Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Waldimar Pelser: Cyril en die ANC ‘bots’ oor art. 25

Van my beste vriende is optimiste. En hoewel hulle dikwels mank gaan aan galgehumor, soms ietwat naïef is oor die menslike toestand en gans te maklik politici se beloftes vir soetkoek opeet, help hul vrolike geaardheid hulle om deur moeilike dae te kom.

Ek oordeel nie – optimisme is noodsaaklik as ’n mens nie in uitsigloosheid wil wegsink nie en geleenthede in krisisse wil kan sien.

Dit is wel ’n interessante oefening om aartsoptimiste oor landsake uit te vra, veral wanneer dit kom by die Ramaphosa-ANC, wat volgens hulle ’n fundamenteel andersoortige entiteit as die Zuma-ANC is.

’n Mens durf die twee nie in dieselfde asem noem nie. Ramaphosa is, sê hulle, amper ’n indringer in die ANC, ’n profeet wat dié moreel verrotte spul se siele gaan red. Een vir een sal hy hulle bekeer, al vat dit 100 jaar. (Ons het nie 100 jaar nie.)

Wanneer die Ramaphosa-ANC sê niemand mag ’n vuurwapen besit vir selfverdediging nie, hoor die aartsoptimiste die bekommerde stem van ’n welmenende minister wat bloot nie wil hê pa moet ná ’n paar kappe vir ma skiet met die .38 Special in die bedkassie se laai nie.

Die moontlikheid dat so ’n wetswysiging gesinne weerloos kan laat vir misdadigers pla die optimiste nie – hulle bel ADT – en die suggestie dat die ANC al jare soek na maniere om burgers te ontwapen, tref die optimiste as die tipe kwaadwillige samesweringsteorie wat slegs verregses en ander teenrevolusionêres sal propageer.

Wanneer die Ramaphosa-ANC nie net die Zondo-kommissie duld nie maar dit entoesiasties steun, met selfs pres. Cyril Ramaphosa wat getuig, sien die optimiste ’n party in sy Damaskus-oomblik. En dat dit ’n groot oomblik is – veel meer as net terapeuties – glo ek ook.

Maar voor dieselfde kommissie herverbind Ramaphosa hom tot kaderontplooiing. Die ANC skop ook vas teen die DA se eise om die notules te kry van besluite van die ANC se staakskapingskomitee – skuus, die kaderontplooiingskomitee – toe Ramaphosa daarvan voorsitter was.

Volgens die optimiste is dit bloot tekens dat die ANC, wat tydens apartheid geheimsinnig móés wees, maar net sukkel om aan te pas.

Gee hulle kans.

Intussen val elke munisipaliteit onder kaderbeheer uitmekaar.

Wanneer die Ramaphosa-regering boonop goeie vordering in ondersoeke na korrupsie maak, en honderde miljoene rande van korruptes soos die Guptas bevries word, en Magashule swéét, teken die optimiste dié deurbrake aan as bewyse dat die son oplaas hier begin skyn.

En dalk is dit ’n nuwe era; dit verteenwoordig ongetwyfeld vordering. ’n Mens durf dit nie geringskat nie.

Maar op tipies Suid-Afrikaanse wyse gee ons nooit treë vorentoe sonder om ook agteruit te strompel nie, want kyk: dr. Zweli Mkhize, die goeie dokter, se naastes skep miljoene uit Covid-tenders terwyl hy en sy party voortneuk met die nasionale gesondheidsversekeringsplan, wat staatsmag, magsmisbruik en verval in tandem sal laat uitdy.

Intussen sluit Gwede Mantashe, die minister van minerale en energie, 20-jaar-kontrakte vir besoedelende Turkse kragskepe wat weens bewerings van korrupsie reeds in onstuimige vaarwaters is.

Die aartsoptimiste dink die ANC is ’n party wat goeie planne sleg uitvoer, eerder as ’n party wat slegte planne goed uitvoer – ’n party wat as’t ware kudde-immuniteit opgebou het teen infeksie met die feite.

Die aartsoptimiste is dus ook veel minder bekommerd as die res van ons oor die ANC se jongste planne vir die wysiging van art. 25 van die Grondwet – ’n proses wat begin het omdat die RET-faksie van die ANC by Nasrec in Desember 2017 daarop aangedring het, en Cyril nie die stemme had om hulle te keer nie.

Donderdag het Ramaphosa in redelik ondubbelsinnige taal aan joernaliste gesê hy steun nie die EFF se voorstel dat die staat die bewaarder of voog van alle grond moet wees nie. Suid-Afrikaners wil en moet self titelaktes oor hul grond hê om die potensiaal van grond werklik te ontsluit. Om die staat voog van alle grond te maak, is “soos om alles te nasionaliseer,” aldus Ramaphosa.

Sê ons ook mos.

Die president is selfs gekant teen voorstelle om die howe uit die onteieningsproses te sny.

Maar dit was nie net die EFF wat voogdyskap voorgestel het en die rol van die howe wil inkort nie.

Ramaphosa se eie party, die ANC, se jongste voorstel vir die wysiging van die Grondwet lui: “Die staat moet redelike wetgewende en ander stappe doen, binne sy beskikbare hulpbronne, om toestande te bevorder wat staatsvoogdyskap van grond in werking stel en vir burgers om toegang te bekom tot grond op ’n regverdige grondslag.”

Die optimiste sal sê die ANC-lede in die ad hoc-komitee oor art. 25 het bloot nie Cyril se memo gekry dat die party eintlik teen die nasionalisering van grond gekant is nie.

Die res wonder of dit dalk eerder Ramaphosa is wat nie die memo gekry het nie.

Meer oor:  Waldimar Pelser  |  Wag 'N Bietjie  |  Optimisme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.