Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Waldimar Pelser: Anargie: Burgers sal hulself beskerm

Die grootste orgie van geweld sedert 1994 is nie net hartverskeurend nie. Dit het ons ook iets oor die ANC-regering geleer, iets oor die burgery, en iets oor die toekoms.

Oor ’n regering wat nie net yskaste uit Shoprite dra nie maar met honderde miljarde rande se belastinggeld laat spaander het, het ons geleer dat hy magteloos is om sy burgers teen anargie te beskerm.

Dit is ’n aaklige les om te leer.

Dit ontsenu ’n mens – veral die wete dat die regering tegelyk die teelaarde vir anargie help skep het deur sy bevolking sistematies in die jare ná Mbeki te verarm, én toegelaat het dat die staatsfunksies waarmee regerings gewoonlik anargie keer of beveg, uitgekalwe raak en in baie gevalle ineenstort.

Die intelligensiediens, wie se fokus kwansuis lankal vierkant op ANC-binnepolitiek is, het nie ’n clue gehad van die chaos waaraan etnies-nasionalistiese Zoeloe- en ANC-“saboteurs” sit en beplan het in die dae voor en nadat Jacob Zuma tronk toe is nie. Dit wys dat hulle óf hopeloos óf steeds lojaal aan Zuma is. Ek is nie seker wat is erger nie.

Die polisie het minder lede as ’n dekade gelede – sy begrotings is besnoei terwyl misdaad styg.

Maar niks daarvan verskoon die TV-beelde van beamptes wat verbouereerd kyk hoe fabrieke afbrand wat kanker­medisyne en antiretrovirale middels vir MIV-pasiënte in Durban maak nie; hoe yskaste vol insulien vir diabete op tsotsi’s se koppe weggedra word nie; hoe TV’s in blink Mercedesse gelaai word nie; en hoe snelweë eers deur Zuma se krygers en later deur brandende vragmotor­wrakke vol brood en BMW’s versper word nie.

Terwyl die polisie oor ’n geldtekort kla en ook die Valke se begroting vanjaar verminder is, is die begroting vir polisiebeskerming van BBP’s soos kabinetsministers opgestoot na R1,7 miljard.

In die eerste ses maande van inperking laas jaar het die regering meer as R8,3 miljoen bestee aan kos en verblyf vir die 28 swaar gewapende persoonlike beskermers van adj.pres. David Mabuza, wat op 26 Junie “vir ’n paar dae” Rusland toe is vir ’n doktersafspraak waarvan hy steeds nie teruggekeer het nie.

Dalk is dit beter so.

Die weermag se begroting is vanjaar met 14% besnoei. Die SANW kan volgens kenners nie meer as ’n professionele mag funksioneer nie.

Ja, hulle het Vrydag oplaas die N3-snelweg help open, en die duisende bykomende soldate wat ontplooi word ná druk van opposisiepartye soos die DA, VF Plus en IVP sal ongetwyfeld gemoedere in brandpunte help kalmeer, maar ons sal moet wag en sien of die “ware mag” wat Zuma voorverlede naweek gedreig het losgelaat sal word in die land, regtig skrik vir SANW-soldate wie se gedragskode vir die huidige ingryping in punt 5(a)(iv) stipuleer: “Moenie weghardloop wanneer burgerlikes julle aanval nie.”

Van burgerlikes gepraat: Oor hulle het ons geleer dat hulle saamspan, dikwels oor rassegrense heen, om padblokkades op te rig wat oproeriges uit woonbuurte en winkelsentrums hou wanneer die polisie nie die foon antwoord nie, al het die burgemeester van Ethekwini, Mxolisi Kaunda, Woensdag gevra dat sulke padblokkades afgetakel word, en al kla vroom voorstedelike kommentators op Twitter dat buurtwagte wat hul eie gemeenskappe beskerm nie net die wet oortree nie maar sommer ook aanstoot gee. Whatever.

Suid-Afrikaners wat vandag nog lewe of ’n werk het te danke aan die ingryping van gewapende bure, sal ook vir die minister van polisie sê wat hy kan doen met die wetswysiging waarmee hy die besit van vuurwapens vir selfverdediging wil verbied. Daardie wet is dood. Burgers sal hulself beveilig, met wapens indien nodig. Dit is ’n feit.

Ons het egter ook geleer dat die burgers van ons land mense is wat honderdduisende brode uit Gauteng na vreemdelinge in KZN stuur; wat die volkslied sing terwyl hulle die vloere van geplunderde kruidenierswinkels help mop; wat ’n herboupoging van stapel stuur wat ’n mens hoendervel gee.

Toe die 26-jarige Naledi Manyoni Woensdag haar 2-jarige babadogtertjie uit ’n brandende gebou in die chaotiese Durbanse middestad gegooi het, het ons geleer dat Suid-Afrikaanse burgers die mense onder in die straat is wat die baba vang.

Dís ’n lekker les om te leer.

En oor die toekoms?

Noudat die hele nasie weet hoe maklik dit is om anargie los te laat, het ons geleer dit sal weer gebeur.

Kwaadstokers sal na hartelus handlangers kan werf uit die 63% van 15-tot-24-jariges wat werkloos en nie op skool is nie en dié syfer sal ongetwyfeld styg, want duisende fabrieke, apteke, kruideniers- en klerewinkels is verwoes.

In die toekoms sal al hoe meer burgers, ook die idealiste wat fantaseer oor ’n “wapenvrye SA”, besef hulle moet liewer onderling organiseer om hul eie gemeenskappe te beveilig, want die polisie is waarskynlik nie daar om te help nie.

Hul landgenote is wel.

Meer oor:  Waldimar Pelser  |  Plundery  |  Wag 'N Bietjie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.