Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Wag ’n bietjie
Waldimar: AfriForum stel nie Fox News se leuens reg

Meer as 3 miljoen Amerikaners kyk saans na die program Tucker Carlson Tonight op Fox News, waarop AfriForum se Ernst Roets pas ’n gas was.

Waldimar Pelser

In die inleiding tot die gesprek, wat eers later opgeneem is nadat Roets reeds uit die ateljee was, sê Carlson: “Suid-Afrika is ’n diverse land, maar die Suid-Afrikaanse regering wil dit graag heelwat minder divers maak. ’n Beleërde minderheid boere, meestal Afrikaanssprekend, word geteiken in ’n golf van barbaarse en verskriklike moorde. Maar eerder as om hulle te beskerm, het die regering pas ’n wet aanvaar wat hom toelaat om hul plase te konfiskeer sonder enige vergoeding, slegs op grond van hul etnisiteit, en dit uit te deel aan meer gunstige groepe.”

Baie van wat Carlson hier sê is ’n leuen – en Roets weet dit.

Die eksplisiete mikpunt van die veelparty- parlementêre proses sedert einde Februarie is om te bepaal of die Grondwet se sogenaamde eiendomsklousule, art. 25, gewysig hoef te word.

Dit is nadat die ANC in Desember by Nasrec besluit het die onteiening van grond sonder vergoeding moet een van die meganismes wees waarmee grondhervorming gedoen word.

Die parlementêre proses, waarna Roets later in die onderhoud met Carlson goedkeurend verwys (“dit is goeie nuus dat daar nog ’n proses is wat gevolg moet word”), word gerig deur ’n beleidsbesluit maar ook deur ’n ope vraag. Dit het maar pas begin. Lukrake grondgrype à la Zimbabwe, gemagtig deur die staat, is nie die plan nie.

Kallie Kriel en Roets saai maksimale agterdog oor die parlementêre proses deur herhaaldelik eerder op die rasseretoriek te hamer wat die EFF-geborgde mosie vergesel het. Hulle kan boonop nie toelaat dat hul boodskap van die “rassistiese diefstal” van (wit) grond getemper word deur die bewese feit dat talle swart mense grond onder apartheid verloor het nie. Waarom onderspeel (of verswyg) hulle dit? Daar kan net een rede wees: Dit beduiwel hul narratief dat wit mense die vernaamste slagoffers van ’n disfunksionele en vyandige ANC-regering is. Hulle wil die Amerikaanse Fox News oortuig dat grondgrype spesifiek teen wit mense gemik is en nêrens distansieer AfriForum hulself in hul bemarking van die Fox-onderhoud van Carlson se uitspraak dat die konfiskering van grond in wit boere se besit reeds wet is nie.

AfriForum se gebruik om met suggestie en innuendo idees by hul ondersteuners te plant waarmee hulle blykbaar nie eens self saamstem nie en wat beslis nie deur die feite ondersteun word nie.

In die onderhoud vra Carlson Roets direk of dit ’n “oordrywing” is om te sê dat daar ’n “ongeorganiseerde maar in ’n sekere sin tog ook ’n bewustelike veldtog is om ’n rasseminderheid in jou land te vernietig”.

Roets antwoord hom nie direk nie – maar sê dat hy in sy boek verduidelik waarom hy glo die regering is “aandadig” aan plaasmoorde. Weer laat hy Carlson se vertolking onuitgedaag staan dat die regering die wit bevolking wil “crush”.

Terug in Suid-Afrika sit hy die dubbelsinnige benadering voort deur op die Nampo-skou aan boere te suggereer dat Julius Malema agter plaasaanvalle sit.

Luidens ’n berig op Netwerk24 sê hy: “Dit kan wees dat mense jok daaroor en ’n mens moet nie alles wat mense sê summier as die waarheid aanvaar nie, maar daar is ’n onderhoud gevoer met die leier van die 28-tronkbende wat gesê het Julius Malema het met hulle in die tronk kom praat.” Volgens Roets sou Malema aan die bendebaas gesê het die EFF sal hulle bewapen as hulle eendag vrygelaat word en boere wil vermoor.

Voor hierdie gehoor het dit hom gepas om te handel in gerugte wat die temperatuur van hierdie moeilike gesprek in net een rigting jaag en dis op.

AfriForum se hantering van die term “wit volksmoord” is ewe sinies.

In ’n onderhoud met Rapport verlede week sê Roets dat “die risiko dat iets soos etniese uitwissing in Suid-Afrika kan gebeur al hoe groter raak”. Hy sê dít is nie dieselfde ding as “volksmoord” nie. En toe Kriel Maandag oor Radio 702 gevra is oor die gebruik van die term “volksmoord”, antwoord hy: “Eusebius (McKaiser, aanbieder), gee my een voorbeeld waar AfriForum ooit hierdie vergelyk het met volksmoord. Ons het nog nooit gesê dit is volksmoord nie. Ons het onsself nog nooit vergelyk met die Holocaust nie.”

Tog het AfriForum op 21 Januarie 2013 op Facebook ’n petisie geplaas onder die opskrif: “Stop ‘White’ Genocide in South Africa! Volg asb. die skakel en teken die petisie.” Dalk was Kriel nie daardie dag op kantoor nie.

AfriForum se gebruik om met suggestie en innuendo idees by hul ondersteuners te plant waarmee hulle blykbaar nie eens self saamstem nie en wat beslis nie deur die feite ondersteun word nie, is ’n taktiek wat hulle nog duur te staan gaan kom. Dit is ’n benadering wat nie hul ondersteuners op die lange duur veiliger gaan laat nie, maar eerder suurstof gee aan heethoofde aan albei kante van die politieke skeidslyn – en dit op ’n tyd wat koel koppe nodig is om die moontlikheid van ’n grondwetwysiging te keer.

Meer oor:  Afriforum  |  Fox News  |  Ernst Roets  |  Gas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.