Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Waldimar Pelser: Daar ís redes vir al die woede, sê Obama

Barack Obama het duisende mense met gewapende hommeltuie in veraf diktature gedood maar versuim om in Sirië in te gryp ná Basjar al-Assad se gebruik van chemiese wapens. In sy agt jaar in die Withuis as Amerika se eerste swart staatshoof het rasseverhoudinge ook verswak: “Black Lives Matter”, wat ontspring het uit legitieme woede oor die polisie se soms dodelike optrede teen swart mans, maar wat ook geput het uit – en momentum gegee het aan – ’n toksiese nuwe identiteitspolitiek, het in die Obama-jare wasdom bereik.

Dié identiteitspolitiek het ’n eggo gevind in die fenomeen van Donald Trump wat energie sou tap uit middelklaswitmense se belewing van ekonomiese stagnasie en kulturele vervreemding. Die vervreemdes het iemand gesoek wat op welke kru manier ook al vir hulle sou opstaan.

Op Obama se wagbeurt is spraakvryheid op universiteitskampusse in die naam van maatskaplike geregtigheid knou op knou toegedien. Heterodokse menings is al hoe meer gereeld op kwasi-outoritêre manier verbied.

Só sou mens kon aangaan. En tog het Obama in sy Mandeladagtoespraak Dinsdag ’n rare insig getoon in die klimaat van ons tyd. Om met begrip oor die zeitgeist te dink en praat is ’n rariteit, ook in Obama se eie party. Hul presidentskandidaat het mos in 2016 na ondersteuners van haar teenstander verwys as ’n “basket of deplorables”.

Ja, Obama het Dinsdag na “sterkmanne” gekap en dié, soos Trump, wat gewoon geen ontsag het vir feite nie. Maar hy het ook gewys hy verstaan iets van dit wat die Trump-kieser kwel.

“Dié identiteits- politiek het op sy beurt ’n eggo gevind in die fenomeen van Donald Trump.”

Hoewel hy begin het deur te dokumenteer hoeveel “vryer, gesonder, ryker, minder gewelddadig en meer verdraagsaam” die mensdom geword het in die 100 jaar sedert Mandela se geboorte – op sigself ’n dapper ding om te doen, aangesien ’n mens deesdae net werklik “progressief” is as jy woedend is oor die ontsaglike omvang van onreg – het hy hom ernstig bemoei met die vraag: Waarom soveel woede?

Obama gaan soek deels antwoorde in hardnekkige rassediskriminasie en “bevoorregting”, en karteer hoe die tegnologiese revolusie bykans ongehoorde ekonomiese ongelykheid selfs in ryk lande gebaar het.

“Vir eens soliede middelklasfamilies in gevorderde ekonomieë soos Amerika het hierdie tendense groter ekonomiese onsekerheid gebring, veral vir dié sonder spesialisvaardighede, mense in vervaardiging, mense wat werk in fabrieke, mense wat werk op plase.”

Baie van dié mense in Amerika het in 2016 vir Donald Trump gestem.

“Terwyl sommige Westerse kommentators die onafwendbare triomf voorspel het van liberale demokra- sie . . . het so baie van hulle die tekens van ’n groeiende teenreaksie gemis.”

’n Teenreaksie soos Trump.

Eers van links en toe uit die regtervleuel het politieke bewegings “die ongemak begin tap van baie mense buite die stadskerns; vrese dat ekonomiese sekerhede erodeer; dat hul maatskaplike status en voorregte verweer; dat hul kulturele identiteite bedreig is deur buitestanders, mense wat nie soos hulle gelyk of geklink of gebid het nie”.

Dié onvergenoegdes het vertroue in die beloftes van eksperts verloor, sê hy.

Hierdie onvergenoegdes het ook vir Brexit gestem. In Suid-Afrika hou die onvergenoegdes hulle doof vir die moontlike gevare van onteiening sonder vergoeding. Mense is raadop.

“Ons gaan ons moet bekommer oor die ekonomie as ons demokrasie wil herstel,” aldus Obama.

Hy predik insgelyks oor die reg om jou kultuur uit te leef; hy predik die beskerming van minderheidsregte; hy bepleit empatie met mense oor die wêreld heen wat “gedisoriënteer” voel weens hierdie mallemeule-era se snelle pas van verandering. “Ons sal maniere moet vind om die vrese te verminder van diegene wat bedreig voel. In die Weste se debatte oor immigrasie, byvoorbeeld, is dit nie verkeerd om daarop aan te dring dat grense saak maak nie . . . dat nuwelinge moeite moet doen om aan te pas by die taal en gebruike van hul nuwe tuiste nie. Dit is legitieme dinge en ons moet in gesprek kan tree met mense wat voel dinge is nie ordelik nie.”

Om demokrasie te laat werk moet ons voorts met diegene kan praat van wie ons verskil. “Dalk kan ons hulle van mening laat verander; dalk sal hulle ons oorreed. En jy kan dit nie doen as jy van meet af aan verwerp wat jou teenstander sê nie. Ook nie as jy glo dat daar geen manier is hoe diegene wat anders as jy is – omdat hulle wit is, of manlik – kan verstaan wat ek voel nie, dat hulle die reg ontbreek om oor sekere dinge te praat nie.

“Diegene wat met absolute waarhede smous wanneer dit kom by beleid, hetsy aan die linkerkant of die regterkant, maak demokrasie onwerkbaar.”

Obama is geen Mandela nie. Maar hy probeer ten minste verstaan waarom Amerikaanse kiesers in 2016 besluit het om sy termyn van agt jaar met ’n Trump-sege te repudieer.

Meer oor:  Barack Obama  |  Wag 'N Bietjie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.