Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Waldimar Pelser: 2019: Die wêreld het mal geword!
Waldimar Pelser

Die wêreld het mal geword.

Hier is ’n oorsig van 2019 wat net verwys na plasings op Twitter wat ek dié jaar gelike het. Dis ’n voyeuristiese kykie na dit wat hierdie oë laat rek het . . .

In Januarie ondervra die polisie in Brittanje ’n oudpolisieman 34 minute lank omdat hy op Twitter gesê het transvroue (met penisse) is “nie vroue” nie. Black First Land First se Lindsay Maasdorp vier die dood van drie kinders by die Hoërskool Driehoek; Helen Zille word gekruisig omdat sy ’n belastingboikot vra; en die DA beskuldig ’n onnie van rassisme.

In Februarie teug die EFF aan Rupert & Rothschild-rooiwyn by ’n dinee; Lindiwe Sisulu trap wêreldmoondhede uit wat oor korrupsie kla; R220 miljoen se droogtehulp aan boere raak weg; en die ANC se Jackson Mthembu sê hy’s “geskok” om by die Zondo-kommissie te hoor Bosasa was korrup. By die staatsrede rand die EFF se Marshall Dlamini ’n polisieman aan en sê Julius Malema daar’s ’n “regse komplot” om hom te vermoor. Eskom wil van 1 308 gekwalifiseerde wit werknemers ontslae raak volgens Rapport, terwyl fase 4-beurtkrag Cyril Ramaphosa “skok” en die ANC “sabotasie” blameer. In Brittanje sê Jacob Rees-Mogg Britse konsentrasiekampe in die Anglo-Boereoorlog moet “in konteks” gesien word en ’n ma word in hegtenis geneem voor haar kinders en sewe uur lank toegesluit nadat sy ’n transgender vrou op Twitter ’n man noem. In Kanada verbied Twitter ’n skrywer nadat sy sê “mans is nie vroue nie”. Naby Johannesburg sit ’n “dooie” regop in ’n kis.

In Maart betuig die ANC sy steun aan Venezuela, waaruit 4,5 miljoen mense al gevlug het. Op TV weier Bernie Sanders om dié land se diktator, Nicolás Maduro, ’n diktator te noem. Adj.pres. David Mabuza sê beurtkrag wys hoe lekker groei die ekonomie en in Windhoek ry Marelize Horn in rugbypale vas.

Pravin Gordhan pleit in Desember ons moet SAL-kaartjies koop – dae voor die SAL in sakeredding gaan.

’n Rassis skiet 51 mense in Nieu-Seelandse moskees dood. Iran stuur ’n vroue-aktivis tronk toe vir 38 jaar.

Die Menseregtekommissie (MRK) sê Malema het nie haatspraak gepleeg toe hy sê wittes moet “nog nie” van kant gemaak word nie. Hy’t mos gesê “nog nie”, mense! Jissie. Shamima Begum, wat Sirië toe is uit Engeland om Isis te steun, sê sy is “siek van Brexit”. In Sandton verwoes ANC-ondersteuners eksemplare van Pieter-Louis Myburgh se boek Gangster State.

In Aprilverbeter Mary Gregory, gebore as ’n man, vier vroue-wêreldrekords in gewigoptel. Hlaudi Motsoeneng sweer hy gaan Uniegebou toe.

In Mei wen die ANC die verkiesing. Sekere kommentators sê die ANC onder Ramaphosa is ons enigste hoop.

Die ANC “besluit” in Junie om werkloosheid te verlaag tot 14% en staatskapers in beheer te plaas van parlementêre komitees. Die 37-jarige Rachel McKinnon, gebore as ’n man, klop een vrou ná die ander in fietsry.

In Julie noem Zindzi Mandela, ambassadeur in Kopenhagen, wit mense “ongenooide besoekers”. Die Nelson Mandela-stigting verdedig haar.

Bosasa se Gavin Watson maak in Augustus die fout om in ’n brug vas te ry, en Tito Mboweni verbrou deur ’n uitstekende groeiplan te publiseer voordat hy vakbonde se voete soen.

Chester Williams sterf in September. Ook Robert Mugabe gaan dood. Ramaphosa huldig hom as ’n “galante leier van pan-Afrikanisme”. Mmusi Maimane sê Mugabe was ’n “bevryder wat ongelukkig nie sy mense bevry het van armoede” nie. Ja. Dis dit.

Rapport berig Maimane het in ’n Steinhoff-Toyota rondgery wat hy nie wou teruggee nie. Vier uit tien Kanadese weier om griepinspuitings te kry.

In Oktober word Barry Bateman geskors nadat hy Malema ’n p*** noem; Mercy Kannemeyer sê die Universiteit Stellenbosch word “geherkoloniseer” omdat Afrikaans afgeskaal word; Baleka Mbete maak haar party se naam nogmaals gat op Al Jazeera; en vier wit en twee swart DA-leiers bedank. Dit word ’n “swart uittog” gedoop.

Quillette berig mans wat sê hulle is vroue word in talle lande in vrouetronke toegesluit; en ’n vervaardiger van sanitêre doekies, Always, verwyder die Venus-simbool van produkte want dis “meer inklusief”. Werkloosheid tref ’n nuwe rekord van 29,1% en in Richardsbaai bid mense vir ’n vale oor ’n kind se “demoniese” kuns.

Die Verenigde Nasies (VN) se Menseregteraad kies Venezuela as ’n lid.

In November noem Jessie Duarte die ANC “rassisties”; prof. Jonathan Jansen kry ’n breinfloute toe ’n boekwinkelassistent hom aanspreek in Afrikaans; nog 18 treinwaens brand in die Kaap; en die VN-menseregteraad swyg nadat die Iranse regering meer as 300 betogers vermoor.

Pravin Gordhan pleit in Desember ons moet SAL-kaartjies koop – dae voor die SAL in sakeredding gaan. Caster Semenya sit Fikile Mbalula op sy plek nadat hy sê ’n oranje-wit-en-blou Nike-skoen is rassisties. Die Kaap begrawe die bendebaas Rashied Staggie as ’n held. Beurtkrag fase 6 “skok” Ramaphosa en Krieket SA stort ineen.

Wat ’n jaar!

Meer oor:  Waldimar Pelser  |  Wag 'N Bietjie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.