ná grafiek illustreer. Yuval Harari is eweneens gaande oor die onpeilbaarheid van die moontlikhede van die komende vierde nywerheidsrevolusie. Hy voorspel met groot stelligheid dat onsterflikheid (of ten minste ongekende verlengde lewensduur) die sentrale agenda van die 21ste eeu gaan wees.

Wat staan ons dan te doen: Om soos Pollyanna (onthou u haar nog?) slegs die silwer randjie van die wolke te bly sien en onverpoosd te bly glo in ’n beter wêreld?

En tog, te midde van al hierdie kakebeen-verlammende prestasies van ons tyd, veg ons skielik teen ’n onsigbare monster-virus wat dreig om miljoene om die lewe te bring. Dit herinner ons aan die Spaanse Griep van ’n eeu gelede wat veel erger verwoesting gesaai het. Ons het ten minste die moontlikheid van entstowwe, wat 100 jaar gelede onbeskikbaar was of nie naastenby so gou ontwikkel kon word nie.

Wat staan ons dan te doen: Om soos Pollyanna (onthou u haar nog?) slegs die silwer randjie van die wolke te bly sien en onverpoosd te bly glo in ’n beter wêreld? Of moet ons identifiseer met die bipolêre pessimis, wat, in reaksie op Pinker se aandrang dat ons in die beste moontlike wêreld leef, droogweg antwoord: “Ek is so bang hy is reg!”

Albei moontlikhede moet afgewys word. Slegs 11 jaar voor die Eerste Wêreldoorlog en Spaanse Griep vlieg die Wright-broers vir die eerste keer self­aangedrewe. Wilbur sterf in 1912. Or­ville leef lank genoeg om die eerste vliegtuig in die 1940’s deur die klankgrens te hoor bars en word lid van die kommissie wat ontwikkel in die Amerikaanse ruimteagentskap Nasa – wat die eerste mens in 1969 op die maan laat stap. Alles slegs in 66 jaar!

As spesie is ons ’n aflossende samespel van vermoë en onmag, prestasie en mislukking, vordering en agteruitgang, triomf en nederlaag. Watter een gaan wen, bly, met enkele uitsonderings, ons keuse. Dáároor het ons geen keuse nie.

  • Van Niekerk is ’n professor in filosofie aan die Universiteit Stellenbosch.
Meer oor:  Anton Van Niekerk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.