Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Waldimar Pelser: Cyril is die houtperd waarin die ANC skuil

In sy epos Die Ilias het die Griekse digter Homeros ’n gebeurtenis beskryf waarvan Suid-Afrikaanse kiesers volgens Mmusi Maimane kennis moet neem.

In hul oorlog duisende jare gelede teen die Trojane het die Grieke ’n manier bedink om hul soldate tot in die ommuurde stad van Troje te smokkel ná ’n vrugtelose beleg van tien jaar.

Die Grieke het ’n reuseperd uit hout gebou en toe voorgegee dat hulle wegseil oor die see. Sinon, ’n gladdebek-Griek, het agtergebly om die Trojane ’n gat in die kop te praat: As hulle dié perd in hul stad insleep, sal hulle in staat wees om die Grieke te oorwin, het hy gesê.

’n Priester het luid geprotesteer. Dis ’n truuk! Maar die Trojane wou niks weet nie. Hulle het die pragtige perd as geskenk van die Grieke aanvaar, die stad se poorte oopgegooi en die perd tot in die hart van Troje gesleep.

In die donker nag het die Griekse soldate wat in die buik van die houtperd gewag het, uitgeklim, die stad se hekke oopgemaak, en die slapende Trojane vermoor.

Sondag skryf Maimane in die Sunday Times, by wie ’n 2012-prys vir ondersoekende joernalistiek die afgelope week weggevat is omdat die berig oor moordbendes in Cato Manor ’n spul leuens bevat het, dat Cyril Rama­phosa se juigkommando die verhaal van die Trojaanse Oorlog verkeerd toepas op Suid-Afrika.

Die CR-juigkommando – veral Peter Bruce, die vorige redakteur van Business Day en steeds ’n briljante rubriekskrywer vir dié koerant en in die Sunday Slimes – sê ons moet ANC stem sodat Cyril weer president kan word. Die ANC is die Trojaanse perd en Cyril, die goeie ou, skuil in die perd se maag om die stad nie te kom verower nie, maar Suid-Afrika ná 8 Mei te red.

“Maar hy het dit verkeerd,” skryf Maimane. “Ramaphosa is die Trojaanse perd wat die ANC weer aan bewind moet stel, nie andersom nie.”

Om te glo dat ’n mens vir so ’n organisasie kan stem sodat die staat gesuiwer kan word van korrupsie, getuig van ’n groot desperaatheid.

Die ANC wat danksy Ramaphosa aan bewind gaan kom, sal “nooit opstaan teen die vakbonde nie”, skryf Maimane.

Hy is 100% reg. Die ANC van Ramaphosa bevuil sy parlementslys met leuenaars soos Malusi Gigaba, ontvangers van omkoopgeskenke soos Nomvula Mokonyane en pampoenkoppe soos Bathabile Dlamini. Dieselfde ANC het nog nooit sy geloof herbesoek dat die staat die spil is en moet wees waarom die hele samelewing draai nie, al is die staat so onkapabel, so korrup, en nou ook so bankrot.

Bruce voer aan dat die ANC self nie gered kan word nie (“the ANC itself is beyond redemption”) en dat dié party vrotsig regeer (“nearly 25 years of abject rule”) . . . en dan betoog hy dat net die ANC Suid-Afrika kan red.

Intussen probeer en slaag die ANC al vir 25 jaar daarin om die bevrydingsparty volledig met die strukture van die staat te versmelt. Die ANC se modus operandi, wat so raak beskryf is in Stephen Ellis se boek External Mission: The ANC in Exile (Jonathan Ball, 2012), het die modus operandi geword van ’n staat wat gebou is op en geghries word deur patronaatskap – die uitdeel van buit in ruil vir politieke lojaliteit.

Dit is struktureel onmoontlik vir die ANC om die probleem op te los. Die organisasie – wat baie doelwitte deel met gesofistikeerde misdaadsindikate – sal ineenstort as die geldkrane toegedraai sou word. Daar is gewoon nie ’n genoegsaam samebindende idee behalwe plundery nie.

Om te glo dat ’n mens vir so ’n organisasie kan stem sodat die staat gesuiwer kan word van korrupsie – Rama­phosa se lofwaardige pogings om geselekteerde korruptes te teiken ten spyt – getuig van ’n groot desperaatheid. Dit vereis die oorwinning, soos ek onlangs vir Oscar Wilde aangehaal het, van “hoop oor ervaring”.

Bruce is dalk nader aan die waarheid wanneer hy skryf Ramaphosa is die partyleier wat die beste in staat is daartoe om ’n regering te lei.

Die probleem is net dat terwyl die DA indrukwekkende strukture het maar ’n leier ontdaan aan mag, invloed en visie, het die ANC ’n leier wat in sekere opsigte respek afdwing, terwyl die party van alle morele gesag gestroop is.

Wanneer ’n mens stem, stem jy nie vir ’n individu nie. Die individu dien net solank as wat die party hom of haar duld. Jy stem vir ’n party. ’n Stem vir die ANC is ’n stem nie vir Cyril nie, maar vir die ANC. Cyril is die houtperd. In sy maag skuil ’n gevaar. Behoede ons as die stad se hekke vir die sesde keer vir dié perd oopgestoot word.

Meer oor:  Verkiesing 2019  |  Wag 'N Bietjie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.