Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Waldimar Pelser: ANC is lief vir briewe, maar nie vir joune

Dit was die week van die bom-brief. In so ’n brief op 3 Mei het Jessie Duarte, die Zuma-spioentjie wat skuil in die ANC-topses, Ace Magashule van sy skorsing ingelig as sekretaris-generaal van die ANC (met betaling). In ’n bom-brief van sy eie matig Ace hom toe aan om Cyril Ramaphosa as ANC-president te “skors”. Selfs gemeet aan die standaarde van die ANC was dié brief so absurd dat dit allerweë bestempel is as fopnuus.

Dis dalk ’n fop-op, maar Ace se brief was toe eg.

Of dié broedertwis sal uitloop op ’n skeuring in die ANC, ’n afskilfering (soos Cope of die EFF), of ’n skyn-eenheid van kil kaders ingeryg langs die krip is te vroeg om te sê.

Wat ons wel weet, is dat die waarskynlike politieke oorwinning van die Cyriliete teen die Magashuliete, die RET-hiete, die Zumafiele en ander gehawende Zuptastan-bittereinders geen kitsoplossing is vir die regeringskrisis in Suid-Afrika nie. Dis noodsaaklik, maar onvoldoende.

Die essensie van die krisis is dat die ANC – ook CR se “goeie ouens” – in ’n immer groter staat glo, al is dié staat ook hóé onbekwaam.

Een voorbeeld van dié drog-dogma is die subsidiëring van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) en Mango, al misluk elke regrukplan. Die lugvaartkenner Joachim Vermooten sê aan Business Times: “Dit is die slegste ding wat jy kan doen, naamlik om twee staatsondernemings met onbeperkte vermoë om verliese te ly te hê wat met mekaar meeding.” Die bankrot Mango, waarvan die grootbaas onlangs skryf dat “denke en gevoelens ons omstandighede bepaal” (vergeet van knap bestuur), word volgens Vermooten “ondersteun deur belastingbetalers om teen die private sektor mee te ding”. Dis gek. Net Pravin glimlag.

In die “week van die brief” is die Poskantoor dalk selfs ’n beter voorbeeld van hoe die vroom Cyriliete dink: Staatsbeheer über alles.

Die afgelope week het Okosa, die kommunikasie-owerheid, teenoor Business Day benadruk private afleweringsdienste soos PostNet mag volgens wet geen pakkies aflewer wat minder as 1 kg weeg nie, want dié monopolie behoort volgens wet aan die Poskantoor (Sapo).

Paseka Maleka, Okosa-woordvoerder, het toegegee kosafleweringsdienste soos UberEats en Mr D is vrygeskeld van die verbod in die Wet op Posdienste (Wet 124 van 1998). “Uiteraard kan ons nie van Sapo verwag om ’n pizza by jou af te lewer nie.” Klein genades...

... net soos eindelose reddingsboeie en omdraaiplanne vir die SAL nie gelei het tot ware herlewing nie, sal die afdwing van ’n monopolie die Poskantoor nie red nie.

Die Poskantoor – ’n veel noodsaakliker entiteit as die SAL wat elke maand 8 miljoen Suid-Afrikaners se staatstoelaes versprei – het 14 jaar laas ’n wins gemaak en sê hy kan nie oorleef sonder alleentoegang tot die mark vir klein pakkies nie.

Dié mark – insluitende chroniese medisyne, nuwe selfone, bankkaarte of paspoorte wat ’n koerier by jou voordeur besorg – is meer as R1 miljard per jaar werd. Dis byna presies wat die Poskantoor se verlies laas jaar was. Doen die somme.

Okosa se klagtedirektoraat het op 26 September 2019 al vir PostNet en ander soortgelyke dienste – waaronder Pick n Pay se Aramex – beveel om binne 90 dae hul “onwettige” praktyke te staak. Dié bevel is met ’n interdik gestuit totdat die hof finaal uitsluitsel oor die vertolking van die wet gee, hopelik volgende jaar.

Maar, net soos eindelose reddingsboeie en omdraaiplanne vir die SAL nie gelei het tot ware herlewing nie, sal die afdwing van ’n monopolie die Poskantoor nie red nie.

Die Poskantoor steier. Terwyl hy in 2016 nog 850 miljoen posstukke afgelewer het, was dit in die jaar tot Maart 2020 net 535 miljoen, en die afgelope Covid-jaar 216 miljoen – ’n daling binne vyf jaar van 75%.

Weens skuld aan krediteure van R5 miljard is Sapo volgens die ouditeur-generaal “kommersieel insolvent”. Die laaste wins was in 2006.

Altesame 55 van sy 1 416 takke is gesluit weens onbetaalde huur, berig Rapport. En terwyl die een uitvoerende hoof ná die ander óf geskors word óf (soos Mark Barnes in 2019) bedank, gooi die regering reddingsboei op reddingsboei – tot R7 miljard die laaste sewe jaar.

Dié reddingsboeie is ’n gegewe noudat die Poskantoor Sassa-toelaes betaal. Toemaak is nie ’n opsie nie.

Maar die publiek is keelvol. Dié wat privaatdienste soos PostNet kan bekostig, kies dit, net soos die geval is met elke ander diens van die staat, van veiligheid tot onderwys.

Op Netwerk24 skryf ’n leser, Johan van Niekerk, sy gesin het in Julie 2018 vir hulself poskaarte uit Europa gepos as ’n eksperiment. Die eerste het Oktober 2019 gearriveer; die ander nooit. Teen September 2020 was die agterstand met aflewering steeds byna 7 miljoen. Ná ’n staking in 2018 was dit 38 miljoen.

Die idee dat ons gedwing kan word om pakkies ligter as 1 kg deur die Poskantoor te laat aflewer maak mense waansinnig – en ligsinnig. As MTN ’n bottel brandewyn stuur saam met jou foon sal dit meer as 1 kg weeg, terg Van Niekerk.

Die ANC met sy voorliefde vir briewe onderskat die drang van gewone mense om self te besluit wie hul briewe aflewer.

Meer oor:  Waldimar Pelser  |  Poskantoor  |  Wag 'N Bietjie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.