Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Waldimar Pelser: Cyril stuur dié wat hul sê sê in hul moer

Die versoeking is groot om Julius Malema, oftewel “Kidi Amin”, as die grootste bedreiging vir die toekoms van ons land te sien.

Selfs voordat die EFF in 2013 in haat ontvang en gebore is, het Malema die simbool geword van radikale linkses se waansinnige romantisering van Wladimir Lenin en sy Bolsjewiste, wie se retoriese en politieke gereedskap Malema in die Rusland van 1917 gaan opdiep het om te kyk of dit in ’n moderniserende, verdeelde Suid-Afrika kan werk.

Hy is nie die EFF-leier nie, hy is die “opperbevelvoerder”. Sy lede, herinner Tom Eaton ons Vrydag in sy Times-rubriek, is “vegters”. Rooi barette word aangetrek in diens van die fiksie van ’n naderende revolusie. Swart mense wat die EFF durf teengaan, is “teenrevolusionêr” en wit mense moet afgeslag word – net nie nou nie. Ironies, natuurlik, is dat die vernaamste verskoning vir Malema se “revolusie” kwansuis die besef onder die massas is dat die heersende ekonomiese krisis ondraaglik geword het – ’n krisis wat eksponensieel vererger is deur Jacob Zuma, in wie se naam Malema eens gedreig het om die wapen op te neem.

Saterdag het Malema toe die wapen opgeneem – letterlik. In die Sisa Duka-she-stadion naby Oos-Londen het die aspirant-tiran by die EFF se vyfde verjaarsdagvieringe ’n AK47 (of iets soortgelyks) by sy wit sekuriteitswag gevat en wild in die lug begin skiet, asof hy wil demonstreer wat hy by herhaling al gesê het: Die tyd vir mooipraat is verby.

In ’n eg Orwelliaanse toneel het Mbuyiseni Ndlozi, die EFF se publisiteitskommissaris, agterna gesê dit was ’n speelgoedgeweer. Dis tipies EFF om te wil hê ons moet dink dit wat eg is, is vervals, en dit wat net skyn is, eg.

Die moeë Cyril se amper presidensiële vertoning op die SAUK maak ’n bespotting van die openbare sittings .

Dit was ’n stuk holruggeryde geweldspornografie wat as sexy protesteater paradeer. Waar daardie koeëls sou val, het Malema min geskeel.

Hy wou wys hy is onaantasbaar. En sover is hy. Hy wil wys hy is bo die gereg verhewe. En sover los die nasionale vervolgingsgesag (NVG) hom uit. Hy wil wys hy sal moor om sy sin te kry – al kry hy tot dusver sónder die gebruik van dodelike geweld sy sin.

Die hulpelose ANC, wat dit nie regkry om sy beloftes aan sy eie kiesers na te kom nie, implementeer al vir maande een ná die ander van die beloftes in die manifes van die EFF, wat kwansuis sy opponent is: Eers was dit gratis hoër onderwys (implementering is, soos met bykans alles waaraan die ANC raak, ’n ramp), toe die herroeping van Jacob Zuma (goeie een!), en, oplaas, grond.

In die nanag van Dinsdag het Ramaphosa aangekondig die ANC sál danksy die EFF se 25 parlementêre stemme die Grondwet verander (saam het hulle 274), en nie wag totdat die parlement sy openbare deelnameproses oor grondonteiening sonder vergoeding voltooi het nie.

Die moeë Cyril se amper presidensiële vertoning op die SAUK maak nie net ’n bespotting van die openbare sittings nie – waar beleidmakers tog nooit kon hoop om nugter, implementeerbare voorstelle te hoor nie – dit stuur ook die honderdduisende bekommerde Suid-Afrikaners wat beswaarskrifte, petisies en ander geskrewe voorleggings by die parlement ingedien het, in hul moer.

So, terwyl Malema sy koeëls (sover) letterlik in die lug op skiet, en retories die bloed laat vloei, rig die ANC en sy “sakevriendelike” president húl wapens op die ekonomie. En die ANC se korrel is hier sekuur: Eskom bloei dood; die treinstelsel en SAL is terminaal; Sassa beswyk aan selftoegediende wonde; Sanral is aan lewensondersteunende masjiene gekoppel, en 8,9 miljoen werkloses voer ’n daaglikse oorlewingstryd.

Ná jare van wanbestuur dobbel die ANC nou met eiendomsreg, die fondament van elke markekonomie. In hul magsdronk dors na ’n sege in 2019 skep die ANC ’n ekonomiese krisis wat hy aanhou sê ’n oplossing is.

Geen arm mens is al ooit sonder ’n werk en ’n titelakte volhoubaar uit armoede opgehef nie. Wat die ANC nou beoog, vernietig die vooruitsigte van werkskepping vir jare, sonder dat dit enige geloofwaardige planne aan grondloses bied wat nie ook die risiko loop om beleggings tot stilstand te bring en die landbou te ontwrig nie.

Terwyl gesaghebbende peilings wys Suid-Afrikaners soek werk lank voordat hulle grond soek, buig die ANC na die wil van die radikale EFF.

Eerder as om morele leierskap as teenmiddel vir die EFF se goedkoop rasnasionalisme aan te bied, bied die ANC toegewing op toegewing vir die radikales aan, wie se planne vir die land die probleme sal vererger wat Malema én Ramaphosa hoog en laag sweer hulle eintlik wil oplos.

Meer oor:  Grondwet  |  Wag 'N Bietjie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.