Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Waldimar Pelser: Cyril is tuis, maar die ligte brand nie

U ken dalk die sêding dat die ligte brand, maar niemand is tuis nie? In die geval van ons president is dit andersom: Cyril Ramaphosa is terug by die huis uit Egipte, maar die ligte is nie aan nie.

En hy het geen idee waarom nie.

Bog: Óf hy lieg óf hy luister nie wanneer met hom gepraat word nie.

Want dit was Ramaphosa self wat vyf jaar gelede deur oudpres. Jacob Zuma opdrag gegee is om beheer oor te neem oor die regruk van Eskom (asook die Suid-Afrikaanse Lugdiens en die Poskantoor). Hy moes hom van elke stoomketel en ingenieur vergewis sodat “beurtkrag” – die paaiwoord wat sielkundiges sê ons vir kragonderbrekings moet gebruik sodat dit klink na blote goeie maniere en sodat ons nie so depressief raak nie – nooit weer plaasvind nie.

Tog het Ramaphosa dié week verklaar hy is verras deur feitlik elke aspek van die Eskom-krisis wat die vleis in ons vrieskaste laat vrot, die myne laat sluit en verkeersligte uitdoof.

Medupi is eerder die simbool van wat gebeur as kaders die ketels bou.

Maandag, kort voor hy Egipte toe gevlieg het, het Ramaphosa erken hy het die Medupi-kragstasie in Limpopo vir die heel eerste keer besoek. En raai: Hy was verras. Vir ’n party wat daagliks verneder word deur die bewyse van sy eie impotensie, maak grootte klaarblyklik saak: “Ek is getref deur hoe massief dit is,” aldus die ewig verblufte Ramaphosa. “Dis een ding om vertel te word in ’n inligtingsessie dat Medupi, wanneer dit voltooi is, die vierde grootste kragstasie van sy soort in die wêreld sal wees; dis iets heel anders om onder sy toringhoë turbines te staan.”

Maar net soos slaapwandelaars soms per ongeluk in die donker raakvat, het Ramaphosa toe bygevoeg: “In vele opsigte is Medupi ’n gepaste simbool van die belangrikheid van staatsbeheerde ondernemings.”

Waarby ’n mens sou kon voeg: Medupi is ’n simbool van wat gebeur as kaders die ketels bou. Die ANC het naamlik sy beleggingsmaatskappy Chancellor House destyds as swart ekonomiese bemagtigingsvennoot geposisioneer met Hitachi Power Africa, wat miljarde se tenders vir die bou van Medupi se stoomketels gekry het . . . stoomketels waarby ernstige ontwerpprobleme later uitgewys is.

Ramaphosa moes geweet het.

Hy sou ook geweet het dat die hardnekkige probleme by Medupi, asook die feit dat Eskom tien jaar lank volgens Pravin Gordhan “geen” langtermyninstandhouding gedoen het by sy ander steenkoolkragsentrales nie, altyd sou lei tot nog kragonderbrekings – al het hy telkens belowe sake by Eskom is “onder beheer”.

Tog het hy Woensdag gesê hy was “verras en geskok” toe hy tydens sy Vlug na Egipte uitvind die krag is weer af omdat sy regering sedert 2014 op hul hande gesit het.

“Ek het onmiddellik gevoel dit is nodig dat ek my besoek kortknip en na Suid-Afrika terugkeer,” het hy gesê.

Die waarheid is natuurlik dat hy nooit op daardie vliegtuig moes geklim het nie, want Maandag was reeds dag vyf van kragonderbrekings. Dit het hom nie gepla nie, want by sy ampswoning het die kandelare nog geskitter en die elektriese heining nog daai gerusstellende tiek, tiek, tiek gemaak.

Hy het dalk ook sy eie pap beloftes van jare gelede geglo dat alles by Eskom eintlik klopdisselboom is.

Tog het hy Woensdag die vermetelheid gehad om Eskom se bestuur daarvan te beskuldig dat hulle nie met die nodige “dringendheid” op die krisis gereageer het nie.

Dringendheid is ’n woord wat Cyril nie kan spel nie.

Reeds in Maart 2015, herinner Gareth van Onselen ons in ’n skrywe Vrydag, het Ramaphosa in die parlement gesê: “Ja, ons kan sê daar is lig aan die einde van die tonnel. Soos ons almal weet, het Eskom uitdagings, maar dit word aangespreek.”

Niks is gedoen nie.

In Junie 2015 het Ramaphosa die nasie weer gepaai: “Aansienlike vordering is gemaak om Eskom reg te ruk . . . Ons moet die mite verdryf dat die mense wat staatsbeheerde ondernemings bestuur, onbevoeg is om dit te doen.” Hierna, herinner Van Onselen ons, is Brian Molefe as Eskom se uitvoerende hoof aangestel.

Toe hy daarom Woensdag Eskom-werkers se verlof kanselleer sodat die nodige gedoen kan word om “seker te maak ons raak van beurtkrag ontslae”, en toe hy ’n pleidooi rig vir meer “aanspreeklikheid”, het almal wat weet vir hom gelag.

Nee, meneer die president. Ons glo nie jy is ernstig nie. Ons glo nie jy besef hoe groot die krisis is nie vir Suid-Afrikaners wie se besighede in duie stort sonder staatshulp, want die SAL en Eskom wat julle die grond in bestuur het, het die staatshulp opgebruik.

Mondli Gungubele, lid van die ANC se nasionale uitvoerende komitee en voormalige adjunkminister van finansies, het die moed gehad om aan Fin24 te erken: “Ons was vas aan die slaap. Dis óns wat Eskom opgemors het. Dit het op ons wagbeurt gebeur.”

Kan iemand asseblief ’n flits in Cyril se gesig skyn, hom wakker maak, en vir hom verduidelik wat aanspreeklikheid en dringendheid beteken?

Meer oor:  Waldimar Pelser  |  Wag 'N Bietjie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.