Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Waldimar Pelser: Cyril wil dobbel en die res van ons drink

Dit was ’n week van dronk raak op hoop, en ’n babelas wat die jolytmakers nie sien kom het nie.

Die eerste sjampanjeproppe wat geskiet is toe die ANC aankondig wie sy nuwe president is, was dié van SA (Edms.) Bpk.

“In die verkiesing van Cyril Rama­phosa verwerp die ANC amptelik korrupsie, onbevoegdheid en staatska­ping,” het die baas van die batebestuurders Sygnia, Magda Wierzycka, om 17:56 op Twitter geskryf. “Dit gee my soveel hoop vir die toekoms! Vanaand kry ons Suid-Afrika terug. Die uitdagings is veelvuldig, maar vanaand is dit tyd om sjampanje oop te maak!”

Eerbiedwaardige ontleders het olie op die liggies histeriese Wierzycka se vuur gegooi. Dit was ’n “magiese oomblik” vir die republiek en sy mense.

Een van die min opposisieleiers wat mag werklik verstaan, het teen 19:40 ’n nugterder oordeel gevel nadat ook die ander vyf name van die ANC se topses bekend gemaak is: “Niks het werklik verander nie, die kern van die korrupte premiersliga is in die middelpunt van die organisasie. Die Guptas is steeds in beheer en daarom sal dit moeilik wees om Zuma te herroep. Moenie so maklik opgewonde raak oor niks nie maar ek’s tog bly die Zuptas is verneder,” het Julius Malema geskryf.

Want naas Ramaphosa het Ace Magashule gestaan, die nuwe sekretaris-generaal, vir wie se foute Ramaphosa besluit het om hom blind te hou deur beswaarmakers te ontmoedig om teen Magashule se verkiesing te litigeer.

Die insluiting van mense soos Collen Maine, Nathi Mthethwa, Bathabile Dlamini, Lindiwe Zulu en Mosebenzi Zwane op die lys van 80 lede van die ANC se nuwe nasionale uitvoerende komitee (NUK) was verdere aanduidings daarvan dat die nuwe dagbreek waarin Wierzycka en kie goedkoper dollars sien glinster het, net ’n droom was.

Of was dit? Vir wie is Ramaphosa en die nuwe ANC-leiers se verkiesing goeie nuus?

Dis bietjie soos om vir jou eggenoot te sê hy of sy kan rondslaap, solank hulle nie op die ander persoon verlief raak nie.

Ramaphosa is immers een van “hulle” – ’n magnaat wat die markte verstaan. Sy weersin in korrupsie lyk eg. Daar is tekens dat hy skelms soos Magashule in die topses behou het op voorwaarde dat hulle hom sal toelaat om ’n onafhanklike direkteur van openbare vervolging (NDOV) aan te stel wat vroeg in die nuwe jaar kan besluit om weer die 783 klagte van korrupsie, geldwassery en rampokkery teen pres. Jacob Zuma in te stel.

’n Onafhanklike NDOV se besluit, wat nie deur Ramaphosa verander kan word nie, kan hom ’n ideale kans bied om die NUK te vra om Zuma as president van die land te herroep.

’n Voorlopige analise van die politieke lojaliteite in die NUK, en kommer in selfs die anti-Ramaphosa-kamp dat kiesers in 2019 teen die ANC kan draai, wys dis nie onmoontlik dat die nuwe NUK Ramaphosa sy sin sal gee nie.

Met sy “eenheidsboodskap” aan kamerade mik Ramaphosa om politieke kapitaal te versamel wat hy wil gebruik om Zuma se greep te breek.

Ironies genoeg was die ander fokus van Ramaphosa se eerste vyf dae die aankondiging van presies daardie radikale ekonomiese beleid waarvoor teenstanders in die Dlamini-Zuma-kamp en die EFF vra.

Terwyl Ramaphosa dus enersyds sy mag binne die party vroeg al probeer konsolideer, was die aankondiging oor konfiskering van grond ’n duidelike poging om die EFF se populistiese beleidsterrein te betree en die party daarom óf onnodig te maak as ’n koalisievennoot in 2019 (deur self goed te presteer), of noodsaaklik (deur onder 50% van die stemme te kry).

Die EFF het al by herhaling gesê hy sal ’n koalisiepakt met die ANC sluit sodra Zuma waai en grondonteiening sonder vergoeding ANC-beleid word.

Die ANC onder Cyril Ramaphosa is op die punt om dus nie net erns te maak met die stryd teen korrupsie soos wat so baie Suid-Afrikaners eis nie – insluitend Wierzycka en Malema – maar ook vir Malema te gee wat hy nodig het om die ANC se versekeringspolis in die 2019-verkiesing te wees.

Ramaphosa het die markte geskok deur die beoogde verandering aan die Grondwet se kernbelangrike eiendomsklousule te steun. Ek word nie gerusgestel deur sy belofte dat grondroof moet gebeur “sonder om die ekonomie, landbouproduksie of voedselsekerheid te ondermyn nie” – dis bietjie soos om vir jou eggenoot te sê hy of sy kan rondslaap, solank hulle nie op die ander persoon verlief raak nie. Met ander woorde, dis ietwat van ’n gamble.

Maar hy pantser homself met sy dade sover teen kritiek vanuit die ANC se linkervleuel en die EFF dat hy ’n skoothond van (wit) monopoliekapitaal is.

Hy is reeds gepantser teen die aanslae uit ander oorde dat hy korrupsie nie takel nie.

Onthou dat Ramaphosa versigtig moet trap totdat hy president word van die land. Hy móét breë steun in die ANC behou.

Hy speel sy kaarte egter só dat die ANC in 2019 byna gewaarborg is van sukses nie net in Gauteng nie, maar ook landwyd, en skielik lyk ’n ANC-EFF koalisie heelwat meer waarskynlik as ’n sentristiese DA-ANC-pakt.

Drank, enigiemand?

Meer oor:  Wag 'N Bietjie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.