Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Waghond reg om te knak
Themba Godi, voorsitter van Skoor, tydens ’n onderhoud in sy kantoor in Kaapstad. Foto: Jaco Marais

Hy voel of hy in duie gaan stort, sê die man wat waghond is oor hoe die staat sy geld bestee.

Themba Godi is iemand wat op die punt is om te knak.

“Dit is moeilik, baie moeilik. Ek het die afgelope dae ’n paar keer gevoel of ek in duie gaan stort – liggaamlik.

“En ek het nou begin om mense wat deurentyd vir my sê ek lyk moeg, ernstig op te neem, want ek ís uitgeput . . . Ek het so te sê nooit ’n dag vry nie; ’n dag waarop ek net kan wakker word en ontspan nie. So, fisiek en emosioneel tap dit my, maar ek glo wat reg is en in die belang van die mense is, moet altyd eerste kom. My persoonlike gemak . . . dit moet laaste kom.”

Só praat die man wat die afgelope 12 jaar voorsitter is van Skoor, die staande komitee oor openbare rekeninge. Hy en sy komitee moet as waghond optree oor hoe die regering belastingbetalers se geld bestee.

’n Mens verstaan waarom hy gedaan is. Die staat oor wie se besteding hy moet waak, is immers besig om self te steier onder korrupsie, wanbesteding, staatskaping en gebrekkige dienslewering.

Die onderhoud vind plaas in Godi se kantoor in die gebou wat ironies genoeg Goeie Hoop heet. Dit is neffens die parlement. Godi is benewens Skoor-voorsitter ook stigter en leier van die African People’s Convention. Hy was voorheen ’n leiersfiguur in die Pan Africanist Congress of Azania (PAC) en word steeds deur die ideologie van wyle Robert Sobukwe, stigter van dié party, gerig. Teen die muur agter hom is ’n gelamineerde foto van Sobukwe waarby die volgende aanhaling staan: “How can man die better than facing the fearful odds. For the ashes of the forefathers, and the temples of his Gods?”

Die onderhoud vind plaas in Godi se kantoor in die gebou wat ironies genoeg Goeie Hoop heet.

Skoor het verlede jaar op sy strategievergadering onderneem om die parlement weer sentraal te maak in die stryd teen korrupsie, wanadministrasie en geldvermorsing. En Skoor moet die belangrikste instrument wees waardeur dit gedoen word, sê Godi.

“Skoor het sedertdien sy oorsigrol versterk. Ons hooffokus is die onregmatige of wanbesteding van geld deur departemente. Daar was tot dusver vanjaar ’n aantal hoëprofiel-sittings wat groot openbare aandag geniet het.”

Hy noem Sassa, Eskom, die SAL en die nasionale tesourie.

“Ons interaksie met die nasionale tesourie was van sleutelbelang, want ons het die lig geskyn op ’n donker hoek . . . almal het aanvaar die tesourie doen die regte ding en skielik blyk dit dat alles nie pluis is nie.”

Een van die grootste uitdagings waarmee Skoor te kampe het, is die krisis in Sassa, die Suid-Afrikaanse Agentskap vir Maatskaplike Sekerheid,

“Sassa is besig om sy voete te sleep. Die konstitusionele hof het al in Maart bevind Cash Paymaster Services (CPS) moet voortgaan om maatskaplike toelaes te betaal totdat ’n kontrak met ’n nuwe entiteit gesluit word, maar tot vandag toe is daar nog nie ’n nuwe kontrak nie.

“Hulle het maande gelede al besluit ’n kontrak sal met die Poskantoor gesluit word om die uitbetalings te behartig. Dit moes aan die einde van Augustus gebeur het, maar dit het nie gebeur nie. Nou sê hulle vir ons dit sal volgende week gebeur . . . Wel, ons sal maar sien. ’n Mens kry die indruk daar is ongerymdhede aan die gang.

