Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Waldimar Pelser: Cyril moet kies wie hy gaan vernietig

Ace Magashule se broek bewe seker noudat die ANC se integriteitskommissie sy melktandjies vir hom gewys het.

Die kommissie, met min invloed, het Magashule in ’n brief deur sy voorsitter, George Mashamba, vir ’n oudiënsie gevra om te verduidelik waarom hy in ’n TV-onderhoud gesê het hy sal nooit as sekretaris-generaal van die ANC bedank weens aanklagte van korrupsie teen hom nie.

Magashule het in daardie onderhoud hardop gesê wat baie ANC-kaders dink: Waarom moet hulle vir die geringe “misdaad” van korrupsie boet as geen van diegene wat die veel groter misdaad van apartheid gepleeg het dan agter tralies is nie?

Nietemin: Mashamba se brief volg op pres. Cyril Ramaphosa se waarskuwing aan ANC-lede laas Sondag dat dit nou tyd is om in die lig van soveel woede oor Covid-19-tenderbedrog die party se besluit van ’n paar jaar gelede te implementeer om almal in die party wat by korrupsie betrek word, vas te vat.

Ons word vertel dat hierdie naweek se spesiale vergadering van die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) die goeie ouens in die Ramaphosa-ANC uiteindelik die kans gee om te wys wie’s baas, en dat die versoek aan Zandile Gumede om haar pos as LPW in KwaZulu-Natal te ontruim, net die begin is.

Vir Ramaphosa om te wys hy’s baas, sal hy moet breek met ’n tradisie van straffeloosheid in ’n party wat een ding oor korrupsie sê maar ’n ander ding doen – én hy sal bereid moet wees om daarvan beskuldig te word dat sy veldtog polities is.

Die integriteitskommissie is reeds in Maart 2013 gestig ná ’n besluit in 2010, kort nadat Jacob Zuma se plundertog met volle goedkeuring van die ANC op dreef begin kom het.

Sonder die inkoop van ’n paar A-klas-skurke sou Ramaphosa nooit ’n meerderheid kon behaal...

In 2012, op dieselfde Mangaung-kongres waar Zuma met ’n groot meerderheid herkies is tot ANC-president, het die party ’n resolusie aanvaar dat integriteitskommissies op alle vlakke van die party nodig is.

“Meer dringende stappe moet gedoen word om die beeld van die organisasie te beskerm en sy statuur in die samelewing te bevorder deur . . . te verseker dat dringende stappe gedoen word teen ampsdraers, leiers en lede van die ANC wat deur skadelike aantygings van onbehoorlike optrede in die gesig gestaar word,” is besluit.

“Stappe moet ook gedoen word om die misbruik van mag en openbare ampte vir eie gewin of ter wille van faksies te keer. Die ANC kan nie langer toelaat dat uitgerekte prosesse sy integriteit in twyfel trek nie.”

In die agt jaar ná dié besluit het die ANC die versmelting van party en staat voltrek en die staatsburokrasie met kaderontplooiing vernietig.

Nou is dit 2020, en dié keer gaan dinge anders wees, sê Ramaphosa.

Ramaphosa, wat Zuma se vergrype destyds geduld het, en op wie se wagbeurt vermeende VBS-kroeks pas in hul poste in Limpopo herstel is, het met sy kwaai brief gewys die keerpunt is hier – ’n brief aan gewone partylede waarin hy self vir geen ANC-vergrype pa staan nie.

Kom ons temper ons verwagtinge.

Magashule self lei die proses om naamlyste saam te stel van partylede wat betrek word by korrupsie en wat die NUK gevra sal word om die naweek te oorweeg, berig News24. Dit verhoog die risiko vir Ramaphosa dat die lyste nie net name sal bevat van lede van die sogenaamde radikale ekonomiese transformasie (RET)-faksie wat rondom Magashule mobiliseer nie, maar ook die name van mense danksy wie se steun Ramaphosa in 2017 by Nasrec verkies is.

Sonder die inkoop van ’n paar A-klas-skurke sou Ramaphosa nooit ’n meerderheid kon behaal in ’n party wat danksy patronaatskap en tenderbedrog steeds aan bewind is nie.

Die Magashule-kamp weet dit en het die afgelope week by monde van die oud-ANC-raadslid Andile Lungisa by voorbaat geëis dat die miljoene rande wat in 2017 na Ramaphosa se presidentsveldtog gevloei het, ook bekyk moet word.

Dié faksie betoog dat almal skuldig is, ’n punt wat in 2016 ook gemaak is deur Bathabile Dlamini, toe nog ’n minister, wat in New York aan die SAUK gesê het: “Dit is die ANC wat belangrik is. Want as ’n mens begin om vuil wasgoed buite op te hang, gaan die ander sê ‘jy ook het dit en dat gedoen’. Almal van ons in die NUK het ons smallanyana skeletons.”

’n Lid van die RET-faksie het die afgelope week aan News24 se Qaanitah Hunter gesê: “Hulle (Ramaphosa se kamp) probeer ons een vir een uithaal maar hulle gaan nie wen nie. Die werklikheid is dat almal betrokke is op een of ander manier, insluitend die top-ses-leierskorps.”

Ramaphosa, wat in 2017 gesê het hy sal liewer as ’n “swak president” gesien word as om die ANC te skeur, moet dus nou kies: Óf hy vernietig albei faksies in wat Stephen Groottes beskryf het as ’n “sirkelvormige vuurpeloton” waarin almal met beskuldigings en bewyse losbrand op mekaar, óf hy gebruik die oomblik van woede oor Covid-19-tenderbedrog om die boeffaksie uit te knikker terwyl die publiek kwaad genoeg is om hom vir die politieke motiewe daaragter en die politieke voordele daarvan te vergewe.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.