Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Waldimar Pelser: Covid: Ons reaksie is irrasioneel (en menslik)

Ons vrees vir Covid-19 is diep menslik – en ook ’n magtige instrument in die hande van politici wat ons vrese ken en gebruik. Soms misbruik.

Maar eers: Die vermoë om vrees te voel is ingebed in alle normale mense. Dit is noodsaaklik om ons en ander diere aan die lewe te hou.

Organismes wat vinniger en met meer dringendheid op bedreigings as op geleenthede reageer, het ’n beter kans op oorlewing, skryf die Nobelpryswenner Daniel Kahneman in Thinking, Fast and Slow (2011).

In eksperimente is twee prentjies tussen duisende ander beelde vir twee honderdstes van ’n sekonde aan mense geflits terwyl hulle in ’n breinskanderingsmasjien lê.

Die eerste prentjie was van twee groot oë wat op ’n dreigende manier gluur. Die tweede was van ’n paar vriendelike ogies.

Die beelde het so snel op mekaar gevolg dat deelnemers aan die eksperimente nie eens geweet het wat hulle sien nie.

Maar met die flits van die kwaai paar oë het een deel van die deelnemers se brein vlamrooi gegloei op die rekenaarskerm wat breinaktiwiteit wys: die amigdala. Dit is ’n grys amandelvormige knopie in jou kop wat soms die brein se “gevaarsentrum” genoem word omdat dit jou help om te reageer op bedreigings waarvan jy dalk onbewus is.

Dis ongelooflik – ’n ding in jou kop wat prioriteit gee aan slegte nuus terwyl jy dalk nie op daardie oomblik mooi fokus nie. Dit help jou om net betyds uit die pad van ’n aankomende motor te spring wat jy nie gesien het nie. Dit laat jou wakker skrik van ’n geluid in die nag omdat iets vir jou sê dis nie net die geritsel van die wind nie, maar ’n gevaar.

Daagliks word ons gebombardeer met sterftesyfers asook sessyfergetalle van Suid-Afrikaners wat die virus opgedoen het.

Ons is bedraad om prioriteit te gee aan gevare en slegte nuus. Dit beteken egter nie dat ons goed is daarmee om te bereken of die gevaar groot of klein is nie.

Inteendeel.

Of ons iets beskou as ’n groot bedreiging en iets waarvoor dit die moeite werd is om ons leefstyl ingrypend te verander, het veel meer te doen met die soort en frekwensie van berigte wat ons daaroor in die media lees, en die gemak waarmee ons ’n helder voorbeeld van die nare bedreiging kan oproep.

Ons is, skryf Kahneman, geneig om die waarskynlikheid van bitter skaars negatiewe gebeure óf heeltemal te ignoreer óf dit heeltemal te oorskat.

Ons ignoreer die gevare van ’n dodelike aardbewing of vloed totdat dit ons tref – dan neem almal skielik versekering daarteen uit tot die (media)storm gaan lê. In Beiroet het amptenare vir sewe jaar die gevaar geïgnoreer van tonne ammoniumnitraat wat in ’n pakhuis lê terwyl inwoners wel gedwing is om maskers weens die gevaar van Covid-19 te dra.

Net soos ons maklik groot gevare onderskat, oorskat ons die geringe gevaar dat ons neergevel gaan word deur Covid-19 omdat dit bykans al is waaroor mense deesdae praat, en al wat ’n mens in die nuus sien.

Daagliks word ons gebombardeer met sterftesyfers – klein teenoor die meeste ander doodsoorsake – asook sessyfergetalle van Suid-Afrikaners wat die virus opgedoen het. Ons hoor Suid-Afrika is “vyfde in die wêreld!” terwyl baie lande skaars mense vir die virus toets en niemand presies weet wat die voorkoms daar is nie.

Terselfdertyd hoor ons die positiewe gevalle is maar ’n breukdeel van dié wat die siekte al gehad het maar onbewus was daarvan want hul simptome was so gering. Die eintlike infeksiesyfer is veel hoër, wat ’n goeie ding is, want dit beteken die eintlike persentasie siekes wat weens Covid-19 sterf is veel laer as wat ons daagliks vertel word.

Ons lees en hoor ook aangrypende stories van verlies en dood. Sommige van ons het al so ’n verlies self ervaar. Vir almal wat dit tref is dit so werklik en dodelik soos ’n aardbewing.

Hoe meer stories ons lees oor Covid-19-lyers wat sterf asof met ’n klip in die bors en hoe meer ons hoor van iemand wat nie meer kon asem kry nie, hoe rooier vlam ons amigdala – ons word hiperbewus van ’n gevaar wat in werklikheid vir die meeste mense baie klein is.

Ons reageer met meer dringendheid op die gevaar van die dood weens Covid-19 as op gevare wat groter is maar ook bekender, en in die proses keer ons die ekonomie op sy kop. Aan die groter gevare, sien u, is ons al gewoond. Dis die nuwe een waarop ons al ons energie fokus.

Om te lees “600 000 kry Covid-19 in SA” of “Nóg 213 sterf” aktiveer ons dierlike breine op ’n heel ander manier as hierdie feit: dat 1% van die bevolking al positief getoets is en dat 1,8% van dié wat die virus opgedoen het, gesterf het.

Of hierdie feit: dat die koers waarteen Covid-19-lyers wêreldwyd sterf op die ou end so laag kan wees as 1 uit 3,3 miljoen.

Ons oorreaksie en ons onvermoë om die gevaar van Covid-19 “wiskundig korrek” te meet, laat ons en ander regerings toe om ons lewens ingrypend en soms onherroeplik te verander.

Ons oorreaksie is irrasioneel. Maar dis klaarblyklik ook die ding wat ons menslik maak.

Meer oor:  Waldimar Pelser  |  Covid-19  |  Wag 'N Bietjie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.