Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Waglekkende woorde oor politici

Soms kan ’n grap of ’n glips met die tong die waarheid beter as enigiets anders tuisbring, skryf Rhynie Greeff.

William Spooner het mense laat lag deur op sy verstrooide manier letters om te ruil. Foto: Getty Images

Ek is nou siek en sat vir die swaarmoedigheid van ons twee groot epidemies – Covid-19 en korrupsie. Ek kliek nie eintlik die EFF se beswaarde haarklowery nie. Ek is doodmoeg vir werkstaking in ’n tyd van werkverlies. Watter dooiepunt in onderhandelings het begrafnisondernemers nou genoop om te staak?

Weg met droewigheid. Bring ligte luim terug. Kom ons dink spooneristies.

Spoonerisme is genoem na William Spooner (1844-1930) wat ’n verstrooide predikant by Oxford Universiteit was waar hy antieke geskiedenis en godsdiens doseer het. Spooner het beroemd geword omdat hy in sy spraak dikwels sy letters per abuis omgeruil het met komiese resultate.

So het hy by ’n universiteitsdinee op ’n keer ’n heildronk op die koningin ingestel met die verdraaide woorde: “Three cheers for our queer old dean!”

Volgens oorlewering het hierdie dominee ook aan sy studente gesê: “The Lord is a shoving leopard”. Dit terwyl hy eintlik bedoel het om te sê: “The Lord is a loving shepherd”.

So het hierdie geluidsuitruil bekend geword as spoonerismes. Kom ons noem dit maar lepelismes. Dit gebeur gewoonlik met die uitruil van klanke aan die begin van woorde.

Die “queer old dean” en “shoving leopard” kon egter miskien ook deur onnutsige studente opgemaak gewees het wat gehelp het om sy verstrooide styl wêreldbesit te maak.

Spooner het blykbaar, aan ’n student wat sy geskiedenislesse misgeloop het, gesê: “You have hissed all my mystery lessons. You have tasted a whole worm. Please leave Oxford on the next town drain.” (“You have missed all my history lectures. You have wasted a whole term. Please leave Oxford on the next down train.”)

Die Oxford Dictionary of Quotations haal Spooner aan oor die dag toe hy kommentaar gelewer het oor die invloed van lone op werkgewers en gesê het: “The weight of rages will press hard upon the employer.”

Sy studente het dalk sy stories opgeblaas, maar hy het self toegegee hy het die titel van die religieuse lofsang “Conquering Kings Their Titles Take” aangekondig as “Kinkering Congs Their Titles Take”. Op ’n troue het hy gesê: “It is kisstomary to cuss the bride”.

So het hierdie geluidsuitruil bekend geword as spoonerismes. Kom ons noem dit maar lepelismes. Dit gebeur gewoonlik met die uitruil van klanke aan die begin van woorde.

Wát is belangrik vir hospitale?

Rhynie Greeff

Soms word lepelisme met malapropisme (die verkeerde woord) vermeng.

In April vanjaar het ons minister in die presidensie, Jackson Mthembu, in ’n taalglips gesê vibrators is baie belangrike toerusting in hospitale se hoësorgeenhede. Deur sy verspreking het hy ventilators na ’n nuwe klimaks aangehits.

Politici moet maar op hul woede hees vir Freudiaanse glipse. Verwysings na teks kan saktloos wees.

Ek het nogtans respek vir Jackson Mthembu. Dit was maar ’n onskuldige taalsout van sy tong wat flapgelê het.

Daar is egter sekere ander politici wat met korrupsiewolke omhul is. Vir hulle is ek só allergies my jeus neuk sommer.

Ek is regtig bekommerd oor wat al die korruptes in die vou moer. (Oeps, jammer tannie Sus, ek bedoel in die mou voer. Dis maar net ’n spoonerisme op die vlak van jou moffiekoer in die kan).

Ek moet seker maar my hek bou, maar die land van ons steierskap, jammer stand van ons leierskap, is vir my brommerwekkende kouwerk. Hoe kan so baie familie en vriende van politici sommer miljoene rendertande bekom uit hontrakte vir kospitaaltoerusting?

Te veel kose brinimele loop spotvry en skandeer hul gesteelde rendertande.

Ek wil nou nie enige politikus moorde in die wond lê nie, maar dit lyk my sekere senior politici beskou steel en deel net as lepelismes vir deel en steel.

Hoofstuk een my beoogde boek, Greeff se handboek vir beginners in korruptepreneurskap, is juis getitel: “Charity begins at home.”

Gelukkig het pres. Ramaphosa nou sy dem stik gemaak om finansiële kurke te skeer, jammer, skurke te keer.

Ja, ons rand laak slatpak met daardie politieke mierspanne in korruptepreneurskap wat hulle biere spult en gewig rondgooi.

Gelukkig het pres. Ramaphosa nou sy dem stik gemaak om finansiële kurke te skeer, jammer, skurke te keer.

Dit laat my dink aan die storie van die seuntjie wat huis toe kom en sy ma vertel van sy dag by die skool.

“Ma, die burgemeester was vandag by ons skool. Sy was ’n tannie. Ons het ’n dubbele erewag gevorm. Sy en haar mense het deur ons erewag na die skoolsaal gevloei.”

“Het die burgemeester haar ketting gedra?” vra die ma.

“Nee, Ma. Sy het sommer so los rondgeloop.”

Ja, korrupsie kan waglekkend wees en soms is ’n grou flap se staarheid werk.

* Dr. Greeff is ’n strategiese konsultant en voormalige diplomaat. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.