Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Waldimar Pelser: Afrikaners is onder druk, maar wie is nie?

Die koronavirus is die minste van ons probleme.

Suid-Afrika se werkloosheidskrisis is die “diepste ter wêreld”, sê die Sentrum vir Ontwikkeling en Onderneming (CDE). Net 42% van volwassenes werk.

Die ANC het pas sy jongste aanslag op eiendomsreg begin te midde van ’n openbaredeelnameproses oor die Grondwetwysiging wat ontaard het in ’n nuttelose grap.

Beurtkrag het die norm geword en misdadigers kom weg met moord.

Tog het die Akademie vir Wetenskap en Kuns Vrydag in Pretoria ’n seminaar aangebied met die onderwerp: “Die Afrikaner onder druk, 1902 – 2020”.

Ek het die voorreg gehad om een van die sprekers te wees.

As dit so sleg gaan in die land, waarom praat ons oor hoe dit met die Afrikaner gaan? Behoort ons nie te praat oor werkskepping en droogtehulp nie? Behoort ons nie al ons energie in die bekamping van korrupsie in verrinneweerde landelike dorpe te stort nie?

Ja, ons moet daaroor praat. Baie Suid-Afrikaners, veral bruin en swart mense, is onder veel meer druk as wat ons kan droom.

En tog is ook die Afrikaner onder druk.

Een bron hiervan is ras-retoriek.

Afrikaners is inderdaad onder druk op spesifieke maniere wat veral verband hou met taal en die geskiedenis, maar terselfdertyd onder veel minder druk as die meeste ander Suid-Afrikaners

Wanneer die president praat oor die “indringers” waarteen Zoeloekrygers baklei het by Bloedrivier, hoor sommige Afrikaners ’n eggo van Zindzi Mandela se aanklag dat wit mense onwelkome besoekers in Suid-Afrika is. Dit is in elk geval ’n teken dat daar nog veel politieke munt uit die koloniale en apartheidsverlede te slaan is.

Wanneer Julius Malema sê wit mense moet “nog nie” afgeslag word nie (en daarmee wegkom), hoor baie Afrikaners ’n dreigement, al teiken Malema álle etniese minderhede.

Wanneer Black First Land First (BLF) die dood van wit kinders by die Hoërskool Driehoek vier, wonder sommige of die politiek sal aanhou radikaliseer, vergetende dat die BLF te min stemme gekry het in 2019 se verkiesing vir selfs een setel in die parlement.

Enige groepvorming onder Afrikaners in reaksie op sulke retoriek word egter as ’n teken vertolk dat Afrikaners weier om ons voorsate se beduidende bydrae tot die boggerop wat ons vandag ervaar, te erken.

Nog ’n bron van druk is die ANC se beleid oor Afrikaans.

Elke poging om Afrikaanse taalregte op te eis, is vir gifbekke soos Pan­yaza Lesufi ’n noodwendige bewys van wit heerssugtigheid of apartheidsnostalgie.

Die retoriek het gevolge: Die getal enkelmedium- Afrikaanse skole het in die twee jaar tot 2017 met 12% gedaal, en die getal skole wat hoegenaamd onderrig in Afrikaans aanbied, met 10%.

Dis nie omdat die staat Afrikaanse skole sluit nie.

Paul Colditz van Fedsas het aan Netwerk24 gesê dat “baie ouers onder die wanindruk verkeer dat Engels beter is vir hul kinders. Dit lei daartoe dat skole in ’n mate verengels.”

Watter ouer wil van “rassisme” beskuldig word omdat hulle ’n taalvoorkeur uitspreek?

Ook op kampusse in Pretoria en Stellenbosch kwyn Afrikaans. Die ANC se geloof dat Afrikaans altyd uitsluit en nie naas Engels kan bestaan nie, het deel van die ortodoksie geword. Dat Afrikaans die poort tot ’n opvoeding is vir baie jong mense wat Engels nie magtig is nie, is vir die ANC en vir die burokrate by Tukkies en Maties ’n heel absurde gedagte.

Die Afrikaner is onder druk. En tog . . .

Regstellende aksie tref Afrikaners ongetwyfeld, en tog het min gemeenskappe ’n laer werkloosheidsyfer.

Daar is ’n groeiende Afrikaanse en Afrikaner-onderklas, maar terselfdertyd is daar nie ’n bedryf in die land waarin Afrikaners nie betrokke en suksesvol is nie, selfs by Eskom, wat vandag wit ingenieurs wegjaag en môre vir André de Ruyter en Jan Oberholzer opdrag gee om Eskom te red.

Ja, Afrikanerboere vat politieke houe, maar alle boere kry swaar, en die staat het sy rug ook op swart opkomende boere gedraai. Hulle mag nie eens herverdeelde grond besit nie.

Ja, Lesufi tipeer Afrikaans as ’n kanker, maar nege uit die top-20 skole in verlede jaar se matriekeksamen was Afrikaans. Intussen vorder planne vir private Afrikaanse skole vir ryk en arm, wit, bruin en swart.

Ja, Afrikaners kan nie op die staat steun nie, maar wie kan vandag?

Terwyl die staat aanhou om alle gemeenskappe buiten die ANC-kliek se vooruitsigte te beduiwel, het Afrikaanssprekendes, waaronder Afrikaners, aangehou om kultuurprodukte van wêreldklas te skep in die teater, die filmbedryf, op TV, die letterkunde en die media.

En musiek: In Beeld skryf Alida Kok onlangs hoe bruin hip-hop en wit Afrikaanse rockmusiek nuwe vuur aan Afrikaans in sy geheel gee. Dink Early B, Spoegwolf, Fokofpolisiekar.

Hierdie dinamisme is ’n kreatiewe reaksie op druk.

Afrikaners is inderdaad onder druk op spesifieke maniere wat veral verband hou met taal en die geskiedenis, maar terselfdertyd onder veel minder druk as die meeste ander Suid-Afrikaners, en bepaald onder minder druk as bruin Afrikaanssprekendes, ons taalgenote.

Terwyl dit dus legitiem is om groepsgebonde grondwetlike regte af te dwing – anders vergaan dit – sal Afrikaners se toekoms nie alleen hierdeur bepaal word nie.

Afrikaners kan net volhoubaar floreer in ’n konstruktiewe en eerlike simbiose met ander gemeenskappe, vir wie Afrikaners reeds dikwels gewaardeerde bondgenote is.

Meer oor:  Waldimar Pelser  |  Wag 'N Bietjie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.