Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Waldimar Pelser: Boere én ANC kan Trump se ramp keer

Net toe die gehoor van meer as 600 by Landbouweekblad en Agri SA se beraad oor grondoplossings op Bela-Bela Donderdagoggend reeds goed gemarineer was in bemoedigende boodskappe oor samewerking met die regering, begin pres. Donald Trump se twiet oor boere en plase soos ’n veldbrand versprei.

“Ek het die minister van buitelandse sake (Mike Pompeo) gevra om die grond- en plaasbesettings en die onteiening en grootskaalse moord op boere in Suid-Afrika noukeurig te ondersoek. ‘Die Suid-Afrikaanse regering gryp nou grond by wit boere.’ ”

Wit boere se grond word nie gekonfiskeer nie en slegs mét vergoeding onteien, soos Rapport laas Sondag berig het. Soms is daar wel kommer oor die billikheid van die waardeerder-generaal se waardasies. Hoewel die EFF vir die konfiskering van wit grond vra, is dit nie ANC-beleid nie. Skeptiese lesers sal sê “nog nie”, gesien die gemak waarmee die ANC deesdae buig na die EFF se wil, maar dit het op Bela-Bela en in die parlement Woensdag begin lyk of die ANC besef het hy moet dringend sy beleid drasties van die EFF s’n onderskei.

Lyste met die name van plase wat die afgelope maand in omloop was, was lyste van gevalle waarin die verkoper (die boer) en die koper (die staat) nie tot ’n vergelyk kon kom oor die koopprys nie. Dié gevalle gaan nou hof toe, het die direkteur-generaal van landbou, Mike Mlengana, opnuut op Bela-Bela beklemtoon.

Dis nie plase wat sonder meer gegryp word nie. Dat Trump egter feitefoute maak, beteken ongelukkig nie hy maak ’n leë dreigement nie.

Gesprekvoering tussen die ANC en die landbou-unies is dalk nie ’n kitsoplossing nie, maar dis beslis nie ’n klug nie.

Sy boodskap het aan die Suid-Afrikaanse regering duidelik gemaak wat boere lankal weet, naamlik dat indien die regering wel sou doen wat Trump glo hulle reeds doen, naamlik om grond te konfiskeer, wink rampspoed.

Die wet op groei en geleenthede in Afrika (Agoa) waarkragtens Suid-Afrikaanse uitvoerders miljarde rande se goedere in die reuse- Amerikaanse mark kan verkoop, maak duidelik presies hoe maklik Trump Suid-Afrika uit dié skema sou kon skop. En Trump is impulsief. Selfs die Europese Unie kon hom nie keer om Amerika aan die Iran-kernwapenooreenkoms te onttrek nie.

Agoa se reëls dikteer: “Dit is die VSA wat jaarliks bepaal of lande aan die gepubliseerde vereistes voldoen. Begunstigde status mag daarom toegestaan of herroep word volgens die diskresie van die Amerikaanse president. Begunstigde lande het geen toevlug tot dispuutbeslegting in dié verband nie.”

Die vereistes sluit in die voortdurende vestiging van ’n “markekonomie wat eiendomsregte beskerm . . . sowel as gelyke beskerming voor die gereg”.

Trump het nie bewyse nodig nie. Die diskresie is syne. Pretoria kan Washington nie in die tande skop nie.

Dit het die afgelope week gelyk of pres. Cyril Ramaphosa dit besef. In die parlement Woensdag het hy hom uitdruklik gedistansieer van die EFF se aandrang op die nasionalisering van grond. Op Bela-Bela het adj.pres. David Mabuza, wat Dinsdag met landboubase gekoukus het, benadruk die staat sal begin met die beskikbaarstelling van staatsgrond. Hy het aan die landboubase gesê die ANC sal produktiewe plase uitlos. Op Bela-Bela het hy gepleit: “Julle moet produseer, produseer, produseer. Niks sal daardie produksie onderbreek nie.”

Skielik is ’n rits vergaderings tussen die regering, die ANC en kommersiële landbou op die agenda. Soveel so dat Ramaphosa en Mabuza, wat in Julie aangestel is om ’n interministeriële komitee oor grondhervorming te lei, van die land se vaardigste landbouers as beleidsadviseurs genader het.

“Kom ons doen nie iets wat die ekonomie sal laat ineenstort nie,” het Mabuza gesê. Mlengana het hulle selfs gegroet as “geliefde boere”. Hy het sy eie regering skerp gekritiseer en gesê die dae van beleid maak sonder insette van boere is verby. Mooi woorde . . .

Wat die beraad klinkklaar gemaak het, is dat suksesvolle grondhervorming, waarvan daar in elke landstreek sulke wonderlike voorbeelde is, die afgelope 24 jaar ten spyte van eerder as danksy die regering gebeur het. Daarom is daar diegene wat vra: Waarom nou vir Ramaphosa vertrou, wat nog te sê van Mabuza? Sy reputasie stink.

Die antwoord behoort redelik eenvoudig te wees. Te veel is op die spel. Dit is tyd om elke beskikbare meganisme te gebruik om te help keer dat ’n ondeurdagte grondwetwysiging deurgedruk en ’n roekelose grondbeleid geïmplementeer word. Gesprekvoering tussen die ANC en die landbou-unies, onder leiding van Agri SA, is dalk nie ’n kitsoplossing nie, maar dis beslis nie ’n klug nie, en heel moontlik die enigste manier om ’n polities aanvaarbare grondplan te onderhandel.

Indien die ANC georganiseerde landbou se beleidsadvies aanvaar, soos wat hulle nou sê hulle wil, kan dit die enigste manier wees om te keer dat Trump een oggend Fox aanskakel en besluit om ’n strop om ons nekke te sit.

Maar dan sal die regering met sy agtergrond van verbreekte beloftes oor en aan die landbou móét breek en die hand van vriendskap en hulp wat soveel boere in goeie trou uitsteek, gryp.

Meer oor:  Wag 'N Bietjie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.