Op Vrydag 8 November, ’n dag voor die herdenking van die val van die Berlynse Muur, poseer ek vir ’n foto by die muur wat die Palestynse stad Betlehem aan die Wesoewer van Israel skei.
’n Foto by die muur is vir baie toeriste die belangrikste memento van hul paar uur hier, naas natuurlik ’n besoek aan die 6de eeuse Bisantynse basilika op die bult waar Jesus gebore is. Maar ons gids, Mohammed, het ons reeds die geboortekerk gewys en van daar is ons reguit na die “Walled Off Hotel” langs die muur.
Anders as Londen se Waldorf Astoria spog Betlehem se tong-in-die-kies-hotel met sy kamers se slegte uitsig, want uit elke venster kyk jy vas in ’n muur vol proteskuns: By ’n uitbeelding van Trump staan: “No balls? Build walls!” Die implisiete boodskap: Daar is nooit ’n goed genoeg rede om mense met ’n muur te skei nie.
Veral nie hier nie.
Hierdie muur skei nou al 16 jaar lank die Wesoewer van Israel, wat die gebied in 1967 in die Sesdaagse Oorlog beset het, ’n oorlog waarin Israel se bure hom van die kaart wou vee.
Die 700 km lange kolos van beton en doringdraad, plek-plek agt meter hoog, is, van Palestynse kant gesien, ’n simbool van Israelse anneksasie, ’n herinnering aan hul magteloosheid.
Dis ’n politieke muur wat mense skei wat in één staat saam hoort, sê ons gids vroeër die oggend. “Ek droom van ’n toekoms waarin Israeli’s en Palestyne saam in een land in vrede woon.” Ek vrees hy is naïef.
Deesdae hoor jy mense plek-plek weer vir mure vra.
Vir die meeste Israeli’s is die muur eerder die naaste wat hulle kan kom aan ’n veiligheidswaarborg: Waar Israeli’s in 2002, voor die muur, 43 selfmoordbomaanvalle deur Palestynse terroriste per jaar getrotseer het, was daar in 2012 geen sulke aanvalle nie, het die liberale Israelse dagblad Ha’aretz verlede jaar berig.
Hierdie muur is nie die wêreld se enigste omstrede muur nie. Mure is oral omstrede, want dit word selde opgerig met die instemming van mense aan albei kante.
Die muur in Berlyn is ná die Tweede Wêreldoorlog deur die Oos-Duitsers gebou om inwoners van die Duitse Demokratiese Republiek (DDR) te keer om na die veel ryker Weste te ontsnap.
Die muur het Oos-Berlyners ingekerker gehou, maar as deel van die “ystergordyn” ook ’n wêreldorde in stand gehou wat in ’n groot mate voorspelbaar was. Jy was pro- of anti-kommunisties. Jy het jou heil by Washington of Moskou gesoek. Die twee moondhede het mekaar met hul vingers op die knoppies van kernarsenale in toom gehou. Jy was dié kant of daai kant van die muur.
Toe die Berlynse Muur val en die Sowjet-kaartehuis meegee onder die gewig van sy eie interne teenstrydighede, is dermiljoene mense van verdrukking bevry, maar dit sou ook ’n meer onvoorspelbare wêreld baar.
Deesdae hoor jy mense plek-plek weer vir mure vra.
In Berlyn praat van hulle selfs van “ostalgie”, Oos-Berlyners wat na die sekerhede van die DDR-dae hunker. In Brittanje veg ’n klein meerderheid kiesers verbete vir Brexit — en grense wat meer as net in naam bestaan.
Ook tussen Amerika en Mexiko word die skeidsmuur verstewig.
Terselfdertyd is daar idealiste wat glo die wêreld kan geheel en al sonder mure of grense funksioneer.
Tog rig ons mure op om ons huise, span ons grensdrade tussen kampe op plase, en word ons vir paspoorte by grensposte gevra.
Afskortings is al deur totalitêre state misbruik, maar grense en mure kan ook dien om orde te handhaaf en die regte van kwesbare gemeenskappe aan een kant te beskerm. Boonop is daar met die afbreek van mure of grense, soos met die bou daarvan, altyd wenners en verloorders.
Skaars 12 uur nadat ons Maandag teruggekeer het uit Israel, is Israeli’s opnuut rede gegee om in die sin van hul omstrede muur te glo toe missiele begin reën het op Israelse dorpe en stede uit die Palestynse gebied van Gasa in die suide, wat sedert 1967 deur Israel en Egipte omring word.
Die missiele is lukraak na burgerlike teikens geskiet deur die Islamitiese Djihad, ’n ekstremistiese terreurgroep wie se leier Maandag deur Israelse magte doodgemaak is.
Dis missiele wat nie gekeer kon word deur ’n muur nie. Tog het dit in Israel opnuut die besef laat posvat dat hierdie ’n abnormale samelewing is waar moorddadige vyande tussen die doodgewone mense van Gasa en die Wesoewer woon — aan die ander kant van die muur.
In Israel, soos in Berlyn destyds, kan elke muur van twee kante beskou word.