“Indien Sassa nie sy werk doen nie gaan weerlose mense wat afhanklik is van die toelaes blootgestel word aan geweldige ontberinge – hulle gaan níks hê nie. Ons praat hier van militêre veterane, van pensioentrekkers, van mense met gestremdhede, van weeskinders – dit is die mees weerlose mense in ons samelewing.

Dit stuur ’n boodskap aan die buitewêreld dat ons as ’n land eenvoudig nie weet wat ons doen nie.
Themba Godi

“Dit stuur ook ’n boodskap aan die buitewêreld dat ons as ’n land eenvoudig nie weet wat ons doen nie; ons is lomp en ons kan nie ernstig opgeneem word nie. Al dié dinge het ’n invloed op byvoorbeeld beleggings en die besluite van graderingsagentskappe. Die skade wat Handelsmerk SA weens dié debakel gely het, is enorm. En as dit volgende jaar weer gebeur, is dit onvoorstelbaar hoe erg dit gaan wees.

“Ek is net verbyster; ek sukkel om te verstaan hoe en waarom dit blyk asof die amptenare en die politieke leiers kan aangaan asof daar nie ’n probleem is nie.”

Is daar ’n werklike gevaar dat die uitbetalings in duie kan stort?

“Nie regtig nie. Die uitdaging is om te sorg dat dit nié in duie stort nie; dat CPS voortgaan met die betalings totdat die Poskantoor die kontrak kan oorneem.

“CPS het die kontrak op ’n oneerlike wyse bekom, soos die konstitusionele hof bevind het, en hulle is toegelaat om voort te gaan om die uitbetalings te doen met dien verstande dat Sassa ’n behoorlike kontrak skep – dít het nie gebeur nie. En toe die kontrak eindig, was daar niks wat CPS kon vervang nie.

“Al dié vertragings sal die land weer eens in ’n posisie plaas waar daar geen alternatief is as om voort te gaan om CPS te gebruik nie. Ek dink dít is wat agter die vertragings skuil.

“Ons vermoed diegene wat nie wil hê CPS moet vervang word nie, het gevestigde belange daarin om die status quo te handhaaf.”

Bathabile Dlamini, die minister van maatskaplike ontwikkeling, het nie die laaste twee vergaderings met Skoor bygewoon nie.

Skoor wou dit nie aan die groot klok hang nie; hulle wou hul fokus behou, sê Godi. Dan gebruik hy ’n beskrywing wat spreek van beheerstheid en wonderlike onderbeklemtoning: “I don’t think she has necessarily covered herself in glory . . .”

Ons praat oor staatskaping.

Ek glo vas die SAL kán winsgewend wees, maar ek is ook daarvan oortuig dat daar báie wanbestuur is.
Themba Godi

“Dit was Skoor wat Eskom aanvanklik aangevat het oor die toekenning van die Tegeta-kontrakte. Maar sedert die portefeuljekomitee oor openbare ondernemings opdrag gekry het om staatskaping te ondersoek, het Skoor besluit om terug te staan sodat daar nie veelvuldige prosesse aan die gang is nie; laat hul prosesse voortgaan en dan kyk ons hoe dit verloop.

“Ek dink as ons alle departemente ondersoek, sal ons vind daar ís individue en maatskappye wat sekere departemente gekaap het. Indien ons onder staatskaping verstaan die oorheersende betrokkenheid van ’n spesifieke maatskappy in ’n staatsdepartement of -departemente aan wie daar herhaaldelik kontrakte toegeken word, sal ons vind dit is nie tot die Guptas beperk nie. Daar is ’n hele klomp ander mense wat, omdat hulle nie politieke golwe maak nie, daarin slaag om stilletjies buite die openbare oog met soortgelyke dinge weg te kom.”

Wanneer ek hom oor die SAL uitvra, sug hy soos iemand wat moedeloos is.

