Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Waldimar Pelser: Cyril kies tyd fyn; als gebeur nie in week 3

Dat Jacob Zuma Woensdag die ANC se eerste NUK-vergadering van 2018 oorleef het sonder om herroep te word, en dat Cyril Ramaphosa Maandag gesê het grond “sál in die hande van die mense geplaas word”, bewys nie dat dit vorentoe net afdraande vir Suid-Afrika is nie.

So graag as wat baie van ons wil sien hoe Zuma sy Tuynhuys-kantoor ontruim, en so onwys as wat dit wel is om die reeds kritieke beleidsonsekerheid oor grondregte verder te vererger, kan ’n mens die week se gebeure ook deur die bril van interne ANC-politiek bekyk. Dan lyk sake bietjie anders.

Dat Zuma nog president is, is nie, soos wat Phumzile van Damme van die DA Donderdag geskryf het, ’n “bewys dat Ramaphosa dieselfde is (as Zuma)” nie, al is hy op betekenisvolle maniere wel dieselfde. Albei is immers gemarineer in die ANC se modus operandi van kaderontplooiing en albei besit die universele eienskap wat alle politici besit, naamlik die begeerte om in hierdie geval aan te hou regeer.

Dit sal ’n mistasting wees om nie ook te vra in watter opsigte Ramaphosa anders is as Zuma nie, en hiervan is daar volop voorbeelde. Daar is byvoorbeeld rede om te glo Ramaphosa verstaan regtig hoe ’n markekonomie werk. Hy weet hoe om ’n maatskappy te bestuur. Geen skandaal kleef aan hom nie (ek beskou sy optrede by Marikana nie as ’n skandaal nie). Hy was gans te stil oor korrupsie op Zuma se wagbeurt, maar daar is geen rede om te glo hy sal die geplunder van die Zumaïete toelaat as hy die dag oorneem nie.

Dat Zuma nog president is, wys dalk eerder dat Ramaphosa sy tydsberekening versigtig kies sodat hy met die uiteindelike optrede teen Zuma nie sy eie vyande binne die party vermenigvuldig nie, maar hulle eers probeer oorhaal en neutraliseer voor hy doen wat “die markte” wil hê hy moet doen: draai die NUK teen Zuma; vervang ’n groot aantal kabinetsministers; stel ’n onafhanklike direkteur van openbare vervolging aan; maak skoon by die Suid-Afrikaanse Inkomstediens en – belangrik – by die staatsbeheerde entiteite soos Eskom.

Ek sê nie dit is gewaarborg dat hy uiteindelik al hierdie “regte” dinge sal doen nie, net dat hy dit nie kan doen sonder om sy mag in die NUK eers te konsolideer nie. Dít gebeur nie in week drie al nie.

Grond is in ’n mate (bloot) ’n simbool van wat ANC-kiesers vra: ekonomiese insluiting, bates, lewensmiddele.

Dieselfde aweregse, minder alarmistiese perspektief sou gehandhaaf kon word ten opsigte van Ramaphosa se woorde die afgelope week oor grond.

Ramaphosa het Maandag by die Ohlange High School in Inanda, KwaZulu-Natal, gesê: “Die grond sal inderdaad teruggegee word. Ons gaan daardie grond vat en dit in die hande van ons mense plaas, of hulle nou daarvan hou of nie. Dit sál gebeur.”

Vir die besware en bekommernisse van die georganiseerde landbou moet ons net die grootste simpatie hê, want daar is min groeperinge in hierdie land wat meer geredelik politieke slaansakke is as boere.

Maar ons gaan ons reaksie op die eerste dae van die Ramaphosa-era alleenlik korrek kan formuleer as ons probeer verstaan wat Ramaphosa poog om reg te kry, en wie hy met sy onverantwoordelike gesmous met grondbeloftes probeer bereik.

Sy boodskap Maandag was gerig op Zuma se eie steunbasis in KZN, kiesers sonder wie die ANC nie in 2019 die pyp kan rook nie. Hy wil hê dié kiesers moet hul spreekwoordelike spiese, lank­al vir Cyril geslyp, laat sak. Die ANC glo dat hierdie kiesers na radikale oplossings hunker vir hul probleme, wat insluit nypende armoede, swak dienslewering, skole in verval, en power vooruitsigte vir hul kinders.

Dit is moeilik om iemand van 50 jaar oud ’n opvoeding te beloof. Dit is makliker om ’n ongeletterde, landelike ANC-kieser grond te beloof, al laat die wet jou nie toe om grond vir daardie kieser te gee nie.

Grond is in ’n mate (bloot) ’n simbool van wat ANC-kiesers vra: ekonomiese insluiting, bates, lewensmiddele.

Die besit van landbougrond, wat vir die meeste kommersiële boere sowel ’n kopseer as seën is, is simbolies van ’n ekonomie waarin wit mense steeds veel meer besit en verdien as swart Suid-Afrikaners.

Daar word van Ramaphosa as ANC-president verwag om sterk hieroor standpunt in te neem.

Maar Ramaphosa het ook raakgesien dat baie plase wat sedert 1994 oorgedra is aan swart eienaars “in onbruik” verval het. Grondhervorming móét lei tot die produktiewe gebruik van grond, het hy benadruk. Hy soek ook dringend ’n studie oor hoe en of landbougrond wat danksy grondhervorming nuwe eienaars gekry het, gebruik word. “Kom ons bewerk die grond. Kom ons demonstreer eers aan onsself dat ons die grond kán bewerk.”

Ek bepleit nie ’n vrypas vir Cyril nie. Ek vertrou hom nie juis nie. Net dat ons onthou hy is ’n politikus en nie ’n wonderwerker nie en dat daar aanduidings is dat hy werk met ’n plan.

Meer oor:  Waldimar Pelser  |  Wag 'N Bietjie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.