Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Waldimar Pelser: Arme Mmusi, die ewige slagoffer

Die “Obama van Soweto”, wat as DA-leier bykans identiese portrette van homself en Nelson Mandela langs mekaar teen sy kantoormuur opgehang het, is ’n fyngevoelige, onseker man. Nogal anders as Obama of Mandela.

Terwyl Obama in sy magistrale boek A Promised Land skryf hoe hy as jong senator uit Illinois en toe Demokratiese presidentskandidaat in 2008 nie wou fikseer op sy ras nie sodat hy ’n nuwe politieke sentrum kon bou bestaande uit swart kiesers, elites soos hyself, jong progressiewes én wit fabriekswerkers, definieer Mmusi Maimane homself deesdae al hoe meer as “swart”.

En terwyl Mandela in 1964 amper galg toe is ná die Rivonia-verhoor en 27 jaar toegesluit is sonder om homself te bejammer of tot martelaar te maak, definieer Maimane homself opnuut as “slagoffer”.

’n Slagoffer van wat?

Waarvan is Maimane, wat in 2010 as politieke groentjie DA-stadsraadslid geword het in Johannesburg, in 2014 reeds premierskandidaat was in Gauteng, parlementêre leier van die DA geword het sonder ’n dag se ervaring in die wetgewer, en in 2015 met ’n 90%-meerderheid tot DA-leier verkies is, ’n slagoffer?

Dié slim, charismatiese man vir wie teenstanders moes padgee? Hy wat, het Helen Zille kort voor die 2014-verkiesing in ’n matrone-stem vir my gesê, partyleier móés word want dis dringend dat die ANC ontsetel word en dat dít net met ’n talentvolle swart leier kan gebeur?

Is hy die slagoffer van sy eie swak oordeel? Soos toe hy Ashwin Willemse se beskuldigings van rassisme teen Naas Botha en Nick Mallett in Mei 2018 gulsig gesluk het omdat hy gedink het dit sou bewys hy is in beheer in die DA, al sou ’n onafhanklike ondersoek bevind daar was geen rassisme nie? Of toe hy Winnie Madikizela-Mandela beskryf het as “ ’n groot Suid-Afrikaner en helder lig”? Of toe hy ingeklim het in die boendoehof in Schweizer-Reneke?

Bogenoemde besluite van Maimane was volgens die oorsigpaneel wat hy self aangestel het ’n groot rede waarom die DA net een van sy vier doelwitte in die 2019-verkiesing kon haal, naamlik om die Wes-Kaap te behou. Maimane wou ook steun landwyd laat groei en die ANC druk tot onder 50% in Gauteng en die Noord-Kaap. Op die ou end sou die DA byna 500 000 stemme verloor en vyf LP’s huis toe stuur, terwyl die EFF sy 25 parlementariërs tot 44 vermeerder het, en die Vryheidsfront Plus syne van vier tot tien.

Is Maimane dalk die slagoffer van sy eie “besluiteloosheid en inkonsekwentheid”, soos wat die paneel in Oktober 2019 bevind het, of is hy dalk gepootjie deur die feit dat hy so “konflik-afkerig” was – eienskappe wat sou lei tot ’n “diep verdeelde koukus”, onsamehangende beleid, en swak dissipline?

Nie volgens Maimane nie, nee.

Hy is eerder ’n slagoffer van “rassisme”, skryf hy Maandag.

Is hy die slagoffer van sy eie swak oordeel?

Rassisme is nie iets om oor te lag of snork nie. Baie swart en bruin mense vóél dit steeds. In ’n land waar baie swart Suid-Afrikaners nog dra aan die gevolge van rasgebaseerde grondvergrype deur die Unie- en apartheidsregerings en dekades van rassistiese diskriminasie, en waar swart mense hulle nog soms in kru wit rassisme vasloop, al is dit dalk in baie van ons se omgewings buitengewoon, is beskuldigings van rassisme deur iemand met die politieke ervaring van Maimane nie iets wat ’n mens summier wil verwerp nie. Hy weet tog sekerlik dat jy jou woorde versigtig moet kies – of dalk is dit juis die probleem, want as DA-leier het hy selde sy eie woorde gekies en is sy toesprake vir hom geskryf? Waarom sê Maimane hy is ’n slagoffer van rassisme?

Tony Leon, oud-DA-leier, het in ’n onderhoud gesê Maimane as DA-leier was ’n “eksperiment wat misluk het” omdat hy nooit werklik in die DA se waardes ingekoop het nie.

Hierop sê Maimane: “Leon het . . . sowel my werk as DA-leier probeer ondermyn as my waardigheid en inherente waarde as mens. Vir Leon . . . wys opmerkings soos dié dat swart mense net eksperimente kan wees. Hulle kan nie lei nie, en kan slegs vorder met die seën van wit beheerde belange. Dis handboek- Kaapse liberale rassisme . . .”

Nie net is “mislukte eksperimente” volop in die politiek nie – dink aan Cope, Agang, en meer onlangs die doodgebore en skokpers ZACP (Kapitalistiese Party), maar Maimane self is oor die jare telkens as ’n mislukte eksperiment beskryf deur analiste swart en wit sonder dat dit ooit “rassisties” was, wys Gareth van Onselen uit. Een van hulle, dr. Somadoda Fikeni, het in Oktober 2019 in die Sunday Times geskryf die DA “berou dalk die eksperiment” om swart leiers soos Maimane met soveel ywer te werf.

Maimane is steeds ’n politieke eksperiment wat dalk gaan misluk. Só wys sy mislukte politieke bruilof met Herman Mashaba. Maar net so is die DA se terugswaai na liberalisme en die verkiesing van John Steenhuisen. In die politiek is daar nooit seker uitkomste nie. Daar is oral eksperimente. Maimane ’n “slagoffer”? Watter onsin.

Meer oor:  Waldimar Pelser  |  Mmusi Maimane  |  Wag 'N Bietjie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.