“Die situasie by die SAL is baie betreurenswaardig. Weer eens: Dit was hul verskyning voor Skoor wat die verderf (rot) onder die soeklig geplaas het. Die parlement en die publiek het ’n punt bereik waar die gevoel is indien die SAL nog openbare geld gaan kry om kop bo water te hou, moet twee dinge gebeur: Hy moet hom aan openbare ondersoek deur die parlement, en spesifiek deur Skoor, onderwerp. En tweedens: Hy kan nie voortgaan soos voorheen nie; as hy openbare geld kry, kán hy dit nie net (weer) mors nie. Daar moet ’n wesenlike skuif wees in die wyse waarop hy dinge doen.

“Ek glo vas die SAL kán winsgewend wees, maar ek is ook daarvan oortuig dat daar báie wanbestuur is. Daar is baie donker hoeke waarop die soeklig nog geskyn moet word. Ons onlangse ontmoeting met hom was baie voorlopig, dit was die begin van ’n reis. Ons het vir hom gesê: ‘Dié is ’n reis wat ons saam met jou gaan onderneem totdat dinge reg is.’”

Maar tydens ons onderhoud bel sy sekretaresse om te sê die SAL het die beplande vergadering met Skoor uitgestel.

“Dié mense behoort Skoor se betrokkenheid met geesdrif te verwelkom as ’n wyse waarop vertroue in hulle herstel kan word, maar nou wil hulle ons rondneuk – ek vind dit onaanvaarbaar en ongelooflik. Dit spreek van ’n traak-my-nie-agtigheid of ’n vreemde selfvertroue, en tog is hulle besig om op ’n daaglikse grondslag droog te maak.”

Dink hy Skoor het onder sy leiding genoeg gedoen om korrupsie te beveg?

“Toe ek as voorsitter oorgeneem het, was Skoor net besig om uit die debakel rondom die regering se wapenaankope te kom, iets wat Skoor uitmekaar geskeur het. Toe het die proses begin om die stukke weer op te tel.

Die naam van pres. Jacob Zuma laat hy nie oor sy lippe kom nie.

“In my eerste twee termyne was ons bedrywighede redelik normaal: daar is aan departemente sekere vrae gestel, verslae is geskryf en aanbevelings is aan die parlement gedoen.

“Maar in my derde termyn, wat saamgeval het met die vyfde parlement (en Zuma aan die bewind) het ons besef ons moet nou sake anders aanpak as ons beter resultate wil kry. Ons en die ouditeur-generaal het jaar in en jaar uit geldsake ondersoek en verslae daaroor geskryf sonder dat dit tot enige veranderinge gelei het.

“Die keerpunt vir ons het verlede jaar tydens ons strategiebeplanningsvergadering gekom. Wat moet ons anders doen om ander resultate te kry? het ons gevra.

“Een manier was om die toenemende eenheid in die komitee (tussen lede van verskillende politieke partye) nog verder te versterk. Twee was om te kyk hoe kan ons alle staatsorgane en burgerlike instellings kry om saam met ons te werk en hul kennis en vaardigheid met ons te deel.

“Ons het toe die teenkorrupsietaakspan en die Valke by ons bedrywighede betrek. Dit alles het ’n sterk positiewe uitwerking op die wyse waarop Skoor werk, die samehorigheid wat daar nou in die komitee bestaan en die selfvertroue waarmee ons ons werk doen.”

Sou Skoor en sy werk makliker gewees het onder ’n ander president?

“Ek sou sê die uitvoerende gesag (die naam van pres. Jacob Zuma laat hy nie oor sy lippe kom nie) kán en móés meer gedoen het om sy verbintenis tot wat reg is te demonstreer. Hy behoort nie te reageer eers as daar op hom druk uitgeoefen word nie. Sy optrede behoort gedryf te word deur sy eie besef van wat reg en verkeerd is.”

Meer oor:  Skoor  |  Themba Godi  |  Staatsbesteding  |  Tesourie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.