Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Waldimar Pelser: By Eskom is nie alle poste heilig

Die kredietgraderingsagentskap Moody’s kan nog voor die einde van Maart besluit of hy ook Suid-Afrika se skuld na rommelstatus afgradeer, iets wat tot die skielikste en grootste uitvloei van kapitaal in die era ná 1994 kan lei.

In ’n nota die afgelope week het Moody’s gesê hy sal bewyse moet sien dat die regering ernstig is daaroor om besteding te verlangsaam. Die probleem is net dat die regering se onberispelike oggendpraatjies oor besuiniging in die staatsdiens en selfs Cyril Rama­phosa se aandpraatjies verskil.

Dit lyk of alle opsies nie op die tafel is nie – soos byvoorbeeld ’n beslissende “regskaling” van personeelgetalle.

Dae ná die aankondiging oor Eskom se ontbondeling verklaar Ramaphosa nie net dat afleggings nie deel is van die plan nie, maar ook dat privatisering nie op die tafel is nie (mededinging in kragopwekking is wel duidelik op die agenda, en dis ’n baie goeie ding).

Wie se belange word deur hierdie waarborge gedien – dié van 48 000 Eskom-werkers, wat volgens die Wêreldbank 27 000 te veel is, of van die publiek en beleggers, wat die rekening vir die botallige werkers moet betaal, en ook verdere skerp stygings in kragtariewe sal moet sluk, aangesien die tesourie Woensdag net R23 miljard per jaar vir Eskom bewillig het? Intussen klou die ANC verbete aan regstellende-aksie-teikens, selfs vir ingenieurs.

Hulle het sagte teikens in die visier wat die vaardigheidsprobleme in die staat net gaan vererger.

Watter hefboomkrag gaan Ramaphosa en Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, in onderhandelings met die militante National Union of Mineworkers (NUM) en die metaalwerkersvakbond Numsa hê as hulle van meet af aan verklaar poste sal nie verminder word nie?

Verlede jaar se onderhandelings oor lone by Eskom het gewys die staat sal altyd bes gee as die vakbonde hard genoeg raas – en dreig met geweld.

Op 6 Junie 2018 het Jabu Mabuza, Eskom se voorsitter, gesê geen Eskom-werker kry enige verhoging nie.

Op 14 Junie is Eskom se uitvoerende hoof, Phakamani Hadebe, weens die voorgenome 0%-loonverhogings met bottels gegooi deur woedende werkers by Megawatt Park. Veiligheidswagte en die polisie moes hom red.

Die nasie het asem opgehou: Die Zuma-jare was verby; die sakevriendelike Ramaphosa-regering weet tog wat die regte ding is om te doen.

Toe nie: Einde Augustus teken Eskom driejaarloonooreenkomste met die vakbonde vir verhogings van 7,5% in 2018 en 7% in elk van die twee jaar daarna. Elke werker het ook ’n kontantbonus van R10 000 gekry.

Hierdie tipe toegewings vloei nie net uit die noodsaak vir kompromieë wat onderhandelings gewoonlik kenmerk nie, maar ook uit ANC-dogma: Die einste Hadebe wat voor sy eie werknemers moes vlug, het in Mei 2018, met die aanvang van onderhandelings, aan verslaggewers gesê Eskom se mandaat is nie net om krag op te wek nie. Hy het ook ’n “ontwikkelingsmandaat”.

“Hy het gesê hierdie faktore is nie in ag geneem nie deur die Wêreldbank toe hulle bevind het Eskom het 60% te veel werkers en dat mense afgedank sou moes word,” het Fin24 berig.

Sedert 1994 al gee die regering hoog op oor sy “ontwikkelingsmandaat”. En hoewel mens sou kon sê ja, die staat behoort inderdaad ekonomiese ontwikkeling te stimuleer eerder as belemmer, het dié mandaat iets anders begin beteken. Vir die ANC was dit ’n regverdiging vir ’n reuse-staatsdiens. ’n Tipe beskermde arbeid. Vandag kos die salarisse van die meer as 2 miljoen staatsamptenare meer as R627 miljard – meer as 35% van alle staatsbesteding.

Toenames van bo inflasie elke jaar in dié salarisrekening is een van die grootste redes waarom Suid-Afrika se staat-skuld as persentasie van bruto binnelandse produk nou 60% nader en net die rente op die skuld die fiskus vanjaar meer as R200 miljard sal kos.

Moet ons dus glo Ramaphosa en Mboweni is ernstig oor hul plan om die staatsdienssalarisrekening met R37 miljard te besnoei oor die volgende drie jaar, terwyl die “ontwikkelingsmandaat” steeds geld?

Dalk tog. Want hulle het sagte teikens in die visier wat die vaardigheidsprobleme in die staat net gaan vererger. Eerder as om onproduktiewe werkers weg te jaag, beplan die regering om vroeë aftreepakkette te bied aan van die mees ervare staatsamptenare.

In die lig daarvan dat heelwat van die oudste amptenare boonop wit is, sal hul vroeë vertrek die regering ook help om hul ander groot doelwit na te jaag, naamlik diensbillikheidsteikens.

Ons het eintlik in Oktober al geweet afleggings in die staatsdiens is taboe, toe Ramaphosa in die raamwerkooreenkoms wat met sakelui en arbeid onderteken is ná sy hoogaangeprese “jobs summit”, onderneem het: “Die regering het benadruk daar sal geen afleggings in die openbare sektor wees nie.”

So, moet ons die storie glo dat hierdie administrasie genoeg sal doen om Moody’s van sy bona fides te oortuig?

In ’n radio-onderhoud die afgelope week sê Dondo Mogajane, DG in die tesourie: “Ons moet ons eie storie glo dat (die begroting) sterk en deeglik is.”

Meer oor:  Waldimar Pelser  |  Wag 'N Bietjie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.